Die brose koalisieregering in Ekurhuleni het ’n nuwe terugslag gekry nadat ActionSA uit die minderheidskoalisie onttrek het enkele dae nadat die DA se Tania Campbell as burgemeester van die metro herverkies is.
ActionSA het Maandag in ’n verklaring gesê hulle sal nie meer deel wees van die minderheidskoalisie in Ekurhuleni nie. Die party het kommer oor basiese dienslewering as belangrikste rede aangevoer waarom hulle nie meer deel wil wees van die koalisieregering nie.
Hulle beweer inwoners is ontevrede met basiese dienslewering in Ekurhuleni en dat vooraf ooreengekome koalisieprioriteite nie geïmplementeer is nie, ten spyte van ’n “getekende ooreenkoms”.
Residents are unhappy with basic service delivery in Ekurhuleni, pre-agreed coalition priorities have not been implemented, despite a "signed agreement", & there is deliberate national obstruction against attempts to form a majority in Ekurhuleni.https://t.co/eZimyr5q8q
— ActionSA (@Action4SA) November 14, 2022
“In Ekurhuleni sal ActionSA deel vorm van ’n stemblok wat sal werk om die ANC uit te hou, mosies van wantroue te verslaan en besluite aan te neem wat die diensleweringsbehoeftes van die inwoners van Ekurhuleni dien, maar ons kan nie aandadig wees aan mislukte dienslewering nie,” sê die party se nasionale voorsitter, Michael Beaumont.
Die jongste woelinge in die onstabiele metro volg nadat die DA-burgemeester aanvanklik deur die ANC en die EFF uit die kussings gelig is en haar amp moes ontruim. Sy het egter verlede week haar burgemeestersketting teruggekry toe die ANC en die EFF nie daarin kon slaag om ’n ooreenkoms te bereik oor wie die volgende burgemeester moet wees nie. Die EFF het daarop aangedring dat dit iemand uit hulle geledere moet wees, terwyl die ANC sê hulle is geregtig op die pos omdat hulle meer lede in die raad het as die EFF.
Kiesers het uiteenlopend op Twitter reageer op ActionSA se onttrekking uit die koalisie.
Sommige beskuldig die DA van arrogansie en sê daar is geen verbetering in die dienslewering onder Campbell se bewind nie, terwyl ander gesê het dit is wonderlik, want dit beteken dat die DA uiteintlik kan begin fokus op werklike dienslewering, in plaas daarvan om gedurig oor sy skouer hoef te loer na wat ActionSA sê.
Jean Meyer sê op Twitter ActionSA het 6% in Ekurhuleni gekry met 15 raadslede teenoor die DA se 65 raadslede. “Vertel my weer, wie is deur die kiesers verwerp?” Volgens hom is dit ActionSA se manier om te sê die DA wou hulle nie toelaat om hul vriende, die EFF, in die koalisie in te bring nie. Hy meen dit is “pateties” dat ActionSA steeds met die EFF wil saamwerk nadat hul eie lede daarteen gestem het.
Volgens ActionSA sal hulle van nou af elke keer wanneer daar gestem word, van geval tot geval hanteer. “Ons verbintenis om die inwoners van Ekurhuleni te dien is ’n prioriteit vir ons en ons sal stemme onafhanklik beïnvloed wat die inwoners sal bevoordeel,” sê die party in hulle verklaring.
Volgens Beaumont het die party se senaat verlede week beraadslaag oor ’n verskeidenheid aangeleenthede wat verband hou met hulle benadering tot veelpartykoalisies.
Hy sê dit het die vraag oor Ekurhuleni ingesluit ná die heraanstelling van die uitvoerende burgemeester deur alle koalisievennote, insluitend ActionSA.
Die party sê hy sal sy getalle in die raad gebruik om oor belangrike sake soos die goedkeuring van begrotings te besluit.
“ActionSA se koukus in Ekurhuleni het ernstige kommer uitgespreek oor die agteruitgang van basiese dienslewering in die metro, veral in terme van die betroubaarheid van vullisverwydering, elektrisiteit en watervoorsiening”.
Volgens Beaumont het ActionSA ’n openbare peiling gehou waarin meer as 3 000 inwoners van Ekurhuleni in verskeie gemeenskappe en demografiese gebiede gebel is om die situasie te evalueer.
Hy sê die resultate was veelseggend en toon dat 62% van die respondente gevoel het die metro gaan die afgelope jaar in die verkeerde rigting; 82% het gevoel dienslewering het erger geword (50%) of dieselfde gebly (32%); en 57% het nie die koalisie vertrou om voort te gaan om te regeer nie.
Hierdie inligting staaf volgens ActionSA ernstige kommer oor basiese dienslewering wat nie behoorlik geprioritiseer word nie en die onvermoë om die aanstelling van professionele staatsamptenare te verseker om departemente doeltreffend te lei en die ANC-gebonde sabotasie van basiese dienste stop te sit.
ActionSA het ook besluit dat hulle nie enige posisies sal inneem in die hersaamgestelde burgemeesterskomitee wat deur die veelpartykoalisie heronderhandel word nie.
“Ons glo dat ons moet veg vir beter dienslewering vir al die inwoners van Ekurhuleni. Dit vereis dat ons uitvoerende posisies prysgee en verseker dat ons onbelemmerd kan veg sonder vrees dat poste ons steun koöpteer.”
Die party sê hulle bly onomwonde daartoe verbind om die ANC uit hierdie regering en alle ander regerings te hou, maar hulle kan nie aandadig wees aan mislukte dienslewering nie.