Suid-Afrika staan voor die grootste plaaslikeregeringverkiesing in ons demokrasie se geskiedenis. Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het die afgelope week ’n rekordgetal van 136 790 kandidate gesertifiseer wat op 4 November om setels in agt metro’s, 44 distriksmunisipaliteite en 205 plaaslike munisipaliteite gaan meeding.
Dit is ’n dramatiese toename teenoor 2021, toe 95 427 kandidate vir amper dieselfde aantal setels (10 478) gestaan het. Vanjaar is daar 10 526 setels beskikbaar. Van die gesertifiseerde kandidate is 98 219 deur partye genomineer om wyke te verteenwoordig, 38 571 is proporsioneleverteenwoordigingskandidate (PR-kandidate) en 621 is onafhanklik.
Die oorgrote meerderheid (99,5%) is dus partykandidate. Mans maak 62% van alle kandidate uit (85 263), terwyl vroue 38% (51 527) verteenwoordig. Die grootste ouderdomsgroep is 40 tot 49 jaar (31%), gevolg deur 50 tot 59 (24,3%) en 30 tot 39 (23,8%). Jongmense tussen 18 en 39 maak 32% van die lys uit – steeds laer as wat baie kiesers graag sou sien.
In die metro’s is daar 43 098 kandidate, in plaaslike munisipaliteite 87 249, en in distriksrade 6 443. Die vyf groot stede gaan die meeste kandidate op die stembriewe hê om van te kies. Johannesburg het 75 partye op die PR-stembrief, Tshwane 70, eThekwini 69, Ekurhuleni 67 en Kaapstad 55. Dit beteken dubbelkolomstembriewe is onvermydelik. In sommige wyke, soos wyk 18 in Johannesburg, is daar selfs 63 kandidate.
Ander munisipaliteite waar daar ’n groot aantal partye deelneem, sluit Emfuleni (41 partye), Nelson Mandelabaai (37), Polokwane, Rustenburg en Capricorn-distrik (elk 36) in. Gewone kiesers kan dus verwag om langer stembriewe te sien as ooit tevore.
Een van die mees omstrede sake die afgelope weke was die ANC se mislukte poging om 181 kandidate in ses munisipaliteite op die lys te kry. Die party het nagelaat om teen die spertyd van 17:00 op 28 Augustus op die allerbelangrike laaste “submit as final”-blokkie op die OVK se aanlyn stelsel te kliek om die proses te voltooi. Die ANC beweer daar was tegniese probleme, terwyl die OVK sê daar was geen “glitches” nie en dat die party die stelsel suksesvol vir die meeste van sy ander kandidate gebruik het.
Die Verkiesingshof het die ANC se appèl Woensdag (16 September) afgewys. Die uitspraak raak Port St Johns, Ngquza Hill, Walter Sisulu en Sondagsriviervallei in die Oos-Kaap, uMshwathi in KwaZulu-Natal en Mangaung in die Vrystaat. In Port St Johns en Ngquza Hill sal die ANC glad nie op die stembrief verskyn nie.
Die party het aangedui dat hy verder wil appelleer na ’n hoër hof, maar die OVK sê die verkiesingstydlyn gaan voort. Sertifikate word op 25 September uitgereik en die stembrieftrekking vind op 23 September plaas wanneer partye die Verkiesingsgedragskode onderteken.
Spesiale stemme open op 21 September en sluit op 12 Oktober. Kiesers wat fisies nie by hul stemlokaal kan kom nie of wat op verkiesingsdag weg is, kan hiervoor aansoek doen. Daar is twee dae (2 en 3 November) vir spesiale stemme by die stemlokale self.
Die OVK het reeds 23 696 stemlokale bevestig en is besig om meer as 50 000 voorsittende en adjunk- voorsittende beamptes te werf en op te lei. Kiesers kan hul stemlokale en wyk of stemdistrik bevestig via ’n SMS na 32810, die kontaksentrum op 0800 11 8000, of ’n WhatsApp na 0600 88 0000.
Die rekordgetal kandidate wys dat meer partye en individue as ooit vantevore die plaaslike regering wil betree. Vir gewone kiesers beteken dit meer keuses, langer stembriewe en ’n harder stryd om dienslewering in elke munisipaliteit. Die OVK sê die finale lys bring sekerheid en dat die verkiesing vry, regverdig en geloofwaardig sal wees.
Die land is nou in die finale pylvak vir 4 November.

