Die spanning tussen die ANC en die DA is duidelik aan die toeneem in die aanloop tot die munisipale verkiesing. Die ANC beskuldig die DA van politieke spioenasie nadat twee lede van Helen Zille se veldtogspan by die party se manifesbekendstelling opgemerk is.
Die voorval, wat Sondag 23 Augustus by Riverside Park naby Diepsloot plaasgevind het, dien as die jongste voorbeeld van die toenemende konflik tussen partye in die aanloop tot die plaaslikeregeringsverkiesings op 4 November.
Die ANC het sy manifes onder die tema “Better communities, together” bekendgestel. Dit was ’n openbare byeenkoms wat deur Cyril Ramaphosa toegespreek is. Twee lede van Zille se digitale- en sosiale-media-span – Tami Jackson en Zeke Wareley – was in die skare. Wareley het ’n ANC-T-hemp gedra, terwyl die twee inhoud vir die DA se sosialemediaveldtog afgeneem het. Foto’s wat later in die media verskyn het, het die ANC se woede aangevuur.
Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, het die DA se optrede as deel van ’n “negatiewe veldtog” bestempel. Volgens hom het die DA-span probeer om die indruk te skep dat die byeenkoms swak bygewoon is, terwyl dit volgens die ANC volgepak was.
“Hulle voer ’n negatiewe veldtog en ons voer ’n positiewe een. Hul spioenasiepogings het selfs probeer om die leuen te versprei dat die byeenkoms leeg was,” het Mbalula op sosiale media gesê. Hy het gewaarsku dat die party stappe by die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) sal oorweeg indien sulke optrede voortduur.
ANC-ondersteuners soos Khusela Diko het die voorval as oneties bestempel en op vorige soortgelyke insidente gewys. Die party se ontevredenheid geskied teen die agtergrond van die RNE, waarin die ANC en DA steeds saamwerk.
The DA is fomenting political intolerance and will want to act the victim when members of the ANC retaliate. This is not the first time they dress up and pose as members of the ANC to infiltrate our events and pretend to be ANC supporters only to embarrass the ANC. What would… https://t.co/nKYw5YUX3h
— Khusela Diko🇿🇦 (@KhuselaS) August 25, 2026
Die voorval het opnuut vrae laat ontstaan oor hoe die koalisieverhouding die verkiesingsveldtog sal beïnvloed.
Die DA het die aanklagte afgemaak. Veldtogbestuurder Nicole van Dyk het bevestig dat twee lede die byeenkoms bygewoon het “om te sien hoe dit verloop en wat gesê word”.
Volgens haar was daar niks verkeerd daaraan nie. Die ANC-T-hemp was ’n veiligheidsmaatreël, nie ’n poging tot bedrog nie. “Ons gaan nie in DA-T-hemde aankom op plekke waar dit ongemaklik kan wees nie,” het sy verduidelik. Die DA se Johannesburg-veldtogbestuurder Kyle Jacobs het bygevoeg dat die span daar was om die ANC se “skynheiligheid en leuens” te dokumenteer, en dat die party voortaan meer sulke geleenthede sal bywoon.
I mean it's a public gathering ... Publically aired on national television.
You just catching feelings @MbalulaFikile because we exposed how badly the ANC runs events https://t.co/v2jvda3rbi
— Nicole van Dyk 🇿🇦 MPL (@MyLeaderNicole) August 25, 2026
Die vraag of die ANC se ontevredenheid enige basis het, het uiteenlopende reaksie uitgelok. Aan die een kant word gesê dit was ʼn openbare byeenkoms. Politieke partye wêreldwyd monitor teenstanders se openbare optredes, toesprake en bywoning as standaard veldtogpraktyk. Dit is nie dieselfde as die onwettige verkryging van vertroulike inligting of die infiltrering van geslote strukture nie.
In daardie sin is die gebruik van die woord “spioenasie” oordrewe en dramaties, word gesê. Baie kommentators, insluitend veldtogvoerders, het daarop gewys dat ernstige veldtogte juis hul teenstanders bestudeer, net soos sportspanne opponente se wedstryde ontleed.
Aan die ander kant is daar elemente wat die ANC se irritasie probeer verdedig. Hulle voer aan dat die dra van ’n ANC-T-hemp deur ’n DA-veldtogwerker as misleidend gesien kan word, selfs al was dit vir veiligheid. Dit skep volgens hulle ʼn vals indruk van ’n poging om ongemerk met die ANC-ondersteuners te meng.
Boonop vind die voorval plaas in ’n konteks waar die DA se Johannesburg-veldtog aggressief fokus op die ANC se diensleweringsrekord. Zille se “Gogo”-veldtog gebruik sosiale media intensief om mislukkings uit te wys. Vir die ANC, wat probeer om ’n positiewe boodskap van hernuwing en “Clock it”-verantwoordelikheid te stuur, voel enige teenstander se teenwoordigheid soos ’n direkte uitdaging aan.
Die 2026 plaaslike verkiesings beloof om onder die mededingendste in jare te tel. Die ANC probeer sy greep op metro’s en munisipaliteite herstel na swak prestasies, terwyl die DA, EFF, MK-party en ander hard veg om stemme te wen. In hierdie klimaat word elke openbare optrede, elke video en elke stelling deel van die politieke stryd. Die Diepsloot-voorval is nie uniek nie; dis ’n simptoom van ’n verkiesingseisoen waarin partye toenemend bereid is om grense te toets.
- Lokprent deur OpenClipart-Vectors van Pixabay
