Die Suid-Afrikaanse politieke landskap is opnuut geskud deur ’n vlaag van drastiese verwikkelinge binne die MK-party, waar die partyleier, Jacob Zuma, die soveelste ingrypende herskommeling van die topstruktuur deurgevoer het.
Die mees opvallende en omstrede skuif in hierdie reeks organisatoriese skommelinge is die verrassende aanstelling van sy seun, Duduzane Zuma, as die party se nuwe eerste adjunkpresident. Hierdie stap het onmiddellik ’n nuwe vlaag van fel kritiek en diep kommer oor nepotisme, familiebevoordeling en alleenheerskappy binne die amptelike opposisie ontketen.
Die vorige bekleër van die pos, oudregter John Hlophe, is uit die pos geskop, al bly hy die party se parlementêre leier in die Nasionale Vergadering.
Hierdie nuutste drama is egter net die jongste hoofstuk in ’n lang reeks interne konflikte en magstryde wat die party sedert sy stigting teister. Slegs maande gelede is Zuma se dogter, Duduzile Zuma-Sambudla, uit die party geskop. Haar uitsluiting is toegeskryf aan gedrag wat volgens die partyleierskap strydig met die organisasie se grondwet was. Die beslissing het destyds reeds vrae laat ontstaan oor die mate waarin familiebande die party se interne demokrasie beïnvloed.
Die jongste aankondiging is deel van ’n omvangryke herskikking wat Zuma as “organisatoriese besluite gerig op die versterking van die party” beskryf het. Nathi Nhleko is as nasionale voorsitter verwyder en vervang deur Apostel Mxolisi Phakathi. Tony Yengeni bly tweede adjunkpresident, terwyl Lindiwe Mtshali as nuwe adjunksekretaris-generaal aangewys is. Die presidensiële taakspan is ook heringestel en sal weer direk onder Zuma se leiding funksioneer.
Nog ’n opspraakwekkende ontwikkeling was die drastiese inkorting van die magte van die sekretaris-generaal, Sibonelo Nomvalo. Dié ampsbekleër is reeds die agste persoon wat die pos sedert die party se stigting beklee wat ’n duidelike aanduiding is van die onstabiliteit in die boonste strukture.
Volgens bronne in die party se binnekring is byna al die sekretaris-generaal se bevoegdhede deur Zuma self oorgeneem. Hy beheer nou nie net die strategiese en organisatoriese funksies nie, maar ook die party se finansies. Die beursie, wat voorheen onder die sekretariaat se toesig was, val nou direk onder Zuma se gesag.
Politieke ontleders sê die herskikking versterk die indruk dat die MK-party toenemend ’n familie-onderneming word. Duduzane Zuma se opkoms tot die tweede hoogste posisie in die party volg op sy vroeëre aanstelling in die presidensiële taakspan. Hy is ook die leier van sy eie politieke inisiatief, All Game Changers, wat vrae laat ontstaan oor moontlike belangebotsings.
Hlophe se verwydering as eerste adjunkpresiden, terwyl hy sy parlementêre rol behou, word deur sommige as ’n politieke kompromis gesien. Hlope was een van die prominentste figure in die party se vroeë groei, maar sy verhouding met Zuma het na berig word in die afgelope maande versuur. Nhleko, ’n voormalige polisieminister en groot eertydse Zuma-bondgenoot, se skielike uitskakeling as nasionale voorsitter dui op verdere interne spanning.
Die party se amptelike verklaring beklemtoon dat die veranderinge gerig is op groter doeltreffendheid en die konsolidasie van strukture. “Hierdie besluite is geneem om die party te versterk sodat dit kan voortgaan om die mense van Suid-Afrika te dien,” lui die verklaring. Geen vrae is tydens die kort mediakonferensie in Durban toegelaat nie.
[MEDIA STATEMENT]: STATEMENT BY THE PRESIDENT OF THE UMKHONTO WESIZWE PARTY, H.E. JACOB
ZUMA, ON ORGANISATIONAL RECONFIGURATION AND LEADERSHIP
APPOINTMENTS pic.twitter.com/jAJN6WD8m5— uMkhonto WeSizwe Party (Official) (@MkhontoweSizwex) August 4, 2026
Kritici binne en buite die party wys egter daarop dat die voortdurende skuiwe ’n teken is van diepgewortelde magstryd eerder as strategiese hernuwing. Sedert die MK-party in die 2024-verkiesing as ’n belangrike politieke mag na vore getree het, is die leierskap herhaaldelik geskommel. Die hoë omset van sekretarisse-generaal, die betrokkenheid van familie-lede en nou die openlike konsentrasie van mag en finansies in Zuma se hande, skep die indruk van ’n organisasie wat sukkel om stabiliteit te vind.
Sommige waarnemers meen dat die toenemende sentralisering van mag die party se vermoë om as ’n demokratiese organisasie te funksioneer, ondermyn. Ander argumenteer dat Zuma bloot die greep op ’n party wat hy self gebou het, verskerp om interne verdeeldheid te stuit.
Wat duidelik is, is dat die MK-party steeds in ’n toestand van voortdurende herstrukturering verkeer.
Die party se ondersteuners hoop dat die nuwe leierskapspan die organisasie voor die plaaslike verkiesings sal versterk. Teenstanders sien dit egter as bevestiging dat die party steeds in die greep van een man – en nou toenemend sy familie – is.
Die woelinge is nog lank nie verby nie.
-
Lokprent deur OpenClipart-Vectors van Pixabay

