Die ANC kry in die aanloop tot die plaaslike verkiesing van 4 November van al hoe meer kante die wind van voor. Nie net is opposisiepartye besig om die party se kandidaatlysdebakel in die hof te beveg nie, maar die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) hou voet by stuk dat die ANC self die skuld dra, omdat hulle nie die sperdatum om al hul kandidatelyste in te dien gehaal het nie.
Intussen kom daar uit die ANC se eie geledere ook nog hofgedinge en openbare protes.
En op sosiale media word die party se probleme met ’n goeie skeut swart humor begroet.
’n Video wat aanvanklik deur @Bongekile (Bongekile Mthembu) op X gedeel is met die onderskrif “Why is everyone fat in the ANC”, het soos ’n veldbrand versprei. Die video wys ANC-amptenare, van wie verskeie oorgewig voorkom, by ’n geleentheid.
Duisende mense het die video ge-like, elders gedeel en daarop gereageer. Die grappies het gou gedraai om die bekende politieke stereotipe van die “fat cat”, ’n politikus wat aansienlik beter vaar as die kiesers wat hy veronderstel is om te dien.
Een reaksie lui dat die amptenare se mae vol is van miljoene sukkelende Suid-Afrikaners se noodsaaklike lewensmiddele. Ander het gespot dat die gewigstoename die gevolg is van “te veel goeie kos wat van maklike geld afkomstig is” wat na bewering by belastingbetalers gesteel word.
“Corruption money makes you fat” en “It’s our TAX MONEY” was van die ander reaksies.
Dit is natuurlik nie bewys dat iemand se liggaamsgewig iets met korrupsie te doen het nie. Die grappies sê egter iets oor die openbare persepsie van die ANC en oor hoe maklik die beeld van politieke bevoorregting en korrupsie in een sosialemediaprikkel saamgetrek kan word.
Die spot het ook herinneringe aan Bathabile Dlamini se berugte “smallanyana skeletons”-uitspraak van 2016 laat herleef. Dlamini, destyds president van die ANC se Vroueliga en ’n minister, het gesê lede van die ANC se nasionale uitvoerende komitee het almal klein geraamtes in die kas wat hulle nie wil uithaal nie, omdat “alle hel sal losbreek”.
Die uitspraak het destyds wyd opslae gemaak en word steeds gebruik as ’n simbool van die ANC se lang geskiedenis van bewerings oor korrupsie, politieke beskerming en ’n gebrek aan aanspreeklikheid.
Maar agter die grappies lê hierdie keer ’n veel ernstiger probleem vir die ANC.
Die party se kandidaatlysdebakel het nou in die Verkiesingshof beland. Die hof sal vandag (15 September) die ANC se aansoek aanhoor oor kandidaatlyste wat volgens die party voor die sperdatum op die OVK se stelsel gelaai is, maar nie finaal ingedien kon word nie. Die OVK verwerp die ANC se weergawe en sê daar was geen stelselprobleem wat die party verhinder het om die lyste betyds in te dien nie.
Die ANC het sowat 181 kandidate in ses munisipaliteite wat deur die dispuut geraak word. In onder meer Mangaung, uMshwathi en verskeie munisipaliteite in die Oos-Kaap kan die party se lyste in die gedrang wees indien sy aansoek in die hof nie slaag nie.
Die OVK se weergawe is vir die ANC besonder ongemaklik. Volgens die hoofverkiesingsbeampte, Sy Mamabolo, se beëdigde verklaring was die stelsel operasioneel en het ANC-amptenare selfs tot minute voor die sperdatum nog inligting opgelaai. Die OVK sê die probleem was nie die stelsel nie, maar dat die finale indieningsproses nie betyds afgehandel is nie.
Die ANC kry terselfdertyd van binne sy eie geledere slae. ANC-NUK-lid Andile Lungisa het Fikile Mbalula en die party hof toe gesleep nadat hy van die party se kandidaatlys vir Nelson Mandelabaai weggelaat is. Lungisa beweer Mbalula het persoonlik opdrag gegee dat sy naam verwyder word, ondanks vorige steun vir sy kandidatuur.
Daarby het ANC-lede uit Tshwane en Johannesburg onlangs ’n optog na Luthuli-huis onderneem om beswaar te maak teen kandidaatlyste wat volgens hulle nie die uitslae van takverkiesings weerspieël nie.
Die ANC sê die kandidaatlysprobleme hou verband met administratiewe en tegniese kwessies. Maar sy eie interne verslag oor die debakel plaas volgens berigte ’n deel van die skuld vir sommige van die probleme by die party se eie amptenare.
Dit alles speel af net enkele weke voordat kiesers op 4 November hul stemme uitbring.
Die Verkiesingshof se beslissing oor die kandidaatlyste kan dus meer wees as bloot ’n tegniese uitspraak oor ’n sperdatum. Dit kan ’n vroeë aanduiding wees van hoe goed die ANC se verkiesingsmasjien nog funksioneer en hoe hoog die prys van interne verdeeldheid en administratiewe onbeholpenheid uiteindelik by die stembus kan wees.
Die kombinasie van openbare spot, interne rebellie en institusionele druk skep ’n perfekte storm. Waar die ANC vroeër op lojaliteit en historiese sentiment kon staatmaak, moet dit nou teen ’n agtergrond van diepgewortelde wantroue veg.
Die “fat cat”-grappe is nie bloot vermaak nie; hulle is ’n spieël van die gevoel dat leiers floreer terwyl gemeenskappe krepeer. As die party nie vinnig kan toon dat dit die “smallanyana skeletons” ernstig opneem en sy interne prosesse regkry nie, kan 4 November ’n verdere afname in steun bring, en dalk nie net in die metropole nie, maar landwyd.
-
Lokprent deur Clker-Free-Vector-Images van Pixabay
