Suid-Afrikaners is slaggereed om môre (Woensdag) hulle kruisies te gaan trek in die land se sewende plaaslikeregeringsverkiesing, wat allerweë bestempel word as die belangrikste sedert die land in 1994 ’n demokrasie geword het.
Die verkiesing word wyd beskou as ’n deurslaggewende toets vir dienslewering, rekenpligtigheid en die toekoms van munisipale regering. Met 546 politieke partye en byna 137 000 kandidate wat om setels in agt metropolitaanse munisipaliteite, 44 distriksmunisipaliteite en 205 plaaslike munisipaliteite meeding, is die omvang van die verkiesing een van die grootstes in die land se demokratiese geskiedenis.
Spesiale stemming het gister (Maandag) reeds begin en gaan vandag voort. Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het 2 655 067 kiesers goedgekeur om spesiale stemme uit te bring, wat ’n toename van 131% is teenoor die 2021-verkiesing. Van hierdie kiesers sal sowat 678 525 by hul huise besoek word weens fisieke ongesteldheid of gestremdheid, terwyl 1 976 542 by hul geregistreerde stemburo’s mag stem. Die OVK het sowat 127 000 verkiesingsbeamptes ontplooi om die proses te hanteer. Spesiale stemme word nie dadelik getel nie, maar veilig gestoor en later saam met die stemme van Woensdag getel.
Daar was egter uitdagings. In die Kaapse metro kon 217 stemburo’s gisteroggend nie betyds oopmaak nie weens vertragings met die aflewering van stembriewe. Die OVK in die Wes-Kaap het bevestig dat die situasie vlotter verloop het soos stembriewe aangekom het, en dat stasies buite die metro normaal funksioneer. Die kommissie het kiesers verseker dat alle goedgekeurde spesiale kiesers steeds die geleentheid sal kry om te stem. Teen 14:00 gistermiddag was daar egter steeds stemlokale waar stembriewe nie afgelewer was nie.
President Cyril Ramaphosa het gister in sy weeklikse nuusbrief en by openbare geleenthede sterk ʼn beroep op kiesers gedoen om te gaan stem. Hy het beklemtoon dat die verkiesing ’n geleentheid is om “beter, veiliger, skoner en meer welvarende gemeenskappe” te bou. “Wanneer ons Woensdag stem, moet ons streef na vooruitgang en ontwikkeling,” het hy gesê.
Ramaphosa het erken dat korrupsie, bevoorregting en swak bestuur in munisipaliteite die publiek se vertroue in demokratiese instellings ondermyn het. Hy het gesê dat magstryd en kompetisie om hulpbronne tot onstabiliteit en geweld bygedra het, en dat munisipale mislukkings ’n groot rol gespeel het in die afname in vertroue in die regering.
Hy het ook die belangrikheid van bekwame leierskap beklemtoon. Hy het gesê die nuutverkose leierskap van munisipaliteite sal hul ampte aanvaar terwyl die regering ’n “daadwerklike herstel” van die plaaslikeregeringstelsel onderneem. In sy toespraak by die ANC se finale byeenkoms het hy gesê dat geen ander party meer vir Suid-Afrikaners gedoen het as die ANC nie, alhoewel hy toegegee het dat daar tekortkominge was. Hy het kiesers aangespoor om leiers te kies wat dienslewering – water, sanitasie, elektrisiteit en paaie – prioritiseer.
Ander partye het ook hul finale posisies duidelik gemaak. Die DA het by sy finale byeenkoms in Mamelodi, Tshwane, kiesers aangespoor om die party die grootste in die land te maak. DA-leier Geordin Hill-Lewis het gesê die ANC se verswakking moet die begin van Suid-Afrika se herstel word, en die party het beklemtoon dat dit fokus op bekwame bestuur, infrastruktuur en die bestryding van korrupsie. Die DA het ook aangedui dat hy nie met die EFF of MK in koalisies sal saamwerk nie.
Die EFF het by sy “Tshela thupa”-byeenkoms in Orlando, Soweto, sterk fokus geplaas op korrupsie en dienslewering. Die EFF-leier, Julius Malema, het gesê munisipaliteite is deur diensverskaffers, kontrakteurs en korrupte amptenare “gevange geneem” (“gekaap”) en dat die EFF munisipaliteite wil herstel wat water, paaie, putte en sanitasie werklik lewer. Hy het die party as die alternatief tot mislukte en korrupte plaaslike regering voorgehou.
Die MK-party het sy eie uitdagings ervaar. Die party se veldtog is deur interne onrus gekenmerk, met voormalige sy leier, Jacob Zuma, wat minder in die openbaar sigbaar was ná hy vir ʼn ruk in die hospitaal was. Die party se “People’s Mandate” beklemtoon radikale ekonomiese transformasie, professionele amptenare en ’n kontrak met gemeenskappe wat meetbare teikens stel. Ontleders meen egter dat die party se veldtog nie die momentum bereik het wat vroeër verwag is nie.
Veiligheid bly ’n groot fokus vir more se verkiesing. Die sekuriteitsgroep NATJOINTS het bevestig dat hulle gereed is, met 331 stemburo’s wat landwyd as hoërisiko geïdentifiseer is. Tydens die verkiesingstydperk is 20 politiekverwante moorde en 139 verkiesingsverwante misdaadsake aangeteken. Die polisie het belowe om ’n sterk teenwoordigheid te handhaaf.
Soos wat die land die laaste ure voor die hoofstemming ingaan, is alle groot partye dit oor een ding eens: Kiesers moet gaan stem. Of dit nou gaan oor waterkrisisse, puttoilette, elektrisiteit of rekenpligtigheid, die uitslag van Woensdag se verkiesing sal bepaal hoe munisipaliteite die volgende vyf jaar bestuur word. Suid-Afrikaners staan voor duidelike keuses en moet hulle stemme deur die stembus laat hoor.
- Lokprent deur Mohamed Hassan van Pixabay.

