AA sê Gauteng se e-tol sal nooit werk nie en moet waai

  • 0

Om motoriste sover te kry om tolgeld te betaal, vir die omstrede e-tolstelsel op die N1-snelweg in Gauteng, is so goed soos om ’n dooie perd op te saal. Skrap dit liewer.

Dit is die boodskap van die Outomobiel-Assosisasie (AA) aan die ministeriële taakspan wat voor die einde van volgende maand ʼn oplossing moet kry vir die e-tol-probleem wat nou al jare lank sloer.

E-tolstelsel in Gauteng (Foto: YouTube)

Die AA stel voor dat die regering liewer ’n spesiale brandstofheffing moet instel.

Volgens ’n navorsingsverslag van die AA oor padfinansiering, is daar niks wat die stelsel kan laat werk nie. Geen regsaksies of wetstoepassing sal dit volgens die AA verander nie. Die AA sê dit is duidelik Gauteng se padgebruikers is geensins van voorneme om op te dok soos sake nou staan nie.

“Ons navorsing toon dat mense nie onder die huidige omstandighede sal betaal nie. Dit toon ook skuld speel nie ’n faktor in die besluit om nie te betaal nie. Die meeste padgebruikers betaal nie, as gevolg van ’n beginselbesluit wat jare gelede reeds geneem is en niks sal hulle van plan laat verander nie,” sê die AA. Mooipraat of dreigemente sal hulle ook nie van plan laat verander nie.

Die AA het Donderdag in ’n verklaring gesê daar moet dringend ’n plaasvervanger vir die e-tolstelsel in plek gestel word om die Gautengse snelwegverbeteringsprojek (GFIP) te finansier.

Die AA doen ook ’n beroep op die owerhede om alle e-tol, wat sedert 2013 betaal is, aan motoriste terug te betaal om ondersteuning te kry vir ’n nuwer en beter stelsel. Volgens die AA se verslag het hulle verskeie ander padfonds-modelle in Afrika en oorsee ondersoek wat in die plek van die e-tol gebruik kan word om die padnetwerk te finansier.

Gegewe die geweldige weerstand teen die e-tol onder motoriste moet daar, volgens die AA, ’n werkbare en volhoubare oplossing vir almal gevind word om die padvervoerstelsel te laat werk.

Die AA se verslag sal waarskynlik die debat in die ANC oor e-tol opnuuut laat opvlam. Die minister van finansies, Tito Mboweni, was die afgelope tyd in ’n venynige woordewisseling gewikkel met lede van sy eie party wat wil hê die e-tolstelsel moet geskrap word. Hy het onder meer op Twitter uitgevaar teen diegene wat nie e-tol betaal nie en getwiet dat alle gebruikers vir e-tol moet betaal ongeag wie hulle is.

Mboweni en die Gautengse premier, David Makhura, was onlangs in so hewige bekgeveg op Twitter betrokke oor e-tol dat selfs president Cyril Ramaphosa hulle voor stok moes kry en beveel om hulle openbare twis te staak.

Ramaphosa het die openbare uitval tussen Mboweni en Makhura as uiters ongelukkig bestempel en hulle in ’n verklaring gemaan om nie hulle vete op sosiale media voort te sit nie.

Die president het toegegee dat die huidige e-tolstelsel in Gauteng, in sy huidige vorm, “uitdagings” bied en die hoop uitgespreek dat daar ’n werkbare oplossing vir die probleem gevind sal word.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top