Die hofverskyning van die ANC se sekretaris-generaal, Ace Magashule, Vrydag in Bloemfontein, kan die reeds verdeelde ANC nog verder verdeel. Magashule is die mees senior leier van die party se huidige leierskap wat van korrupsie aangekla word.
Die ANC se adjunksekretaris-generaal, Jessie Duarte, en die tesourier-generaal, Paul Mashatile, het die media Woensdag oor die jongste verwikkelinge in die regerende party tydens ’n Zoom-nuuskonferensie toegespreek.
Dit volg ná ’n vergadering van die topses amptenare Dinsdagaand nadat die Valke bevestig het dat ’n lasbrief vir die inhegtenisneming van Magashule uitgereik is. Hy word van korrupsie aangekla, wat verband hou met ’n asbes-kontrak van R255 miljoen in die Vrystaat terwyl hy die premier was. Magashule sal homself Vrydagoggend aan die polisie oorhandig voordat hy in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn.
@MYANC National officials statement on the pending charges against its Secretary-General Comrade Ace Magashule pic.twitter.com/gde0RN3qEQ
— African National Congress (@MYANC) November 11, 2020
Intussen eis ontevrede ANC-lede, wat onlangs na Luthuli-huis opgeruk het, dat Magashule onmiddellik sy posisie ontruim. Die woordvoerder van die ANC-groep, Shima Mohohlo, sê hulle wou hul misnoeë te kenne gee en is verheug dat ’n lasbrief uiteindelik op hom bedien is.
Die ANC eugliga in die Vrystaat het egter die lasbrief as kwaadwillige, politieke vervolging afgemaak. Die woordvoerder van die Jeugliga in dié provinsie, Sello Pietersen, sê hulle sal enige optrede teen Magashule verdedig. Petersen sê hulle sal by die hof wees om hom te ondersteun omdat hy onskuldig is totdat die teendeel bewys kan word.
Die woordvoerder van Umkhonto weSizwe se veteraanverenging en een van Magashule se troue bondgenote, Carl Niehaus, het ook gewaarsku teen verdere verdeling in die organisasie as gevolg van Magashule se inhegtenisname. Niehaus sê hy is besorg oor verdere faksiegevegte, mobilisasie en verdeeldheid in die ANC as gevolg van die saak. Niehaus het aangedui dat hy en die MK-veteraanverenging Vrydag ook by die hof sal wees om Magashule by te staan.
Die adjunksekretaris-generaal van die ANC, Jessie Duarte, het tydens Woensdag se virtuele nuuskonferensie gesê Magashule sal sy volle samewerking aan wetstoepassingsagentskappe gee. Sy sê hy het gevra dat ondersteuners nie met ANC T-hemde en plakkate by die hof opdaag nie.
Op joernaliste se vrae of Magashule sal opsystaan en sy amp ontruim hangende die saak teen hom, was daar egter geen bevestigende antwoord van die ANC-leiers nie. Mashatile het aan die joernaliste gesê die vraag of Magashule sal opsystaan en uit sy amp tree terwyl die hofsaak aan die gang is, is nie tydens Dinsdagaand se vergadering van die party se topses bespreek nie. Die ANC se leierskap sal later daaroor besluit.
Die saak teen die sewe ander mense en vyf maatskappye wat ook aangekla word van bedrog, korrupsie en geldwassery is intussen in die Bloemfonteinse landdroshof uitgestel tot 19 Februarie aanstaande jaar. Die beskuldigdes sluit die voormalige burgemeester van die Mangaung-metro, Olly Mlamleli, en die sakeman, Edwin Sodi, in.
Hulle staan tereg op meer as 60 aanklagte wat ook verband hou met die beweerde onregmatige toekenning van ’n tender van R255-miljoen vir ’n oudit van asbesdakke.
Volgens die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Vrystaat kan nog inhegtenisnemings in die saak verwag word. Die NVG se woordvoerder, Phaladi Shuping, sê die moontlikheid bestaan dat nog aanklagte bygevoeg kan word. Hy sê uitstel is in die saak gevra omdat ’n forensiese verslag en getuieverklarings uitstaande is.
Pieter-Louis Myburgh, die skrywer van die boek, Gangster State – Unravelling Ace Magashule’s Web of Capture, waarin skokkende onthullings oor Magashule se beweerde korrupsie gemaak word, het Donderdag getwiet dat die afgelope week se gebeure ’n pluimpie is vir diegene wat by die lekkasie van die bewerings oor Magashule betrokke was.
Magashule wat deur sommige kommentators as die mees korrupte politikus in die land beskuldig word, laat hom egter nie deur die swaard wat oor sy kop hang van stryk bring nie. Hy ontken steeds al die bewerings teen hom en sê hy het niks verkeerd gedoen nie. Hy het Myburgh destyds ook met hofaksies gedreig oor sy boek, maar daar het niks van gekom nie.