Die eerste volledige aanlyn hoërskool in Suid-Afrika en een van slegs ’n handvol in die wêreld is die afgelope week in Kaapstad deur die Universiteit Kaapstad (UK) van stapel gestuur. Die universiteit is die eerste in Afrika wat sy kundigheid na die sekondêre-onderrig-sektor uitbrei.
Die aanlyn hoërskool is in samewerking met die Valenture Institute geskep en word beskou as ’n mylpaal vir onderwys in Suid-Afrika. Dit volg op nege maande se besprekings, navorsing en samesprekings met die regering en ander belanghebbendes. Die Valenture Institute is ’n onderneming vir onderwystegnologie met sy eie aanlyn model.
Die skool sal leerlinge van graad 8 tot 12 hê, maar die eerste graad 12-inname sal eers in 2023 wees. Xhosa en Zoeloe sal in die eerste jaar aangebied word, en met die verloop van die jaar sal daar meer Afrikatale bygevoeg word. Graad 8 en 9 sal tien vakke hê, met vakke wat elke jaar bygevoeg word. In graad 10, 11 en 12 is daar 14 vakke.
Die universiteit het in ’n verklaring gesê die aanlyn hoërskool is ontwerp om Suid-Afrikaanse leerlinge van ’n wye verskeidenheid sosio-ekonomiese agtergronde te bedien.
UCT has launched Africa’s first university-based online high school in partnership with the Valenture Institute. Read more about #UCTOnlineHighSchool and other updates in the campus announcement: https://t.co/SFberX2qdH
— UCT (@UCT_news) July 21, 2021
Die Wes-Kaapse LUR vir onderwys, Debbie Schäfer, het die bekendstelling van die aanlyn hoërskool verwelkom. Die universiteit se visekanselier, Mamokgethi Phakeng, sê hulle is daartoe verbind om die ingewortelde uitdagings in die onderwysstelsel aan te pak. Schäfer sê dit sal nuwe geleenthede vir leerders regoor die land skep wanneer klasse in Januarie volgende jaar begin.
#UCTOnlineHighSchool Following a special staff meeting on Wednesday, 21 July, VC Professor Mamokgethi Phakeng announced a major education milestone – the launch of the UCT Online High School in partnership with Valenture Institute. Read the full VC Desk: https://t.co/5NtMz7B1cs
— UCT (@UCT_news) July 21, 2021
Phakeng sê UK is daartoe verbind om sy rol te speel in die oplossing van die sistemiese uitdagings wat die land se onderwysstelsel in die gesig staar. “As gevolg hiervan het ons die gewaagde stap gedoen om ’n vernuwende aanlyn hoërskool in Januarie 2022 te loods, waar die akademiese uitnemendheid van UK uitgebrei kan word na hoërskoolleerders regoor die land.
“Die UCT Online High School sal ’n nuwe geleentheid skep vir leerders regoor Suid-Afrika om ’n ambisieuse skool te kies en hul potensiaal te benut,” het sy gesê. Dit sal volgens haar die mees bekostigbare privaatskool in die land wees.
Die aanlyn hoërskool het die afgelope Woensdag (21 Julie) vir toelatingsaansoeke geopen, en klasse begin in Januarie volgende jaar.
Phakeng het gesê die universiteit volg in die voetspore van sommige van die internasionale gesogte universiteite soos Stanford’s Online High School. Dit is die eerste universiteit in Afrika wat sy kundigheid en impak uitbrei na die mark vir sekondêre onderwys deur middel van ’n vernuwende aanlyn modaliteit.
Die aanlyn hoërskool sal die KABV-belynde leerplan volg en bied leerders in graad 8–12 in enige uithoek van die wêreld die geleentheid om teen ’n maandelikse bedrag van R2 095 te studeer.
Die uitvoerende hoof van Valenture Institute, Robert Paddock, sê daar is ’n gratis oop aanlyn platform wat toeganklik is vir almal vir opleidingsinhoud van hoë gehalte wat doelbewus vir aanlyn werk gebou is, maar die verskil is dat die gratis aanlyn platform nie onderwysondersteuning het nie.
Op die oop aanlyn platform het leerders volle toegang tot ’n kurrikulum waar hulle teen hul eie tempo kan vorder deur middel van kundige, interaktiewe aantekeninge, video’s, animasies, simulasies, oefenopdragte, vasvrae en meer.
Die UK-raadsvoorsitter, Babalwa Ngonyama, sê die toegang tot die mark vir sekondêre skole met ’n vernuwende oplossing vir gemengde leer is beslis ’n gewaagde stap, maar ook ’n logiese uitbreiding van UK se missie om ’n meer regverdige en volhoubare sosiale orde te bevorder.
“Die universiteit se transformatiewe doel is nie net om die manier waarop ons dinge op die kampus doen, te verander nie, maar om ons samelewing te vernuwe en ons land die moontlikheid van ’n beter toekoms te gee. As Visie 2030.”
Meer oor die aanlyn hoërskool kan hier gelees word.