Suid-Afrika wag steeds vergeefs op antwoorde oor Ramaphosa se bevele aan Iran oor vlootoefening

  • 0

Meer as ses maande nadat Suid-Afrika as gasheer opgetree het vir die hoogs omstrede multinasionale vlootoefening Exercise Will for Peace 2026, bly die land in die duister oor die vraag waarom die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) nie president Cyril Ramaphosa se direkte opdrag uitgevoer het dat Iran hom aan die oefening moet onttrek nie.

Ten spyte van beloftes van ’n vinnige en onafhanklike ondersoek is daar tot dusver geen finale verslag nie. Kritici beskuldig die regering daarvan dat hy die saak doelbewus laat sloer.

Die DA het deur ’n parlementêre vraag onthul dat die President se eie paneel, wat veronderstel was om binne een maand te rapporteer, na ses maande steeds nie klaar is nie.

Die DA se woordvoerder oor verdediging en militêre veterane, Chris Hattingh, sê in ’n verklaring Suid-Afrikaners verdien antwoorde. “Dit gaan nie net oor ’n vlootoefening nie, maar oor die grondwetlike beginsel van burgerlike beheer oor die militêre.”

Die vlootoefening het van 9 tot 16 Januarie 2026 in die waters van Valsbaai naby Simonstad plaasgevind. Vaartuie van Brics+-lande, insluitend Rusland, Iran, die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) en Suid-Afrika, was daarby betrokke. Die amptelike doel was om maritieme veiligheid en samewerking te bevorder.

Die oefening het egter gou in ’n diplomatieke en plaaslike politieke storm ontaard. Iran se aktiewe deelname, insluitend met vaartuie soos die IRIS Makran en ander korvette, het internasionale verhoudings onder druk geplaas.

Berigte het na vore gekom dat president Ramaphosa persoonlik ingegryp het en die minister van verdediging, Angie Motshekga, opdrag gegee dat Iran hom aan die oefening moet onttrek. Ten spyte hiervan het Iranse skepe steeds aan die oefening deelgeneem, wat vrae laat ontstaan het oor wie werklik in beheer is binne die SANW.

Amerika het die oefening sterk gekritiseer. Die Amerikaanse ambassade in Pretoria het in ’n verklaring gesê dat Iran ’n “destabiliserende akteur en staatsondersteuner van terrorisme” is. Hulle het dit “besonders onaanvaarbaar” genoem dat Suid-Afrika Iranse magte verwelkom het terwyl Teheran besig was met ’n onderdrukking van protesaksies binne sy eie grense. “Suid-Afrika kan nie die wêreld oor ‘geregtigheid’ preek terwyl dit met Iran saamspan nie,” het die ambassade destyds gesê.

Daar was ook gerugte van interne verdeeldheid. Sommige bronne het beweer dat senior SANW-offisiere die President se instruksies geïgnoreer of “misverstaan” het, wat dui op moontlike faksies en verdeeldheid in die bevelstruktuur. In Februarie 2026 het Ramaphosa die ondersoek na die presidensie verskuif om “onafhanklikheid en tydigheid” te verseker, met ’n streng een-maand-sperdatum.

In Januarie 2026 het Motshekga ’n raad van ondersoek aangestel met ’n belofte van ’n verslag binne ’n week, maar niks het gebeur nie. Die saak is toe na die presidensie verskuif. Maande later bevestig ’n parlementêre antwoord nou dat die paneel byna ses maande later nog steeds nie gerapporteer het nie. Geen redes vir die vertraging is verskaf nie.

Die DA sê hulle beskou dit as ’n ernstige knou vir aanspreeklikheid. “Afdeling 202 van die Grondwet plaas die hoogste bevel by die president. As sy opdrag geïgnoreer is, moet Suid-Afrikaners dit weet. As dit nie die geval was nie, moet hy dit duidelik stel,” het Hattingh gesê. Die party beplan om die saak verder te voer totdat daar duidelikheid is oor wie Iran se deelname goedgekeur het en watter korrektiewe maatreëls getref is.

Internasionale waarnemers, soos die Institute for Security Studies (ISS), het vroeër opgemerk dat die oefening ’n groot breuk in Suid-Afrika se verdediging- en buitelandse beleid blootgelê het. Dit kan langtermynkoste hê, insluitend verminderde belegging en diplomatieke isolasie.

Ramaphosa en die ANC het nog nie op die jongste onthullings gereageer nie. Die presidensie het vroeër beklemtoon dat die paneel toegang tot geklassifiseerde inligting het en persone kan dagvaar om die volle waarheid te ontbloot.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top