Senior leiers in die ANC is opnuut in ’n bitter interne stryd gewikkel oor bewerings van stemkopery tydens die party se 2022 nasionale konferensie waar Cyril Ramaphosa as ANC-president verkies is.
Die bewerings het nuwe momentum gekry nadat die ANC-veteraan, Nkosazana Dlamini-Zuma, ’n knuppel in die hoenderhok gegooi het met haar uitsprake tydens ’n potgooi wat soos ’n veldbrand versprei het. Haar bewerings het die ou beskuldigings van stemkopery en geld se invloed in die ANC se partyverkiesings opnuut laat opvlam. Dit alles in die aanloop tot die munisipale verkiesings van 4 November waar daar weer wild gevry word na stemme.
Dlamini-Zuma het op 3 Augustus op die African Renaissance Podcast, wat aangebied word deur die voormalige EFF-parlementslid Mbuyiseni Ndlozi, beweer dat geld ’n deurslaggewende rol gespeel het by die ANC se 55ste nasionale konferensie in Nasrec in Desember 2022.
Sy het gesê die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, het openlik kontant by die konferensiekliniek uitgedeel om stemme te koop. Dit was na bewering vir sy eie verkiesing as sekretaris-generaal én om Cyril Ramaphosa se herverkiesing as partypresident te help.
Sy het bygevoeg dat ’n halfmiljard rand op die eerste oggend van die konferensie in iemand se kamer gevind is en dat die uitdeel van geld nie ’n geheim was nie. “Geld is gebruik. Ons almal weet. Ons almal het dit gesien.”
Die bewerings het nie net Mbalula geraak nie. Dlamini-Zuma het ook verwys na ’n stemopname wat na bewering die huidige minister van internasionale betrekkinge en samewerking, Ronald Lamola, sou betrek by stemkopery tydens die 2017-konferensie (die 54ste nasionale konferensie).
Lamola het skerp gereageer. In ’n ope brief aan Dlamini-Zuma, wat hy op sosiale media gedeel het, het hy met “kommer en teleurstelling” kennis geneem van die bewerings. Hy het gesê hy het haar lank baie hoog geag, maar dat die opmerkings sy naam met beweerde stemkoopaktiwiteite in 2017 verbind.
“Ek ontken kategories enige betrokkenheid by stemkopery, hetsy deur telefoonoproepe, stemnotas of enige ander medium, tydens daardie konferensie of op enige ander tydstip,” het Lamola geskryf.
Hy het bygevoeg dat sy stem en spreekwyse bekend is aan “kamerade” en dat enige regverdige persoon kan hoor dat die stem op die opname nie syne is nie. Lamola het Dlamini-Zuma in ’n “kameraadskaplike gees” versoek om die stelling in die openbaar terug te trek en verskoning te vra. Hy het gesê dat dit hom sal pynig om regstappe teen ’n ANC-veteraan met ’n bewese strydgeskiedenis te doen, maar dat hy nie met regstappe sou huiwer as sy nie die “eerbare ding” doen nie.
Mbalula het die bewerings teen hom ook ontken. Hy het bygevoeg dat sy verkiesing vry en regverdig deur geheime stembriefies plaasgevind het en dat hy sy prokureurs geraadpleeg het om opheldering by Dlamini-Zuma te soek.
Die interne ANC-stryd het vinnig oorgevloei na ’n openbare botsing met die DA se burgemeesterskandidaat in Johannesburg, Helen Zille. Sy het op X gereageer en gesê almal weet stemkopery is ’n sleutelkomponent van die ANC se kultuur en dat dit diep in die ANC se kultuur vasgelê is.
Come on. Everyone knows that vote-buying is a key component of ANC culture. https://t.co/ZrBwrBgGZY
— Helen Zille (@helenzille) August 6, 2026
Mbalula het Zille se motiewe bevraagteken en die fokus verskuif na die Stad Kaapstad, wat deur die DA beheer word. Hy het haar daarvan beskuldig dat die stad ’n “apartheidsmuur” van ongeveer R113 miljoen bou “om die swartes en bruines te verberg”. Dit verwys na die N2 Edge-veiligheidsprojek – ’n sekuriteitsmuur, kameras, beligting en patrollies langs die N2 naby die lughawe om klipgooiery en misdaad op die snelweg stop te sit. Voorstanders sien dit as ’n praktiese misdaadbestrydingsmaatreël; kritici noem dit ’n simbool van uitsluiting en apartheidstyl ruimtelike beplanning.
Die botsing speel af teen die agtergrond van die naderende munisipale verkiesings. Dit herinner aan ou verdeeldheid en voed debatte oor korrupsie, interne partydemokrasie en goeie bestuur. Terwyl Lamola en Mbalula regstappe oorweeg en Zille die ANC se “kultuur” aanval, bly die vraag of die bewerings van stemkopery die party se geloofwaardigheid verder sal skaad in ’n verkiesingsjaar.
- Fokusprent deur Steve Buissinne van Pixabay

