Johannesburg se burgemeester, Thapelo Amad, wat vroeër vanjaar met behulp van die ANC, EFF en kleiner partye daarin geslaag het om die DA-burgemeester uit die kussings te lig, kan binnekort ook sy goue ketting kwyt wees minder as drie maande nadat hy tot die amp verkies is.
ActionSA het Dinsdag mosies van wantroue in die Stad Johannesburg se burgemeester, asook die speaker, Colleen Makhubele, en ander ampsdraers ingedien.
Today we will submit motions of no confidence against the Joburg puppet-mayor Thapelo Amad, dishonest Speaker Colleen Makhubele & other office bearers due to their poor leadership & backhanded dealings by the ANC's Gauteng Provincial Chairperson & EFF.https://t.co/Cy4w5jXQEz
— ActionSA (@Action4SA) April 11, 2023
ActionSA bestempel Amad as ’n marionetburgemeester wat aangestel is deur “skelm transaksies tussen die ANC se Gautengse provinsiale voorsitter, Panyaza Lesufi, en die EFF”.
Amad is die derde burgemeester van Johannesburg in ’n jaar.
ActionSA sê in ’n verklaring Amad het herhaaldelik bewys dat hy jammerlik swak toegerus is vir sy taak en nie in staat is om ’n samehangende plan van aksie en visie vir die Stad Johannesburg te verwoord nie.
Die leier van die Patriotic Alliance (PA), met wie se hulp Amad einde Januarie tot burgemeester verkies is, Gayton McKenzie, het Dinsdag op Twitter aangedui dat sy party waarskynlik die mosie van wantroue teen Amad sal steun.
McKenzie het op Twitter gesê die inwoners van Johannesburg moet eerste gestel word en sy party moet erken hulle het die verkeerde perd gesteun. “Thapelo Amad is gevra om ’n berg te klim wat te hoog is vir hom. Dit benadeel nie net Johannesburg nie, dit vernietig hom ook. Ons sal hierdie flater regstel. Amad behoort nou te bedank. Ons vra groot verskoning,” het McKenzie getwiet.
We must put the citizens of Joburg first and admit we have backed the wrong horse. Thapelo Amad has been asked to climb a mountain too high for him. It’s not just harming Joburg, it’s destroying him too. We will rectify this blunder. Amad should resign now. We apologise profusely
— Gayton McKenzie (@GaytonMcK) April 11, 2023
Daar is veral groot ontevredenheid onder opposisiepartye oor ’n voorgestelde lening van R9,5 miljard wat deur Amad aangekondig is om “die stad reg te ruk”.
Die moontlikheid van so ’n potensiële lening wat vermoedelik van ’n privaat maatskappy sou kom, is in ’n onderhoud met die SABC deur Amad genoem. Hy het gesê hy het ’n vergadering bygewoon waarin hy die lening verkry het om "diensleweringskwessies" en ’n "slimstad" te finansier.
Verskeie politici van verskillende partye het uiters negatief daarop reageer.
“Dit is regtig ’n verleentheid – wat sê die burgemeester? Watter lening? Waar en wanneer is dit bespreek? Watter maatskappy gee hierdie lening? Ons kan nie aanhou om sulke onnoselheid te verdedig nie, ons moet erken dat ons ’n rol gespeel het in hierdie gemors, ons moet ons fout gou regmaak,” het McKenzie op Twitter gesê.
Die mosies van wantroue sal na verwagting by die volgende raadsvergadering op 25 April 2023 dien.
ActionSA sê in hulle verklaring sedert Amad se verkiesing het dienslewering in Johannesburg vinnig agteruitgegaan met hope rommel wat die stad se strate ontsier, terwyl ANC-lede van die burgemeesterskomitee soos Jack Sekwaila hawelose mense vir die stad se gemors wil blameer in plaas daarvan om self verantwoordelikheid te neem.
“Alhoewel politieke verskille moontlik die ampstermyn van vorige burgemeesters en speakers gekenmerk het, is dit veilig om te sê dat inwoners en besighede in die verleentheid gestel word deur die ANC en EFF se optrede in die land se grootste ekonomiese sentrum.”
ActionSA sê hulle is vas oortuig dat die mense van Johannesburg tydens 2021 se munisipale verkiesing vir verandering gestem het deur die ANC se meerderheid drasties te verminder. Hulle sê die huidige burgemeester, speaker en ander ampsdraers se verkiesings was te danke aan “agterbakse transaksies” deur die ANC se provinsiale voorsitter in Gauteng, Panyaza Lesufi, en die EFF.
ActionSA sê hulle sal begin om met alle ander partye in die stadsraad te skakel om te verseker dat die ANC en EFF verwyder word van enige verdere beheer oor Johannesburg en is vol vertroue dat hulle dit sal regkry.
“Ons glo dat om Suid-Afrika reg te ruk, ons die ANC en hul gevolmagtigdes uit hulle magsposisies moet verwyder, en ons sal met alle eendersdenkende politieke partye saamwerk om daardie doelwit te bereik – en om goeie bestuur en kwaliteitdienslewering aan Johannesburg te herstel,” sê die party in hulle verklaring.