Die bekroonde kunstenaar Otobong Nkanga se eerste solo-museumuitstalling in Afrika is nou by die Zeitz Museum of Contemporary Art Africa (Zeitz MOCAA) in Kaapstad te sien. Die uitstalling, getiteld Acts at the Crossroads, is vanaf 21 November 2019 tot 23 Februarie 2020 oop vir die publiek.

Zeitz MOCAA
Acts at the Crossroads is ’n multidissiplinêre uitstalling wat oor sewe vertrekke uitgestal word en sluit kunswerke in wat die kunstenaar oor twee dekades geskep het.
Otobong Nkanga is in Kano, Nigerië gebore en het ’n graad in kuns aan die Obafemi Awolowo Universiteit in Ile-Ife, Nigerië verwerf. Sy het ook van die École nationale supérieure des Beaux-Arts in Frankryk gegradueer en het ’n meestersgraad in uitvoerende kuns van DasArts in Amsterdam.
Sy is ’n gerekende kunstenaar wat tans in België woon en werk, en die 2019 Lise Wilhelmsen-kunsprys van die Henie Onstad-kunssentrum in Noorweë is aan haar toegeken. Die Lise Wilhelmsen-kunsprys is ’n tweejaarlikse prys vir kunstenaars met prysgeld ter waarde van $100 000. Sy het ook vanjaar die kunsprys van die Sharjah Kunsstigting in die Verenigde Arabiese Emirate ontvang.
Otobong Nkanga se eerste uitstalling in Afrika is nou by Zeitz MOCAA te sien
Op Woensdag 20 November is die media uitgenooi om die uitstalling saam met die kunstenaar te besigtig. Die Acts at the Crossroads-uitstalling kyk deur muurkuns, fotografie, skilder en film na die mensdom se komplekse verbintenis met die natuur.
“Dit is vir my besonders om Otobong by die museum te hê. Ek ken haar al vir baie jare en ons het professioneel saam gegroei. Haar kuns vra ons om die aarde as ’n uitbreiding van die menslike liggaam te sien en te verstaan dat dit ook lewend is,” het Koyo Kouoh, uitvoerende direkteur en hoofkurator van Zeitz MOCAA gesê.
“Dis vir my interessant om te dink oor die gebeure by ’n samekoms,” het die kunstenaar tydens haar verwelkoming gesê. “Veral in Suid-Afrika, wat vir my ook ’n soort kruispad is.” Hierdie is die kunstenaar se tweede besoek aan Suid-Afrika. Sy het in Augustus vinnig gekom om aan die uitstalling te werk.
Soos die naam aandui, ondersoek die uitstalling die moontlike gevolge wanneer twee elemente by ’n plek ontmoet. Otobong se werke kyk na die spanning tussen twee elemente wanneer dit saamkom. Sal ’n verbintenis gevorm word? Of moet een ding vernietig word om ’n ander te skep?
Die uitstalling begin en eindig met “Shaping memory” (2012), wat die siklus voltooi. Dié foto het ontstaan omdat Otobong haar tuisdorp wou vasvang. Sy het dit gedoen deur foto’s uit reistydskrifte te sny.
“Dis vreemd dat reistydskrifte en foto’s van Bali en vakansiebestemmings jou tuiste kon skep,” het Precious Mhone, die kurator vir die uitstalling, opgemerk. “Toe ek en Otobong oor die uitstalling ontmoet het, was die proses baie organies – hoe die uitstalling moes wees, was baie natuurlik.”
Die kunstenaar se passie is duidelik terwyl sy vertel oor die kreatiewe proses wat sy ervaar het terwyl sy die werk geskep het. “Ek het die naalde geskep deur my liggaam as maatstaf te gebruik,” vertel Otobong by “The workstation”. “Naaldwerk is ook ’n punt van samekoms. Hoe die naald deurdring tot die materiaal, dit beskadig, om iets anders/nuut te skep.”
Otobong by “The workstation”
Die uitstalling nooi die kyker om deel te word daarvan en ’n verbintenis te vorm met hulself en die omgewing. Die oorgang van een vertrek na die ander is natuurlik en tog treffend. Die werke nooi die waarnemer uit om aktief betrokke te raak by die kunswerk.
“Taste of a stone” is so ’n interaktiewe drie-dimensionele-installasie. Dié kunswerk, wat bestaan uit klippe van lande in Suider-Afrika, plante wat uniek is aan Kaapstad en digkuns deur die kunstenaar, is ’n plek waar die waarnemer kan mediteer.
“Taste of a stone”
Gedig by “Taste of a stone”
“Ek wou die hardheid van klip met plante kontrasteer. Soos die titels van die twee gedigte, “Protect” en “Meditate”, wou ek twee wêrelde saambring. Ek wou ook spesifiek geparfumeerde plante hê; as jy sit, moet jy die pante kan ruik. Ek wil het jy moet jouself tuismaak en deel word van die werke,” het Otobong gesê.
Die kunstenaar (regs) het geopen deur die Zeitz MOCAA-span en die kurator, Precious Mhone (links), te bedank. “Toe ek deur die finale uitstalling stap, het ek ‘ja, ja, ja’ gesê. Baie dankie dat ons saam iets kon maak.”
Die lewensgrootte “Emptied remains” is treffend. Dit is ’n huis waarop die kunstenaar in Caruaru afgekom het. “Ek was gefassineerd deur die uitbreiding, en hoe dit lyk asof die huis vergroot het soos wat die inwoners se rykdom verander het,” het Otobong gesê.
Op die teenoorgestelde muur is ’n reeks skilderye, “Mamie water babe”, wat kyk na hoe ons die liggaam en veral die vroulike liggaam hanteer. “Ons wou die eksterne wat deur ‘Emptied Remains’ voorgestel word in direkte kontras met ’n meer intieme installasie sit. Dit gaan oor die liggaam en hoe ons dit hanteer,” het Precious gesê.
“Awaiting Pleasures” is deel van “Mamie water babe”- installasie.
Volgende is ’n twee- en driedimensionele installasie, “We could be allies”. “Ek het vanoggend 07:00 hierdie installasie klaargemaak,” het die kunstenaar laggend vertel. “Met muurkuns kyk ek altyd na die ondertone wat nie altyd gesien word nie. Hierdie ondertone lei die kyker deur die ruimte.”
By “In a place yet unknown” kry die waarnemer ’n kykie in die kunstenaar se notaboek en hoe sy gedigte skryf. Hierdie tapisserie is in water om te wys hoe ’n iets vernietig word om iets nuut te vorm. “‘In a place yet unknown’ is ’n baie emosionele werk. Dit was tydens Brexit en beeld die emosies uit wat ek ervaar het.”
“Steel to rust” is ’n treffende roosgoud kunswerk wat in die vyfde vertrek uitgestal is. Volgens die kunstenaar is dit deur ’n besoek aan Nottingham geïnspireer. “As jy aan staal dink, dink jy aan krag, mag, aan die industriële revolusie. Maar sodra staal gemaak is, is dit besig om te vergaan. Oksidasie vind plaas en oor tyd verloor hierdie sterk voorwerp sy mag. In Nottingham het ek gesien hoe die plek wat eens geweldig ekonomiese mag gehad het, nou vervalle is. Die ekonomiese mag het na Asië verskuif. Daar is werkloosheid, en baie van die masjinerie is geroes. Dit wys hoe broos plekke van mag is.”
- Acts at the Crossroads is vanaf 21 November 2019 tot 23 Februarie 2020 by Zeitz MOCAA (Kaapstad) te sien
- Foto’s: Cliffordene Norton