’n Herfsoggend in Utrecht saam met Antjie Krog

  • 0

Op Saterdag 4 Oktober 2026 was ek bevoorreg om Antjie Krog en haar man, John Samuel, die eerste keer in lewende lywe te ontmoet.

Krog, die samesteller van Spienekelientjies: taalmusiek vir kleintjies, het egter geen bekendstelling nodig nie.

As ek moes geraai het wat Antjie met hierdie kinderboek sou vermag, sou ek die pot heeltemal misgesit het. Van meet af aan het sy ons met haar voorlesings van die rympies uit die versameling betower.

Dit is nie sommer net ’n gewone rympieboek nie.

Wat die titel beteken, het sy self nie ’n benul van nie. Sy weet wel dat dit geen slegte konnotasie het nie, want sy het eers deeglik gaan nagaan of dit nie dalk iets viesliks beteken nie. Spienekelientjies is net so ’n lieflike woord; dit is asof die woord self met jou praat.

Antjie het ons vermaak met voordragte uit haar werk. Sy verander as ’t ware in ’n ander karakter en pas haar stem aan waar nodig. Hoe meer jy hoor, hoe beter begryp jy dat hierdie vrou oor baie spesiale talente beskik. Dit is eintlik moeilik om te beskryf hoe sy die geluide en ritme by die spesifieke rymvorme aangepas het!

Sommige rympies is vreemd en in ’n taal wat net Antjie en ons klein maatjies sal verstaan. Sy het selfs ’n paar rympies in Sotho voorgelees. Dit is veral die ritme wat mens bekoor – hierdie boek is uniek.

Later vertel sy dat sy al baie lank ’n rympieboek met klank (en die korrekte uitspraak daarby) wou skryf. Eers was dit te duur om in boekvorm saam met ’n CD uit te gee; daarna sou die boek ’n dikker agterblad moes hê waarin ’n klankbaan ingebed kon word. Die deurbraak het egter gekom toe sy QR-kodes ontdek het. Met ’n QR-kode in die boek kan mens nou na die rympies luister! Sy vertel ook dat die sessie van ’n uur en ’n half in die klankateljee by verre die lekkerste tyd van haar lewe was. Sy beskryf dit as ’n lankverwagte oorwinning!

Dit is belangrik om ’n kind met rym en ritme groot te maak. Die belangrikste gawe van rym lê in die fisieke krag daarvan, want rym is ’n ritmiese proses wat binne-in die liggaam vibreer voordat dit semigeestelik word. Rym kommunikeer selfs voordat dit gehoor of verstaan word. As ’n kind aan rym en ritme blootgestel word, begin dit bronne van innerlike krag bou wat die kind later help om morele insig en innerlike krag te ontwikkel. Antjie sê sy het daaroor gelees, maar hoe dit presies werk, kan sy nie verklaar nie! Sy glo egter so diep in gedigte en rympies dat sy ten volle oortuig is dat dit wel so werk. Rympies bring die chaos rondom ‘n kind tot bedaring, want die kind het die ritme reeds in die baarmoeder gehoor.

Rympies het ook ander voordele. In 1945 het die gemiddelde laerskoolkind ’n woordeskat van 10 000 woorde gehad, maar vandag is dit maar ‘n skamele 2 500 woorde! Dit is nie net omdat ouers nie meer vir hul kinders voorlees nie; kinders memoriseer ook nie meer rympies soos in die ou dae nie.

Voorin die boek is daar ook sewe redes waarom ’n jong kind daagliks met rympies in aanraking moet kom. Rympies maak ’n kind bewus van dinge wat nie noodwendig by mekaar hoort nie. Met woorde soos “ster” en “skêr” bring jy byvoorbeeld twee disparate woorde bymekaar. Indien jy dan ’n oulike manier vind om hierdie twee woorde in een sin te vervleg, bring dit jou by die essensie van kuns. So het Antjie jare lank gewonder hoe sy die sproeiwolk wat van die see af inrol, kan beskryf sonder om die beweging met haar hande na te maak. Sy het uiteindelik die antwoord in ’n bundel van DJ Opperman gekry: “die branders storm soos ystervarke na die strand”. Die ystervark en die brander bring daardie beeld ongelooflik mooi bymekaar, selfs al sou hulle nie gewoonlik in dieselfde sin gebruik word nie. Dit is die essensie van rym, en dít maak dit kuns.

Ná die voorlesing het almal nog lank op die koel terras van ons gasvrou se eiendom gekuier en gesels. Vickie de Beer het vir ons geregte voorberei uit haar en Antjie se kookboek, Kombuistaal. Hierdie boek is ’n ware versamelstuk en ’n móét vir elke huis! (’n Spesiale woord van erkenning gaan hier aan Roelien Immelman, wat albei hierdie pragtige boeke geïllustreer het.)

Vickie het die allerheerlikste happies voorgesit – niks was sommer net lukraak saamgeflans nie. Elke happie was deel van ’n groter plan: salm en vis vir breinkrag, “rundergehaktballen” omdat ons in Nederland is, en melktertjies omdat geen Suid-Afrikaanse kuier in Nederland daarsonder afgerond is nie. Gesonde etes sorg immers vir gesonde, gelukkige mense.

  • Foto’s: Chrisna van Rensburg

Lees ook:

In gesprek met Antjie Krog oor Spienekelientjies (vir Wêreldboekdag)

In gesprek met Vickie de Beer oor Kombuistaal

Spienekelientjies, saamgestel deur Antjie Krog: ’n resensie

’n Nuwe skatkis! Spienekelientjies, saamgestel deur Antjie Krog: ’n resensie

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top