Die Wes-Kaapse Hooggeregshof lewer môre (Vrydag) uitspraak in president Cyril Ramaphosa se dringende hofaansoek om te keer dat die parlement voortgaan om ondersoek in te stel na die Phala Phala-saak wat hom in ’n staat van beskuldiging kan plaas.
Die volbank van die hof het verlede week hul beslissing voorbehou nadat argumente van Ramaphosa se regspan, opposisiepartye en parlementêre verteenwoordigers omvattend aangehoor is.
Môre se hofuitspraak hou ingrypende politieke en regsimplikasies vir Ramaphosa se presidentskap in, aangesien dit die verloop van die Phala Phala-saak op die spits kan dryf.
Ramaphosa wil hê die parlement se artikel 89-ondersoekkomitee moet in hul werk gestuit word totdat sy omvattende hersieningsaansoek later vanjaar verhoor word.
Ramaphosa se dringende interdikaansoek spruit uit die omstrede artikel 89-onafhanklike-paneel-verslag rakende die Phala Phala-geldsaga. Die paneel, wat onder leiding van voormalige hoofregter Sandile Ngcobo gestaan het, het bevind dat daar ’n prima facie-saak teen Ramaphosa bestaan oor die diefstal van ongedokumenteerde Amerikaanse dollars by sy wildplaas in Limpopo.
Nadat die Konstitusionele Hof gelas het dat die saak na die parlement terugverwys moet word, het Ramaphosa ’n hofhersieningsaansoek ingedien om die Ngcobo-paneel se bevindings tersyde te laat stel. Hierdie hofsaak is vir vroeg in September vanjaar op die hofrol geplaas.
Indien die Wes-Kaapse Hooggeregshof môre die dringende aansoek om ’n interdik van die hand wys, sal dit ’n ernstige terugslag vir Ramaphosa wees. Die afsettingskomitee sal dan die groen lig hê om onmiddellik voort te gaan met sy verhore en die dagvaarding van getuies.
Ramaphosa sal genoodsaak wees om voor die parlement verantwoording te doen terwyl sy eintlike hofsaak om die verslag tersyde te stel, nog hangende is. Dit sal sy politieke gesag merkbaar verswak, sy reputasie verdere skade berokken en die opposisie van kragtige politieke ammunisie voorsien om hom sowel binne as buite die ANC onder druk te plaas.
Aan die ander kant sal dit ’n belangrike taktiese en politieke oorwinning vir Ramaphosa wees indien die Hooggeregshof die interdik aan Ramaphosa sou toestaan. Die afsettingskomitee se werksaamhede sal onmiddellik gevries word, wat beteken dat hy nie voor die kritieke September-hersiening aan ’n uitgerekte en moontlik skadelike openbare parlementêre ondersoek blootgestel sal word nie.
Dit sal aan hom die nodige ruimte gee om sy regshersiening ten volle te voer. As die hersiening in September suksesvol is en die paneelverslag tersyde gestel word, kan die hele proses om hom in ’n staat van beskuldig te plaas, tot ’n val kom.
Intussen het die parlement se artikel 89-komitee reeds aansienlike vordering met sy eie voorbereidings gemaak en nie gewag vir die hof se beslissing nie. Die komitee van 31 lede het reeds vergaderings gehou om sy finale opdrag en riglyne te konsolideer, terwyl die proses om ’n onafhanklike getuienisleier aan te stel om die getuienis en ondervraging te lei, reeds in ’n gevorderde stadium is.
Die komitee, onder voorsitterskap van Rise Mzansi se Makashule Gana, is verlede maand deur die Nasionale Vergadering aangestel ingevolge ’n Konstitusionele Hof-bevel. Die hof het in Mei vanjaar beslis dat die proses moet voortgaan ná jare se regsgevegte oor die Phala Phala-sage, waar Ramaphosa beskuldig word van onbehoorlike hantering van buitelandse valuta en moontlike sekuriteitsbreuke op sy plaas.
Tot dusver is die komitee nog in ’n baie vroeë voorbereidende fase. Daar is nog geen openbare verhore gehou, geen getuies geroep, en geen substansiële ondersoek na die meriete van die Phala Phala-aantygings gedoen nie. Die fokus was tot nou toe op prosedurele en administratiewe reëlings.
Kenners skat dat die komitee, sonder ’n interdik, binne weke met volwaardige verhore kan begin. Die hersieningsaansoek is vir 2 tot 4 September geskeduleer. As die komitee nou voortgaan, kan dit parallel met die hofproses loop, wat ’n unieke konstitusionele situasie skep.
Wat ook al môre gebeur, die uitspraak sal waarskynlik tot ’n appèl lei en kan uiteindelik by die Konstitusionele Hof beland. Intussen bly die politieke temperatuur hoog, met politieke partye wat reeds veldtogte loods vir 4 November se munisipale verkiesings en die publiek wat wag op duidelikheid oor die President se toekoms.
-
Fokusprent deur Sang Hyun Cho van Pixabay

