Die stof weier om te gaan lê oor die Departement van Sport, Kuns en Kultuur se besteding van meer as R30 miljoen tydens die 2026 FIFA Wêreldbeker in Noord-Amerika.
Ondanks verduidelikings deur minister Gayton McKenzie neem openbare verontwaardiging en politieke druk daagliks toe oor wat kritici as nn “spandabelrige verkwisting” beskryf te midde van ernstige nasionale finansiële druk.
Die kontroversie het ontplof nadat besonderhede bekendgemaak is in nn skriftelike parlementêre antwoord aan die DA-LP Leah Potgieter. Volgens die amptelike dokumente het McKenzie se departement presies R30 945 370,15 bestee aan Suid-Afrika se betrokkenheid by die toernooi in die VSA, Kanada en Mexiko.
Die geopenbaarde syfers toon dat die staatsgeld aan ’n verskeidenheid luukse en promosie-aktiwiteite bestee is:
- Reis en verblyf: Sowat R7,86 miljoen is aangewend vir ’n kerndelegasie van 18 departementele amptenare.
- Bafana Bafana-legendes: Befondsing vir ’n vertoonwedstryd met 27 sokkerhelde uit die 2010-era.
- Besoekers en vermaak: Gasvryheidsuites en 294 toeskouerkaartjies.
- Kulturele aksies: Optredes deur ongeveer 30 Suid-Afrikaanse kunstenaars in stede soos Mexikostad, Atlanta en Monterrey.
McKenzie het self erken dat sy persoonlike reis- en verwante uitgawes meer as R1 miljoen beloop het. Hy het egter benadruk dat private borge genooi is om baie van die aanhangers en beïnvloeders se kostes te dek sodat die staat se finansiële las beperk kon word.
Die openbaarmaking het ’n storm van kritiek ontketen van opposisiepartye, wat aanvoer dat die departement se prioriteite heeltemal uit voeling is met die Suid-Afrikaanse werklikheid.
“Ons het twee keer vantevore inligting oor hierdie reis gevra en elke keer vae antwoorde ontvang. Hierdie gebrek aan deursigtigheid suggereer dat daar iets erg problematies aan die gang is,” het Leah Potgieter gesê.
Die DA eis nou ’n volledige finansiële ontleding, insluitend alle stawende fakture en die amptelike naamlyste van die 18 amptenare, 30 kunstenaars en die Bafana-legendes wat die reis meegemaak het. Die party het ook aangedui dat hulle McKenzie voor die portefeuljekomitee vir sport, kuns en kultuur gaan ontbied sodat hy persoonlik rekenskap kan gee.
Ook ActionSA het die besteding gekritiseer en op hulle beurt gewys op die haglike toestand van basiese sportinfrastruktuur in die land. Woordvoerders van verskeie sportsoorte – waaronder netbal, hokkie en atletiek – herinner die publiek gereeld aan die chroniese tekort aan fondse vir opkomende atlete, terwyl miljoene rande aan internasionale gasvryheid bestee word.
McKenzie ontken enige beweerde verkwisting en hou vol dat die uitgawes krities noodsaaklik was vir Suid-Afrika se globale handels- en toerismeposisionering.
Ter verdediging van sy posisie voer McKenzie aan dat die program reeds aansienlik “afgeskaal” is vergeleke met aanvanklike voorstelle. Hy beklemtoon dat die fokus op nasiebou, diplomasie en die benutting van die 2010-Wêreldbeker-erfenis gerig was.
“Dit gaan nie net oor die kyk van sokker nie – dit gaan oor hoe die wêreld Suid-Afrika sien,” het McKenzie gesê. Volgens hom is die besteding ’n strategiese belegging in wat langtermynvoordele vir die ekonomie en toerismesektor sal oplewer. Hy het ook bygevoeg dat finale fakture tans nog nagegaan word en dat die syfers dus nog kan verander.
Op platforms soos X en Facebook is die sentiment oorwegend negatief. Baie Suid-Afrikaners, wat gebuk gaan onder hoë werkloosheid en stygende lewenskoste, spreek hul misnoeë uit oor wat hulle as ’n polities bevoorregte ingesteldheid sien.
“R31 miljoen vir amptenare om sokker in die VSA te kyk, maar ons plaaslike skoolspanne het nie eens geld vir vervoer of balle nie,” lui een van duisende soortgelyke inskrywings op X.
Did you know?
former armed robber, prisoner, and 28 gang member Gayton McKenzie spent R31 million at the World Cup❗️Some of the money was spent on supporters who were invited by the Department of Sports, but most of the money was used on McKenzie himself.
5 star hotels,… pic.twitter.com/Tq451gKOIY
— iScathulo SePhara 👞 (@ISephara) July 20, 2026
Ondanks versekerings deur die departement dat ’n omvattende verslag binnekort bekendgemaak sal word, weier die politieke en openbare druk om te bedaar. Kritici waarsku dat die saak die geloofwaardigheid van beide McKenzie en die RNE ernstige skade kan aandoen as volle deursigtigheid nie so gou moontlik gegee word nie.
-
Fokusprent deur Abdulmomn Kadhim van Pixabay

