Suid-Afrikaners het nie geweet of hulle moet lag of huil nie toe foto’s en video’s die afgelope week oral verskyn het van oudpresident Jacob Zuma wat saam met die voortvlugtige sakeman Ajay Gupta by ’n Hindoe-tempel in Haridwar, Indië, kuier.
In ’n voorval wat die land geskok en laat praat het, kon Suid-Afrikaners skaars hul oë glo. Die beeldmateriaal, wat vinnig oor sosiale media en nuusplatforms versprei het, wys Zuma in tradisionele drag by die Sidipeeth Shri Dakshin Kali-tempel. Langs hom staan Ajay Gupta – een van die berugte Gupta-broers wat deur Suid-Afrikaanse owerhede as ’n voorvlugtige beskou word.
Saam met hom was Suid-Afrika se hoë kommissaris in Indië, Anil Sooklal, wat dit nog meer bisar maak, asook Zuma se vertroueling Mzwanele Manyi.
In video’s wat tydens die besoek geneem is, noem Zuma vir Gupta sy “brother and friend” en bedank hom vir die gasvryheid. Hy het ook gesê dat hy ’n spesiale geestelike seën ontvang het en glo dat hy die volgende algemene verkiesing sal wen. Die besoek het plaasgevind te midde van landwye antiimmigrantbetogings en net ná president Ramaphosa se jongste kabinetskommeling.
Die Gupta-familie – Ajay, Atul en Rajesh – bly sinoniem met een van die grootste korrupsieskandale in Suid-Afrika se demokrasie. Volgens die Zondo-kommissie het hulle, met die hulp van invloedryke figure binne die Zuma-administrasie, die staat stelselmatig gekaap. Miljarde rande in staatskontrakte by entiteite soos Eskom, Transnet en ander is glo aan Gupta-gesinde maatskappye toegeken, terwyl die land se ekonomie en dienslewering swaar gely het.
Die broers het in 2017–2018 gevlug. Ajay Gupta word steeds aktief deur Interpol gesoek op aanklagte van korrupsie, bedrog en geldwassery. Die feit dat hy nou openlik in Indië verskyn en saam met ’n voormalige staatshoof poseer, het ernstige vrae laat ontstaan oor die doeltreffendheid van internasionale samewerking en die soektog na hom.
Die DA het vinnig en skerp in ’n verklaring gereageer. Hulle het die minister van Internasionale betrekkinge, Ronald Lamola, versoek om dringend antwoorde te gee. “Hoe is dit moontlik dat ’n amptelike verteenwoordiger van die Suid-Afrikaanse regering die rooi tapyt uitrol vir ’n voortvlugtige wat die land se hulpbronne geplunder het?” wou hulle weet. Die DA beskryf die voorval as ’n “belediging vir die mense van Suid-Afrika”.
Die Ahmed Kathrada-stigting het ook sy misnoeë uitgespreek en gesê hulle is “diep verontrus” dat Zuma homself openlik assosieer met iemand wat direk betrokke was by die plundering van die staat.
Die ANC se Fikile Mbalula, sekretaris-generaal van die party, het ook skerp kommentaar gelewer. Mbalula het Zuma daarvan beskuldig dat hy die land se regstelsel en wetstoepassingsagentskappe ondermyn deur openlik met ’n voortvlugtige te assosieer. Volgens Mbalula is dit ’n klap in die gesig vir al die werk wat gedoen word om diegene wat by staatskaping betrokke was, verantwoordelik te hou. Hy het beklemtoon dat sulke aksies die ANC se pogings om korrupsie uit te roei, skaad, en aan die donker dae van die Zuma-era herinner.
Gedleyihlekisa went to go meet with the Guptas who are fugitives of the law in South Africa. Spitting in the face of our law enforcement agencies. Instead of partying up a storm with runaway criminals, Jacob Zuma should inform the government where are these people who almost… pic.twitter.com/aKthbN8Csl
— ANC SECRETARY GENERAL | Fikile Mbalula (@MbalulaFikile) July 1, 2026
Die MK-party het die besoek verdedig as ’n “private godsdienstige pelgrimstog” en die kritiek as polities gemotiveerd afgemaak. Hulle hou vol dat Zuma die reg het om sy geloof vryelik uit te oefen sonder inmenging.
Op sosiale media was die reaksie oorweldigend. Baie gebruikers het sarkasties opgemerk: “Hy is te siek om hof toe te gaan, maar nie te siek vir ’n reis na Indië nie.” Ander het gevra of die besoek moontlik met fondsinsameling vir politieke aktiwiteite verband hou.
Vir miljoene Suid-Afrikaners voel hierdie nuus soos ’n bitter pil. Terwyl die land worstel met daaglikse uitdagings soos xenofobiese spanning, misdaad en ekonomiese druk, herinner die beelde van Zuma en Gupta mense aan een van die grootste rooftransaksies in die geskiedenis van die land se jong demokrasie.
Of die besoek bloot geestelik van aard was of dieper motiewe gehad het, een ding is seker: Jacob Zuma se bande met die Gupta-familie bly ’n politieke mynveld wat nog ver van ontlont is. Die debat woed voort, en baie wag nou gretig op amptelike antwoorde van die regering en internasionale owerhede.
- Lokprent deur Siva prasad van Pixabay
