ActionSA oorhandig Tshwane aan EFF en ANC se RET-faksie

  • 0

ActionSA het Tshwane aan die ANC en EFF oorhandig, wat ’n gevaarlike pakt geskep het. Die verkiesing van ActionSA se Nasiphi Moya as die Jakarandastad se burgemeester dui op ’n hereniging tussen die ANC en sy voormalige korrupte RET-faksie.

So het die DA reageer nadat Moya Woensdag met 122 stemme tot burgemeester van Tshwane verkies is teenoor Cilliers Brink van die DA se 86 stemme. Daar was geen bedorwe stembriewe nie.

Brink is verlede week as burgemeester uit die kussings gelig nadat ActionSA sy rug op die DA-geleide koalisie waarvan hulle deel was, gedraai het.

ActionSA het in hulle reaksie gesê Moya is ’n hoogs gekwalifiseerde individu met uitgebreide ondervinding in plaaslike regering om goeie bestuur te herstel en die hoofstad reg te ruk.

“Dit is tyd om ’n nuwe aksie vir Tshwane te begin en dit te omskep in ’n stad wat vir alle inwoners werk,” het ActionSA op X gesê.

Moya is die vierde burgemeester van die hoofstad sedert die plaaslikeregeringsverkiesing in 2021. Sedert 2016 is Tshwane deur ’n DA-geleide koalisies regeer, en Woensdag se verkiesing beteken die einde van DA-geleide regering in Tshwane.

Die ANC se Gautengse sekretaris, Thembinkosi Nciza, het gesê die agt jaar met die DA aan die stuur van die hoofstad was rampspoedig.

Die jongste regeringsverandering in Tshwane is die gevolg van ’n oor-en-weer-twis tussen ActionSA en die DA.

ActionSA beskuldig die DA daarvan dat hulle dienslewering in Tshwane volgens rasselyne geprioritiseer het. Hulle beweer in ’n verklaring onder andere dat die DA dienslewering aan wit inwoners blatant vooropstel ten koste van ander rassegroepe in die stad.

Volgens ActionSA was hulle vertrek uit die veelpartykoalisie onder leiding van die DA nie net geregverdig nie, maar ook nodig om ActionSA se waardes van regverdigheid en gelykheid te handhaaf, en om te verseker dat dienslewering aan alle inwoners van die Stad Tshwane verbeter word en nie net vir ’n paar uitgesoektes beskore is nie.

Die DA beskuldig ActionSA op hulle beurt daarvan dat hulle leier, Herman Mashaba, se ego daarvoor verantwoordelik was dat die toekoms van die Tshwane-koalisie in duie gestort het.

Die DA se nasionale woordvoerder, Willie Aucamp, het ActionSA en sy leier vroeër in ’n sterk bewoorde verklaring van skynheiligheid beskuldig.

Hy het gesê Mashaba het ActionSA in die nuttige idiote van antigrondwetlike magte in die Suid-Afrikaanse politiek verander, en in die proses die toekoms van die hoofstad in gevaar gestel.  

“Die party se optrede teenoor koalisievennote, ondersteuners en die publiek is gekenmerk deur leuens, bedrog en verraad.”

Met ActionSA se hulp het die Lesufi-faksie van die ANC saam met hulle bondgenote in die EFF nou die mag van die land se administratiewe hoofstad bekom.

Die wantrouemosie om van Brink ontslae raak is verlede week met 120 teen 87 stemme aanvaar, terwyl een raadslid buite stemming gebly het.

Die DA sê hulle sal nie verbaas wees as ActionSA verdere stappe doen om hom in die komende maande ook by die sogenaamde progressiewe koukus in die parlement, wat die EFF en MK insluit, te skaar nie.

Die afgelope weke se gevegte in Tshwane sal na verwagting ’n deurslaggewende invloed op 2026 se munisipale verkiesing hê.

Sommige waarnemers glo die kiesers gaan ActionSA swaar straf omdat hulle hul rug op die DA-geleide koalisie gedraai het en beskuldig die party van verraad.

Ander meen weer dit kan die ANC, EFF en ActionSA by die stembus baat as hulle daarin slaag om die stad oor die volgende twee jaar goed te regeer, maar is skepties of hulle daarin sal slaag.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top