Aborsiedebat vlam weer op na klag teen dokter

  • 0

’n Saak waarin ’n mediese dokter van onetiese gedrag aangekla word omdat hy ’n vrou afgeraai het om ’n aborsie te ondergaan, het die aborsiedebat in die land opnuut laat opvlam.

Volgens die dokter kom aborsie neer op die doodmaak van ’n mens.

Jacques de Vos moet aan die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika (RGBSA) verduidelik waarom hy nie aan onetiese gedrag skuldig is nie nadat hy glo sy persoonlike geloofsoortuiging op ’n pasiënt afgedwing het.

Foto: Pixabay.com

De Vos ontken dat hy sy persoonlike geloofsoortuiging op sy pasiënt afgedwing het. Hy sê alle advies wat hy aan pasiënte gee, is wetenskaplik gegrond.

Die dokter het glo tydens sy internskap by 2 Militêre Hospitaal in Kaapstad meer as twee jaar gelede aan ’n pasiënt gesê ’n fetus is ’n menslike wese. Hy het na bewering aborsie gelykgestel aan die doodmaak van ’n mens.

Hy word ondersteun deur die politieke party die ACDP en die organisasie Doctors for Life waarvan hy ’n lid is. Sy saak sloer reeds twee jaar nadat hy aanvanklik aangekla en geskors is hangende sy verhoor.

Sy verhoor sou die afgelope week hervat gewees het, maar is weer uitgestel omdat die klagtes volgens sy regsverteenwoordigers vaag en onduidelik is.

Volgens die Christian View Network in South Africa, is die verhoor wat vir 27 en 28 Augustus geskeduleer was, uitgestel tot 3 en 4 Oktober om die RGBSA geleentheid te gee om die nodige dokumente in orde te kry.

Doctors for Life eis dat De Vos se skorsing onmiddellik opgehef word sodat sy internskapdokumente onderteken kan word, aangesien hy nie kan voortgaan om sy gemeenskapsdiensjaar te voltooi terwyl hy geskors is nie.

Die saak sal na verwagting groot aandag trek in die mediese beroep asook onder die publiek wanneer die verhoor plaasvind. Volgens Doctors for Life word daar gediskrimineer teen mediese praktisyns soos De Vos omdat hulle vir die lewe van ongebore kinders veg en vroue teen die gevolge van aborsie waarsku.

Die organisasie het ook ’n petisie op die internet begin waarin hulle die publiek vra om hom in sy saak te ondersteun.

Die ACDP het hulle solidariteit met De Vos uitgespreek en sê die party glo aan die heiligheid van menslike lewe.

De Vos se saak het opnuut ’n vuurwarm debat op sosiale media ontketen oor die vraag of ’n fetus as ’n mens beskou kan word en of aborsie moreel regverdig kan word.

“Ag, gee my krag. As ’n vrou nie ’n baby wil hê nie, moet sy behoorlik voorsorg tref. Of sy moenie hanky-panky nie. Ek is pro-aborsie, maar hierdie saak is belaglik. Ek hoop die RGBSA gooi dit uit,” het een van die kommentators geskryf.

“Gaan vertel dit vir ’n maagd wat verkrag is en swanger geraak het. Jy het geen idee wat hierdie saak behels nie maar maak dit af as belaglik. Dis nou wat mens toxic masculinity noem,” het iemand anders teruggekap.

Keith Matthee SC tree op instruksie van De Wet Wepener Prokureurs namens De Vos op in die saak teen hom. Sy regspan sê hulle is van voorneme om deskundiges te betrek. Hulle verweer is dat De Vos gedoen het wat ’n goeie dokter sou doen en sê hy het goeie wetenskaplike inligting vir sy pasiënt gegee.

Die ACDP sê in hulle verklaring hulle glo aan die heiligheid van lewe en sien uit na ’n tyd wanneer die lewe van ’n ongebore baba die billike beskerming kry wat die baba verdien.

Die meeste reaksies van die publiek op sosiale media was simpatiekgesind teenoor die dokter en meen hy behoort nie aangekla te word nie. Daar was egter ook diegene wat sê in ’n oorbevolkte wêreld met groot armoede het ons meer aborsies nodig en nie minder nie.

“Hulle moet dokters kleurkodeer sodat meisies by voorbaat weet waar hulle welkom is, en waar nie,” was een persoon se raad.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top