Konstitusionele Hof moet besluit oor Madiba se hemde, sonbrille en ’n R21-miljoen-sleutel

  • 0

’n Handgemaakte sleutel van Robbeneiland, ’n sonbril, ’n gehoorapparaat en ’n paar helderkleurige “Madiba”-hemde. Dit klink soos alledaagse items. Maar dié voorwerpe, en nog nagenoeg 30 ander, staan in die middel van een van die mees simboliese regsgeskille in postapartheid Suid-Afrika.

Meer as 12 jaar ná Mandela se dood in Desember 2013 veg sy eie familie en die staat steeds oor die fisiese oorblyfsels van sy lewe. Die boedel is steeds nie ten volle afgehandel nie, en die gesin is al jare lank verdeeld oor sy nalatenskap.

Nelson Mandela in Umtata in 1937 op die ouderdom van 19 (Foto: Openbare domein, beskikbaar op Wikimedia Commons. Fotograaf onbekend.)

Die Konstitusionele Hof het die afgelope Dinsdag begin luister na argumente in die saak tussen die staat en Nelson Mandela se oudste dogter, Makaziwe Mandela. Op die spel is nie net ’n paar miljoen rand nie, maar die vraag: Wie besit eintlik die fisiese oorblyfsels van die man wat Suid-Afrika se demokrasie vergestalt het?

Makaziwe en Christo Brand, die voormalige Robbeneiland-bewaarder wat later ’n vriend van Mandela geword het, wil die items in New York laat opveil. Die opbrengs moet gaan na die bou van ’n gedenktuin en museum in Qunu, die Oos-Kaapse dorpie waar Mandela grootgeword het en waar hy begrawe is.

Die afslaer Guernsey’s sou die items al in 2022 onder die hamer laat kom, maar die Suid-Afrikaanse Erfenishulpbronne-agentskap (SAHRA), die Robbeneiland-museum en die Departement van Sport, Kuns en Kultuur het ’n stokkie daarvoor gesteek.

Die staat se argument is dat die items deel is van die nasie se siel. Die sleutel van die sel waar Mandela 18 van sy 27 gevangenisjare deurgebring het, sy ID-dokument wat hy in 1994 by die stembus gebruik het, sy handgeskrewe briewe en die hemde wat sy beeld as die “vader van die nasie” gevorm het, mag nie na private versamelaars in Amerika verdwyn nie. Dit is deel van die land se erfenis.

Maar die howe het tot dusver anders beslis. Eers het die Pretoriase Hooggeregshof, en later, in Januarie vanjaar, die Hoogste Hof van Appèl, SAHRA se appèl van die hand gewys. Die regters meen die staat het nie item vir item bewys dat hierdie voorwerpe wettig as “beskermde erfenisvoorwerpe” kwalifiseer nie. Mandela se historiese status alleen is nie genoeg om die private eiendomsregte van sy erfgename te oorskry nie.

Nou is dit in die hande van die Konstitusionele Hof. Die uitspraak kan ’n presedent skep vir hoe Suid-Afrika voortaan met die persoonlike besittings van sy ikone sal moet omgaan.

Makaziwe en haar regspan argumenteer dat die items regmatig geërf is. Brand, wat die berugte sleutel besit, het dit self op die eiland gevind en later bewaar. Hulle sê die staat probeer nou jare later ’n te wye interpretasie van die Wet op Nasionale Erfenishulpbronne afdwing. As alles wat ooit aan Mandela behoort het, outomaties nasionale erfenis word, waar eindig dit dan? Sy skoene? Sy tandeborsel? Sy ou briewe aan sy kinders?

Die staat waarsku op sy beurt dat dit ’n gevaarlike sein stuur as hierdie veiling voortgaan. Ander families van vryheidstryders kan begin om memorabilia oorsee te verkoop. Die risiko is dat Suid-Afrika se geskiedenis stukkie vir stukkie in private versamelings verdwyn, weg van openbare museums en die mense vir wie Mandela geveg het.

Die sleutel self is die emosionele middelpunt. In berigte is vroeër beweer dit is “die sleutel tot Mandela se sel”. In die hof is daar egter al vrae gevra of dit nie dalk ’n meer algemene gevangenissleutel is nie. Die waarde daarvan word op tot R21 miljoen geskat. Of dit nou die presiese sleutel is of nie, dit dra die gewig van 27 jaar se opoffering.

Vir baie gewone Suid-Afrikaners is die saak meer as ’n regstryd. Dit raak die vraag hoe ons ons helde herdenk. Moet hulle nalatenskap in staatsmuseums bewaar word, of mag families self besluit hoe om dit te eer, selfs al beteken dit om items oorsee te verkoop om ’n gedenkplek in Qunu te bou?

Intussen is die gedenktuin by Qunu steeds nie gebou nie en hang Mandela se fisiese nalatenskap in die weegskaal tussen private erfgename en die nasie wat hy help bevry het.

Die hof se besluit sal wys of Suid-Afrika sy helde se oorblyfsels as heilig beskou of as eiendom wat, soos alles ander dinge, volgens die wet hanteer moet word.

 

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top