Die aantal mense wat met MIV in Suid-Afrika leef, het vir die eerste keer die 8 miljoen-kerf bereik en dit neem steeds toe.
Die voortdurende styging toon dat meer mense met MIV besmet raak as wat daar mense met MIV is wat sterf. Die toenemende getalle is dus ’n weerspieëling van die feit dat antiretrovirale medisyne mense aan die lewe hou wat andersins sou gesterf het.
Dit beklemtoon ook die voortdurende uitdaging van die pandemie in die land, ondanks pogings tot behandeling en voorkoming.
Die syfers is volgens die mediese publikasie Spotlight gebaseer op uitsette van die jongste ontleding van die Thembisa-model. Dit is ’n toonaangewende wiskundige model wat gebruik word om die MIV- en TB-epidemies in Suid-Afrika te ontleed en voorspellings te maak.
Die syfers is in laat Maart 2025 gepubliseer en bied bygewerkte ramings oor die omvang en verloop van MIV in die land, gebaseer op die jongste beskikbare data tot middel-2024.
THE BIG READ | The number of people living with HIV in South Africa has for the first time reached the eight million mark. The eight million amounts to 12.8% of the population. @marcuslowx.bsky.social www.spotlightnsp.co.za/2025/03/31/8...
— Spotlight (@spotlightnsp.bsky.social) March 31, 2025 at 8:16 AM
Die model word ontwikkel en onderhou deur navorsers, hoofsaaklik geaffilieer met die Sentrum vir Aansteeklikesiekte-epidemiologie en -navorsing by die Universiteit van Kaapstad, onder leiding van Leigh Johnson.
Volgens die skattings is ongeveer 6,2 miljoen van die sowat 8 miljoen mense in die land met MIV op behandeling. Ongeveer een uit elke vyf mense wat met die virus leef, was dus nie op behandeling nie. Behandeling word aanbeveel vir almal wat met MIV leef.
Daar was na raming 178 000 nuwe MIV-infeksies in 2023/2024 (middel-2023 tot middel-2024). Oor dieselfde tydperk is ongeveer 105 000 mense met MIV oorlede – 53 000 weens MIV-verwante oorsake en 52 000 weens faktore wat nie met MIV verband hou nie.
Die skattings van nuwe MIV-infeksies is volgens Spotlight effens hoër as in verlede jaar se Thembisa-publikasies. Volgens Leigh Johnson, die sleutelontwikkelaar van die Thembisa-model, is dit hoofsaaklik daaraan toe te skryf dat die model nuwe bewyse in ag neem dat kondoomgebruik afneem.
Eight million people living with HIV in SA, according to latest estimates 🇿🇦 #aids #HIV #southafricaaids #condom https://t.co/9rGJmtQP3c pic.twitter.com/VZzO56L89f
— boppinmule (@boppinmule) March 31, 2025
Daar is steeds groot geslagsongelykhede in Suid-Afrika se MIV-epidemie. Aan die een kant is daar baie meer vroue wat met MIV leef as mans: 5,2 miljoen vergeleke met 2,6 miljoen teen middel-2024. Aan die ander kant het effens meer mans weens MIV-verwante toestande gesterf as vroue in 2023/2024: 27 100 mans vergeleke met 24 200 vroue.
Een van die kommerwekkende tendense wat uit die jongste inligting na vore gekom het, is dat baie mense eers met behandeling begin wanneer hul immuunstelsels ernstig gekompromitteer is.
In 2023/2024 het sowat 54 000 volwassenes vir die eerste keer met behandeling begin met CD4-tellings onder 200 selle/mm3. ’n CD4-telling bo 500 selle/mm3 word oor die algemeen as gesond beskou. CD4-selle is ’n tipe wit bloedsel wat noodsaaklik is vir die funksionering van die immuunstelsel. Mense wat behandeling met lae CD4-tellings begin, is geneig om slegter langtermyn-uitkomste te hê.
Die jongste Thembisa-uitsette bevat ook kommerwekkende bevindings oor die mate waarin mense ophou met hul behandeling. In 2023/2024 het ’n geraamde 714 000 mense weer antiretrovirale behandeling begin nadat hulle dit vir ten minste ’n maand gestaak het. Hiervan het ongeveer 326 000 CD4-tellings onder 200 selle/mm3 gehad.
Op ’n ietwat meer positiewe noot: Die jongste Thembisa-uitsette toon steeds ’n styging in lewensverwagting in Suid-Afrika. Lewensverwagting het ernstig afgeneem rondom die draai van die eeu, grootliks as gevolg van mense wat aan Vigs gesterf het, maar het mettertyd toegeneem namate antiretrovirale terapie mense wat met MIV leef, aan die lewe begin hou het.