Meer as sewe uit tien Suid-Afrikaners verwerp die bewering dat daar ’n “wit volksmoord” in die land plaasvind, terwyl slegs 19% glo dat daar wel ’n volksmoord teen wit Suid-Afrikaners is.
Dit blyk uit peilingsyfers wat vroeër vanjaar deur die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (IRR) ingesamel is en wat die afgelope week in ’n verklaring deur Hermann Pretorius, hoof van strategiese kommunikasie by die IRR, weer onder die aandag gebring is.
Pretorius sê die bevindinge ondersteun die standpunt van Suid-Afrika se ambassadeur in die Verenigde State, Roelf Meyer, wat die bewering van ’n wit volksmoord verwerp het.
“Roelf Meyer is reg om bewerings van ’n wit volksmoord te verwerp, en IRR-peilings wys dat die meeste Suid-Afrikaners met hom saamstem,” sê Pretorius.
Volgens die IRR se peiling, wat tussen 9 en 20 Maart onder 1 038 respondente gedoen is, het 72% gesê hulle stem nie saam met die bewering dat daar ’n wit volksmoord in Suid-Afrika plaasvind nie. Slegs 19% het daarmee saamgestem. Die peiling het ’n foutmarge van ongeveer drie persentasiepunte op ’n 95%-vertrouensvlak.
Die bevindinge kom te midde van hernude internasionale aandag aan die sogenaamde wit volksmoord in Suid-Afrika.
Die kwessie het onlangs weer in die kollig gekom ná Ernst Roets van Lex Libertas se projek om 3 000 wit kruise in Washington, DC, op te rig. Die kruise is bedoel as ’n gedenkteken vir mense wat in plaasaanvalle vermoor is en om internasionale aandag op plaasaanvalle, en ander kwessies wat volgens die organiseerders met Suid-Afrika se rassepolitiek verband hou, te vestig.
Die debat is ook aangevuur deur die Amerikaanse president Donald Trump se herhaalde bewerings dat wit Suid-Afrikaners aan ’n vorm van vervolging en volksmoord onderwerp word.
Die IRR-peiling dui egter daarop dat dié siening nie deur die meerderheid Suid-Afrikaners gedeel word nie.
Selfs onder wit respondente was daar volgens die IRR nie ’n meerderheid wat die bewering gesteun het nie. Die organisasie se syfers toon dat 50% van wit respondente die bewering verwerp het, terwyl 37% daarmee saamgestem het.
Onder swart respondente het 74% die bewering verwerp en 17% dit gesteun. Onder bruin respondente was die verhouding 82% teenoor 11%.
Die onderskeid tussen plaasaanvalle en die veel sterker bewering dat daar ’n volksmoord plaasvind, is ook belangrik.
Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het hom eweneens van die term “wit volksmoord” gedistansieer. Kriel het gesê daar is ernstige geweld teen boere en plaaswerkers, maar dat AfriForum nie beweer dat daar ’n volksmoord in Suid-Afrika plaasvind nie.
Kriel het die afgelope week op TimesLive se politieke potgooi gesê die organisasie "verskil" met Trump se gebruik van die term "blanke volksmoord" en die meeste Afrikaners wil in Suid-Afrika bly.
Die nuwe IRR-verklaring fokus ook nie net op die volksmoorddebat nie. Dit wys ook op sterk openbare steun vir ’n benadering waarin ras ’n kleiner rol in die bepaling van geleenthede speel.
Sowat 70% van die respondente het gesê die regering behoort nie voort te gaan om mense volgens die apartheid-era-kategorieë van swart, wit, bruin en Indiër te klassifiseer om te bepaal wie toegang tot werks- en sakegeleenthede kry nie. Slegs 27% het voortgesette rasseklassifikasie vir dié doel gesteun.
Die teenkanting teen dié benadering strek volgens die peiling vroeër vanjaar oor bevolkingsgroepe heen. Soveel as 64% van swart respondente, 85% van bruin respondente, 74% van Indiër-respondente en 97% van wit respondente het gesê die staat behoort nie voort te gaan om mense op dié manier volgens ras te klassifiseer nie.
Een van die sterkste bevindinge is egter dat 89% van Suid-Afrikaners saamstem dat mense van verskillende rasse mekaar nodig het om vooruitgang te bewerkstellig en dat mense van alle rasse volle geleenthede behoort te geniet.
Dit is hoër as die 84% wat dieselfde mening in die IRR se 2025-peiling gehuldig het.
Pretorius sê dié syfers wys volgens hom dat Suid-Afrikaners se siening oor ras minder gepolariseerd is as wat sommige van die internasionale debatte dit laat lyk.
“Die publiek blyk aansienlik minder geïnteresseerd in rasseabsolutisme te wees as wat enige van die twee kante van die internasionale debat soms aanvaar,” sê hy.
Die peiling beteken nie dat Suid-Afrikaners die land se probleme met geweld, plaasaanvalle, rassisme of ongelykheid ignoreer nie. Dit dui eerder op ’n onderskeid tussen die erkenning van dié probleme en die beskrywing daarvan as ’n “wit volksmoord”.
Die bevinding dat 89% meen verskillende rasse het mekaar nodig, dui terselfdertyd op sterk steun vir ’n gedeelde toekoms waarin mense van alle rasse toegang tot geleenthede behoort te hê.
Die IRR se bevindinge bied daarmee ’n ander prentjie van Suid-Afrika as dié wat dikwels in die internasionale debat oor die land se rasseverhoudinge geskets word: ’n Groot meerderheid verwerp die bewering van ’n wit volksmoord, terwyl daar terselfdertyd wydverspreide steun is vir minder rasseklassifikasie en groter geleenthede vir alle Suid-Afrikaners.
