President Cyril Ramaphosa se aanhoudende pogings om die artikel 89-afsettingsproses oor die Phala Phala-sage te vertraag, het Dinsdag ’n onverwagte hupstoot gekry toe die parlementêre afsettingskomitee sy eie aanbeveling van advokaat Thandazani Madonsela SC as hoofgetuienisleier teruggetrek het.
Dit kom ondanks ’n regsopinie van die parlement se Konstitusionele en Regsdiensafdeling dat daar geen werklike botsing van belange of regsbeginsels is waarom Madonsela nie in die posisie aangestel kan word nie.
Die komitee het egter besluit om die aanbeveling uit versigtigheid te herroep om te voorkom dat die hele ondersoek later deur nóg ’n hofuitdaging ontspoor word. Die voorsitter van die afsettingskomitee, Makashule Gana, het gesê die komitee moet “behoorlik” met die kwessie handel en nie die proses bloot probeer versnel ten koste van prosedurele regverdigheid nie.
Die besluit beteken dat die komitee, wat reeds sowat drie maande bestaan, nou weer van vooraf ’n getuienisleier moet soek.
IMPEACHMENT COMMITTEE UPDATE
After extensive deliberations, the committee resolved to rescind its decision to recommend Adv Madonsela as the Evidence Leader. Parties have until Friday to make further nominations. The decision will be made on the 9th of September.… pic.twitter.com/5mw0HSJFEq
— Makashule Gana - RISE Mzansi🇿🇦 (@Makashule) September 1, 2026
Politieke partye het tot Vrydag om nuwe kandidate voor te stel, waarna die komitee volgende week ’n nuwe kortlys sal oorweeg. Die regsdiens sal ook vasstel of van die advokate wat voorheen genomineer is, steeds beskikbaar is.
Die terugtrekking volg op Ramaphosa se formele beswaar teen Madonsela se benoeming.
Ramaphosa het aangevoer dat daar ’n redelike vrees vir vooroordeel bestaan omdat hy Madonsela in 2022 as sy benoemde op die Regterlike Dienskommissie verwyder het kort ná die onderhoude vir die pos van hoofregter.
Ramaphosa het verder gewys op Madonsela se vorige regsadvies aan die ANC oor sake wat verband hou met die huidige artikel 89-ondersoek. Volgens hom kan dié geskiedenis ten minste die persepsie van ’n botsing van belange skep.
Die parlementêre regsadviseurs het egter bevind dat dié omstandighede nie ’n werklike konflik van belange bewys nie en dat Madonsela se aanstelling regmatig was. Die regspan het wel gesê die komitee kan uit ’n oogpunt van prosedurele billikheid besluit om sy aanbeveling te heroorweeg.
Dit is presies wat gister (Dinsdag) gebeur het.
Die ironie is dat die besluit om Ramaphosa se beswaar tegemoet te kom, waarskynlik nog meer tyd by ’n reeds vertraagde proses gaan voeg.
Die artikel 89-komitee het reeds gesukkel om sy werksaamhede behoorlik aan die gang te kry. Openbare verhore mag tans nie begin nie, nadat die Wes-Kaapse Hooggeregshof ’n interdik toegestaan het hangende Ramaphosa se aansoek om die onafhanklike artikel 89-paneel se verslag tersyde te laat stel.
Die Konstitusionele Hof het intussen geweier dat die komitee en politieke partye direk teen dié interdik by die hof appelleer.
Ramaphosa se hersieningsaansoek word vanaf vandag (Woensdag) tot Vrydag in die Wes-Kaapse Hooggeregshof aangehoor. Sy regsverteenwoordigers voer aan dat die onafhanklike paneel se verslag, waarop die afsettingsproses gegrond is, gebrekkig is en tersyde gestel moet word.
Die paneel, onder leiding van oudhoofregter Sandile Ngcobo, het bevind dat daar prima facie-gronde bestaan om te glo dat Ramaphosa moontlik ’n saak het om te beantwoord oor die diefstal van sowat $580 000 (ongeveer R10 miljoen) uit sy Phala Phala-woning in Limpopo in 2020.
Die jongste ontwikkeling sal waarskynlik nuwe lewe blaas in die beskuldiging van ’n “Stalingrad-strategie” dat Ramaphosa elke moontlike regs- en prosedurele roete gebruik om die proses so lank moontlik uit te rek.
Die komitee werk intussen verder aan sy mandaat wat onder meer moet bepaal hoe getuienis aangebied en getoets word, wat die rol van die getuienisleier sal wees, en hoe Ramaphosa en getuies aan die proses sal deelneem.
Die groot vraag is nou hoe lank dit sal duur voordat ’n nuwe getuienisleier aangestel word en of die proses intussen nog verder deur die hofsaak en nuwe regsbesware vertraag gaan word.
Ramaphosa se jongste beswaar het dus nie daarin geslaag om die parlementêre regsadviseurs te oortuig dat Madonsela ongeskik is nie, maar dit het wel daarin geslaag om sy benoeming van die tafel te vee.
Vir ’n artikel 89-proses wat reeds maande lank sukkel om behoorlik momentum te kry, is dit presies die soort ontwikkeling wat die Stalingrad-verhaal nuwe momentum gee.
- Lokprent deur NomeVisualizzato van Pixabay

