ActionSA gee Makhosi Khoza die trekpas

  • 0

 ActionSA, wat groot opgang gemaak het tydens die afgelope munisipale verkiesing en hoop om na die volgende algemene verkiesing in 2024 deel te vorm van ’n koalisieregering wat die ANC uit die kussings gaan lig, het een van sy senior lede uit die party geskors.

Makhosi Busisiwe Khoza, wat tydens die munisipale verkiesing ActionSA se burgemeesterskandidaat vir eThekwini was, is Maandagaand deur die party in die pad gesteek.

ActionSA se voorsitter, Michael Beaumont, sê in ’n verklaring ActionSA se senaat het besluit om Khoza se lidmaatskap te beëindig op aanbeveling van sy etiek- en dissiplinêre komitee.

Dit volg glo na ’n reeks “openbare uitbarstings” in Januarie waar sy die party se naam volgens Beaumont se verklaring in oneer gebring het.

Khoza was voorheen ’n ANC-parlementslid wat as voorsitter van die portefeuljekomitee oor staatsdiens en administrasie en op die portefeuljekomitee oor ekonomiese ontwikkeling gedien het. Sy het bekend geword daarvoor dat sy ’n beroep op destydse president Jacob Zuma gedoen het om uit te tree.

Die getuienis wat teen Khoza gebring is, het volgens Beaumont talle openbare uitlatings en kommentaar aan die media ingesluit wat geag is gemaak sou gewees om ActionSA in oneer te bring.

Hy beweer sy het doelbewus opgetree op ’n manier wat die party negatief raak en wat onenigheid in die party veroorsaak het.

’n Dissiplinêre paneel is byeengeroep onder voorsitterskap van advokaat Gill Benson (voormalige waarnemende regter in die Hooggeregshof) waarop ActionSA se Wes-Kaapse provinsiale voorsitter, Vytjie Mentor, ook gedien het. Die etiek- en dissiplinêre komitee het Khoza eenparig op alle aanklagte skuldig bevind en het die beëindiging van haar lidmaatskap aanbeveel.

“Daar is geen redelike verduideliking vir haar voortgesette misbruik van die party wat sy voorgee om te bevorder nie. As ’n hooggeplaaste lid van die party verontagsaam sy die reputasieskade aan die party vir oënskynlike publisiteit en eie gewin. Haar lojaliteit lê nie by ActionSA nie, maar lê eerder by die strewe om haar eie politieke aspirasies te laat groei, ten koste van haar kiesafdeling en ActionSA.”

Volens die getuienis voor die paneel was sy kop in een mus met die leiers van ’n groep afgedankte lede van Soweto teen wie daar voorheen opgetree is omdat hulle die party glo doelbewus wou destabiliseer.

Daar is bevind dat Khoza en die hoofleier van hierdie groep besig was om die leier van die party, Herman Mashaba, te ondergrawe.

In die verslag van 24 bladsye het die dissiplinêre paneel aangedui dat sy nie die getuienis wat voor die paneel geplaas is, betwis het nie. Volgens die verslag het die paneel geen ander keuse gehad as om teen haar op te tree nie.

Die paneel het bevind dat Khoza geneig is tot samesweringsteorieë en aggressiewe gedrag, en selfs voortgaan om die party te dreig met dreigemente om sy reputasie verder te skaad.

ActionSA sê hulle is verheug dat hul interne instellings die aangeleentheid doeltreffend aangespreek het op ’n wyse wat regverdig en deurslaggewend was. “As ’n party kan ons nie die gedrag van ons lede waarborg nie; dit lê by hul etiek en waardes. Waarvan ons alle Suid-Afrikaners kan verseker, is dat onaanvaarbare gedrag geïdentifiseer en billik en beslissend aangespreek sal word,” lui die verklaring.

ActionSA sê hulle het geen kwaadwilligheid teenoor Khoza nie. “Hoewel haar optrede dalk nie verskoonbaar was nie, bly Khoza ’n individu wat ’n belangrike rol in die Suid-Afrikaanse politiek gespeel het. Ons wens dr Khoza sterkte toe in haar toekomstige pogings buite ActionSA.”

Khoza het in reaksie op haar skorsing gesê sy hoop almal sal haar die ruimte gun om die nuus te verwerk. Sy het op Facebook daarop reageer en sê sy moes by die media daarvan hoor. “Ek het op hierdie stadium geen kommentaar nie, aangesien ek nog nie die uitslag van ’n dissiplinêre verhoor ontvang het nie.” Sy sê die verklaring wat uitgereik is, is vol wanvoorstellings van die beraadslagings van ActionSA se etiek- en dissiplinêre komitee.

Heelwat van haar ondersteuners het haar sterkte toegewens, maar aangeraai om die politiek vaarwel te roep.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top