Die politieke temperatuur in Suid-Afrika begin vinnig styg in die aanloop tot die munisipale verkiesing van 4 November. Nêrens is die komende stryd meer onvoorspelbaar as in Johannesburg nie.
Die Goudstad se burgemeestersketting het die middelpunt geword van ’n toenemend bittere politieke geveg waarin veral die DA, ANC, ActionSA en die PA elkeen probeer om kiesers daarvan te oortuig dat húlle die stad uit sy huidige krisis kan lei.
Volgens onlangse meningspeilings en ontledings is die DA tans in die sterkste posisie om as die grootste enkele party in Johannesburg uit die verkiesing te tree. Dit plaas Helen Zille, die DA se burgemeesterskandidaat, in ’n potensieel gunstige posisie.
Maar ’n sterk verkiesingsuitslag beteken nie noodwendig ’n burgemeesterskap nie. In ’n stad waar geen party waarskynlik alleen kan regeer nie, sal die vermoë om ná die verkiesing koalisievennote te vind net so belangrik wees soos die aantal stemme wat behaal word.
Juis daarom het Zille die afgelope dae toenemend die teiken geword van aanvalle deur ander opposisiepartye.
ActionSA-leier Herman Mashaba en PA-leier Gayton McKenzie het albei sterk standpunt ingeneem teen ’n DA-geleide Johannesburg onder Zille.
McKenzie het op sosiale media verklaar: “Helen sal nooit burgemeester van Johannesburg wees nie”, en beklemtoon dat die PA onder geen omstandighede ’n koalisie met die DA sal vorm nie.
Sy persoonlike aanvalle op Zille, onder meer oor haar ouderdom, het egter ook aansienlike kritiek ontlok.
Helen can’t work with, Helen can’t work with on repeat, do we even have a say. I can tell you today that @OnsBaizaNie will never ever work with the DA ever. Helen will never be Mayor of Joburg. Helen is leading in polls and dreams only. https://t.co/625d8fO0jc
— Gayton McKenzie (@GaytonMcK) August 13, 2026
Die aanvalle kan ’n politieke risiko vir die kleiner opposisiepartye inhou. Kiesers wat moeg is vir jare van politieke gevegte in die stadsraad, kan moontlik minder beïndruk wees deur persoonlike aanvalle en meer belangstel in antwoorde op die stad se water-, krag-, infrastruktuur- en diensleweringsprobleme.
Mashaba het op sy beurt die DA se koalisiebenadering en Zille se leierskapstyl gekritiseer en ook verklaar dat Zille nooit burgemeester van Johannesburg sal word nie. ActionSA probeer homself as ’n alternatief vir sowel die ANC as die DA posisioneer.
Die uiteindelike vraag is egter of hierdie partye ná die verkiesing bereid sal wees om saam te werk indien geen party ’n volstrekte meerderheid behaal nie.
Vir die ANC lyk die politieke landskap besonder moeilik. Hoewel die party steeds ’n groot politieke teenwoordigheid in Johannesburg het, dui peilings daarop dat sy steun aansienlik afgeneem het.
Die ANC het boonop nog nie sy kandidaat vir die burgemeesterspos aangekondig nie.
Die party probeer intussen die narratief vestig dat koalisiepolitiek die kern van Johannesburg en ander groot stede se probleme is. Tydens ’n hersiening van die ANC se 2021-verkiesingsmanifes by Luthuli-huis het senior leiers erken dat die party nie al sy beloftes nagekom het nie, maar terselfdertyd gewys op munisipaliteite waar ANC-beheer volgens die party beter resultate gelewer het.
ANC-leiers soos Stella Ndabeni en Dickson Masemola voer aan dat koalisies sedert 2016 tot politieke onstabiliteit, swak leierskap en agteruitgang in dienslewering in onder meer Johannesburg en Tshwane bygedra het.
Die party se boodskap aan kiesers is gevolglik dat ’n sterk mandaat vir die ANC groter stabiliteit en vinniger besluitneming sal moontlik maak.
Kritici meen egter dit is ’n gerieflike manier om verantwoordelikheid vir jare se swak bestuur en korrupsie te ontduik. Die ANC het immers vir dekades ’n dominante rol in Johannesburg gespeel voordat koalisiepolitiek die stadsraad se magsbalans verander het.
Die Johannesburgse verkiesing gaan daarom oor meer as net die vraag wie die burgemeester word. Dit sal ook ’n toets wees van hoe kiesers oor koalisies, dienslewering en die vermoë van politieke partye om ná ’n verkiesing saam te werk, voel.
Die DA sal probeer om sy veldtog rondom bestuur en dienslewering te bou. ActionSA en die PA sal hulself eerder as alternatiewe vir die gevestigde partye aanbied, terwyl die ANC op ervaring en die belofte van stabiliteit sal probeer steun.
Vir Johannesburg se inwoners is die uiteindelike maatstaf egter waarskynlik eenvoudiger: Daar moet water in die krane wees, elektrisiteit moet beskikbaar wees, paaie en infrastruktuur moet herstel word en die stad moet behoorlik bestuur word.
Met minder as drie maande oor voor die verkiesing is die stryd om Johannesburg se burgemeestersketting dus reeds in alle erns aan die gang. Die DA mag tans die sterkste enkele party wees, maar in ’n koalisiegedrewe stadsraad is geen oorwinning vooraf gewaarborg nie.
Op 4 November stem Johannesburg nie bloot vir ’n party nie. Die kiesers bepaal ook wie ná die verkiesing genoeg politieke mag én genoeg bondgenote sal hê om die Goudstad te regeer.
- Lokprent deur Clker-Free-Vector-Images van Pixabay
