ANC kry eerste houe op die ken nog voordat die stembusse open

  • 0

Die ANC het ’n pynlike nederlaag in die Verkiesingshof gely toe die hof die party se aansoek teen die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) gister (Woensdag 16 September) verwerp het. Dit volg nadat hulle versuim het om die finale kandidaatslyste vir 181 kandidate in ses munisipaliteite betyds in te dien.

Die hof het beslis dat streng nakoming van die reëls noodsaaklik  is. Dié uitslag beteken die grootste party in die land kry reeds die eerste hou op die ken lank voor die stembusse vir vanjaar se munisipale verkiesings op 4 November open.

Die dispuut het sy oorsprong in die sluitingsdatum van 28 Augustus om 17:00 vir die indien van name. Die ANC het wel hul kandidaatinligting op die OVK se aanlyn kandidaatnominasiestelsel vasgelê en dokumente opgelaai, maar het nie die finale “Submit as final”-stap voltooi nie.

Die party het aanvanklik tegniese foute die skuld gegee en later erken dat ID-nommers verkeerd ingevoer is. Die OVK het egter volgehou dat bloot die vaslegging van inligting nie as formele indiening geld nie, en dat die party die voorgeskrewe proses nie nagekom het nie. Die Verkiesingshof, met regters Modiba, Mangcu-Lockwood en Phooko, het die ANC se aansoek verwerp nadat al die betrokke partye se argumente Dinsdag aangehoor is.

Die hof het die DA se aansoek om in te tree ook toegestaan, ondanks die ANC se beswaar daarteen. Geen kostebevel is gemaak nie.

Die 181 kandidate wat geraak word (130 proporsionele verteenwoordigers en 51 wykskandidate), is in Port St Johns, Ngquza Hill, Walter Sisulu en Sondagsriviervallei in die Oos-Kaap, uMshwathi in KwaZulu-Natal en Mangaung in die Vrystaat.

In sterk ANC-vestings soos Port St Johns en Ngquza Hill kan die party nou sonder enige wyk- of proporsionele kandidate sit. Die politieke ontleder Wayne Sussman skryf: “Dit is nie ’n goeie dag vir die ANC nie. In van die sleutelgebiede sal hulle geen raadslede hê nie. Dit is ’n terugslag vir aktiviste, raadslede en kiesers wat vir die party wou stem.”

As die ANC se verdere appèl teen die Verkiesingshof se beslissing nie slaag nie, kan die gevolge verreikend wees. Die ANC sal nie ten volle in daardie ses munisipaliteite kan meeding nie, wat beteken dat opposisiepartye soos die DA en MK, wat wel kandidate het, ’n oop veld kry om op 4 November op te draf met die ANC wat op die pawiljoen sal moet sit en toekyk.

In sterk ANC-gebiede kan dit tot ’n dramatiese verlies van beheer oor plaaslike rade lei, of ten minste tot ’n skerp afname in setels. Dit ondermyn die party se vermoë om sy beleid in daardie gemeenskappe te bemark, en kan interne spanning oor dié administratiewe mislukking verhoog.

Met die OVK wat die finale lyste binnekort bekend sal maak, is die tyd vir enige verdere regstelling min. Die uitslag versterk die beginsel dat verkiesingsreëls vir almal geld, iets wat die hof beklemtoon het om sekerheid en billikheid te verseker.

Die ANC se nasionale woordvoerder, Mahlengi Bhengu, het in reaksie gesê die party respekteer die hof en die regspraak, maar sal sy regte uitoefen en die toepaslike appèlproses volg. “Ons regspan sal met die hof in gesprek tree oor die regsvrae wat uit die uitspraak voortvloei.”

Hy sê die ANC het deurgaans volgehou dat hierdie saak nie gaan oor voorkeurbehandeling vir die ANC nie, of om die OVK te vra om die reëls te verander nie. Dit gaan oor die regstatus van kandidaatinligting wat volgens die ANC voor die sperdatum op die stelsel vasgelê is. Bhengu het lede en ondersteuners gevra om kalm en gedissiplineerd te bly en nie openbare kommentaar te lewer wat die regsproses kan benadeel nie. Die party het bevestig hy bly ten volle verbind tot die 2026 plaaslike verkiesings en sal voortgaan om sy program aan Suid-Afrikaners voor te lê.

Die DA het die uitspraak in ’n verklaring verwelkom as ’n oorwinning vir die regstaat en billike verkiesings. DA se federale voorsitter, Ashor Sarupen, het gesê die Verkiesingshof se uitspraak keer dat die ANC kandidate ná die sperdatum, waaraan alle ander partye moes voldoen, indien.

“Dit is goed vir die regstaat, die billikheid van verkiesings en gelykheid tussen partye dat die reëls nie vir die ANC gebuig is nie.” Die DA het beklemtoon dat die ANC met interne en eksterne druk te kampe het oor hierdie operasionele mislukking, en dat die hofsaak meer na ’n “PR-oefening” as ’n regsgeldige een gelyk het. Die party het daarop gewys dat hy self betroubaar kandidate vir elke wyk ingedien het en op die stembrief in elke wyk sal wees. 

Die OVK is nou vry om die finale kandidaatslyste bekend te maak, wat die verkiesingsproses op skedule hou. Die uitslag dien as ’n duidelike waarskuwing dat administratiewe foute, selfs deur die grootste party, nie verskoon word nie. Terwyl die ANC nog ’n appèl oorweeg, is die skade reeds aangerig, naamlik ’n vroeë terugslag wat die party se voorbereiding vir November se verkiesing ernstig kan ondermyn.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top