Die Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika, Leo Brent Bozell III, het gister (Dinsdag) self die sluier gelig oor die vyf versoeke wat die Trump-administrasie die afgelope nege maande aan Suid-Afrika gerig het in ’n poging om die gespanne betrekkinge tussen die twee lande te herstel.
Bozell het in ’n meningsartikel wat Dinsdag gepubliseer is, gesê die VSA het die vyf versoeke laat in 2025 aan die Suid-Afrikaanse regering voorgelê. Dit het gevolg op president Donald Trump se uitvoerende bevel 14204 oor Suid-Afrika.
Hy sê president Cyril Ramaphosa se antwoord het Washington “geskok” en dat visumbeperkings teen spesifieke Suid-Afrikaanse amptenare net die eerste stap kan wees.
Volgens Bozell is twee van die vyf kwessies intussen aangespreek, maar drie bly onopgelos. Hy sê Ramaphosa se onlangse antwoord aan Trump het nie een van die drie uitstaande kwessies betekenisvol aangespreek nie.
“Dit is veilig om te sê dat my regering nie net teleurgesteld was nie, maar geskok was,” skryf Bozell. Volgens hom was die boodskap van Pretoria duidelik: “Die Suid-Afrikaanse regering wil nie ’n konstruktiewe verhouding met die Verenigde State hê nie.”
Die vyf versoeke wat Amerika aan die Suid-Afrikaanse regering gerig het is:
- Die Amerikaanse vlugtelingprogram vir Afrikaners: Washington het Suid-Afrika gevra om nie in te meng met die Trump-administrasie se program om Afrikaners as vlugtelinge in die VSA te hervestig nie.
- Onteiening sonder vergoeding: Die VSA het kommer uitgespreek oor Suid-Afrika se beleid oor onteiening en die moontlike uitwerking daarvan op beleggersvertroue.
- Die “Kill the Boer, Kill the Farmer”-lied: Washington wil hê Ramaphosa moet openbare uitsprake wat geweld aanhits, veroordeel, met spesifieke verwysing na die omstrede lied.
- Veiligheid van landelike gemeenskappe: Die VSA wil hê Suid-Afrika moet groter prioriteit gee aan die beskerming van boere en ander mense in landelike gebiede teen geweld en misdaad.
- Rasgebaseerde ekonomiese beleid: Washington wil hê Suid-Afrika moet beleid hersien wat volgens die Amerikaanse regering Amerikaanse maatskappye se belegging en deelname aan die ekonomie bemoeilik, onder meer vereistes rakende swart ekonomiese bemagtiging.
Bozell sê twee van die kwessies is in die praktyk opgelos. Die Amerikaanse regering het volgens hom aanvaar dat Suid-Afrika nie probeer om die Amerikaanse Afrikaner-vlugtelingprogram te verhinder nie. Wat onteiening betref, het Washington aanvaar dat die kwessie nou deur Suid-Afrika se howe hanteer word.
Die drie oorblywende kwessies is volgens Bozell die veroordeling van die “Kill the Boer”-lied, landelike veiligheid en die Amerikaanse regering se kommer oor Suid-Afrika se rasgebaseerde ekonomiese beleid.
“Ons het geen stryd met die jong entrepreneur in Soweto, die wynmaker buite Stellenbosch, of die sagteware-ingenieur in Durban wat probeer om ’n beter lewe te bou nie. Ons meningsverskil is met die regering wat voortgaan om sy ideologie bo sy eie mense te stel,” skryf die ambassadeur.
“’n Weiering om die aanstigting van geweld teen ’n teikengemeenskap te veroordeel is verkeerd. ’n Weiering om boere in geïsoleerde gebiede die beskerming te gee wat enige regering aan sy mense verskuldig is, is verkeerd. En ’n weiering om eienaarskapsreëls te verslap wat presies daardie investering smoor wat Suid-Afrika dringend benodig, is verstommend kortsigtig.”
Die ambassadeur se kritiek kom nadat Suid-Afrika op 12 September ’n brief aan Trump gestuur het waarin Pretoria volgens die presidensie sy vordering met die vyf kwessies uiteengesit het. Suid-Afrika se spesiale raadgewer, Alistair Ruiters, het gesê Pretoria meen dit het wel op al vyf versoeke gereageer, hoewel nie noodwendig in die taal of binne die tydraamwerk wat Washington verlang het nie.
Die Amerikaanse reaksie was egter om op 15 September visumbeperkings teen sekere Suid-Afrikaners aan te kondig. Die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Marco Rubio, het gesê die beperkings is gemik op persone wat volgens Washington verantwoordelik is vir, of aandadig is aan, beleid wat rassediskriminasie, onteiening sonder vergoeding of die aanhitsing van dreigende geweld teen minderheidsgroepe moontlik maak.
Bozell beklemtoon in sy artikel dat die maatreëls nie gewone Suid-Afrikaners teiken nie, maar spesifieke mense in die regering wat volgens Washington vir sulke beleid verantwoordelik is.
“Hierdie visumbeperkingsbeleid is ’n eerste reaksie, gekalibreerd en spesifiek,” skryf hy. “Maar ek gaan nie voorgee dit is ook die laaste woord nie.”
Die Amerikaanse ambassadeur sê Washington wil steeds ’n konstruktiewe verhouding met Suid-Afrika hê en sien groter handel, belegging en werkskepping as belangrike terreine vir samewerking. Hy doen egter ’n beroep op Pretoria om, soos hy dit stel, “ideologie” opsy te skuif en Suid-Afrika se belange eerste te stel.
Die jongste geskil is ’n verdere teken van die groeiende spanning tussen Pretoria en Washington. Volgens Bozell het die VSA die vyf versoeke reeds nege maande gelede aan Suid-Afrika voorgelê en is Washington se geduld nou uitgeput.
Die twee regerings verskil egter fundamenteel oor die vraag of Suid-Afrika die versoeke geïgnoreer het. Pretoria sê daar is wel vordering en dat gesprekke oor die oorblywende kwessies voortgegaan het. Washington se standpunt, soos nou deur Bozell uiteengesit, is dat Ramaphosa se antwoord nie die uitstaande eise bevredigend aangespreek het nie.
