President Cyril Ramaphosa en sy ondersteuners het ’n morele oorwinning behaal in die geveg teen korrupsie binne die ANC. Die party se top-amptenaar en sekretaris-generaal, Ace Magashule, het Dinsdag ’n geel kaart van sy party se integriteitskommissie ontvang, wat aanbeveel het hy moet die politieke veld verlaat totdat hy onskuldig bevind is aan korrupsie.
Dit volg ná ’n omvattende aanbeveling van die ANC se integriteitskommissie dat Magashule sy pos moet ontruim hangende die uitslag van die hofsaak teen hom.
Hy sal egter waarskynlik met sy werk as sekretaris-generaal voortgaan tot minstens die volgende vergadering van die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK) vroeg volgende jaar, wat verder oor sy lot sal beslis.
@MYANC National Spokesperson @pulemabe reacts to the media on the integrity commission report. pic.twitter.com/p19KV3uhA5
— African National Congress (@MYANC) December 15, 2020
Magashule word aangekla vir korrupsie, bedrog en geldwassery wat verband hou met ’n asbes-kontrak van R255 miljoen in die Vrystaat terwyl hy die premier was. Hy is borgtog van R200 000 toegestaan. Magashule het tot en met die jongste vergadering van die NUK nog volgehou dat hy nie opsy sal staan as sekretaris-generaal nie.
Die ANC se integriteitskommissie het Dinsdag in ’n verslag van drie bladsye gesê ’n vroeëre resolusie van die party het hom gelei om aan te beveel dat Magashule tydelik afstand doen van sy pos in die top-ses, of die gevaar loop om geskors te word.
Die kommissie het die naweek met Magashule vergader. Die resolusie van die NUK bepaal dat enige ANC-leier wat van korrupsie aangekla word, onmiddellik uit dié leierskapsposisie moet tree, totdat die saak teen dié persoon afgehandel is.
In sy verslag sê die integriteitskommissie ’n verenigde ANC is noodsaaklik om die beloftes van dienslewering aan sy mense na te kom. Die kommissie sê eenheid kan egter slegs gebou word rondom ’n gemeenskaplike visie en doelwit wanneer daar gepraat word van eenheid in aksie. “Eenheid gaan nie daaroor om individue gelukkig te hou om verdeeldheid in eie geledere te probeer vermy nie. Dit beteken nie dat die organisasie afgepers kan word onder die dekmantel van eenheid nie.”
Die groot vraag op almal se lippe was Dinsdag of Magashule uit sy eie gehoor sal gee aan die aanbeveling dat hy sy pos moet ontruim en of hy die geveg verder gaan voer in die NUK, wat uiteindelik oor sy lot sal moet besluit.
Die integriteitskommissie sê in hul verslag Magashule het goed voorbereid voor hulle verskyn en dit beklemtoon dat hy ’n gedissiplineerde lid van die organisasie is wat gebonde is aan die besluite van die “kollektief” en dat hy opsy sal staan indien die NUK so besluit.
Die integriteitskommissie se volledige verslag kan hier gelees word.
Volgens die kommissie se verslag het Magashule aan hulle gesê selfs al stem hy nie saam met die NUK nie, sal hy sy pos ontruim as hulle so besluit. Sommige politieke waarnemers meen dit kan die begin van die einde van Magashule se politieke loopbaan in die ANC wees, terwyl ander meen die geveg is nog lank nie verby nie.
’n Senior politieke joernalis by EWN, Tshidi Madia, het aan Cape Talk gesê Dinsdag se besluit kan die einde van Magashule se loopbaan beteken, terwyl die politieke kommentator, André Duvenhage, meen dit is nog geen uitgemaakte saak dat Magashule se doppie geklink is nie.
Duvenhage het op RSG se aktualiteitsprogram, Spektrum, gesê president Cyril Ramaphosa moet krediet kry dat hy daarin geslaag het om die saak waarin Magashule van korrupsie beskuldig word, tot so ver in die ANC se strukture kon voer.
Hy waarsku egter dat dit nog lank nie die einde van Magashule se politieke loopbaan is nie. Dit kan volgens hom selfs tot geweld oorspoel as Magashule geskors word.
Magashule, wat deur sommige kommentators as die mees korrupte politikus in die land beskou word, het tot dusver al die bewerings teen hom ontken en hou vol dat hy onskuldig is.
Die woordvoerder van Umkhonto we Sizwe (MK) ("Spear of the Nation") se veteraneverenging en een van Magashule se troue bondgenote, Carl Niehaus, het vroeër tydens Magashule se hofverskyning gewaarsku teen moontlike verdere verdeling in die organisasie as gevolg Magashule se inhegtenisname. Niehaus het toe gesê hy en die ANC se MK-veteraneverenging is besorg oor moontlike verdere faksiegevegte, mobilisasie en verdeeldheid in die ANC as gevolg van die saak en dat hulle hom sal ondersteun.
Magashule se ondersteuners was Dinsdag woedend omdat die integriteitskommissie se verslag met aanbevelings direk aan die NUK-lede gestuur is en so gou in die hande van die media beland het. Van hulle het op Twitter daaroor uitgevaar en dit as absurd bestempel.