Suid-Afrika se adjunkpresident, David Mabuza, wat as president sou moes waarneem indien president Cyril Ramaphosa strafregterlik aangekla sou word weens die Phala Phala-gebeure, kan dalk self strafregtelik aangekla word.
Die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) vra dat aanklagte van georganiseerde misdaad teen Mabuza ingestel word. Mabuza word in ’n verklaring deur Outa daarvan beskuldig dat hy na bewering betrokke is by ’n grondeisebedrogspul van R35 miljard en misdade soos diefstal, bedrog, meineed en intimidasie.
Outa het die saak vroeër die week na die Ondersoekdirektoraat (OD) van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) verwys. Hulle glo daar is voldoende bewyse vir die NVG om altesaam 13 mense – insluitende Mabuza – te ondersoek oor die beweerde grondrestitusieswendelary.
For those saying our timing on reporting #DDMabuza is "convenient", look what we did in 2021 about procurement irregularities he was involved in. Which the #BusisiweMkhwebane tried to hide. Talk about convenient... https://t.co/MHv2jNlZHG
— OUTA (@OUTASA) December 6, 2022
Volgens Outa is hulle belang in die saak die skade wat aan die land, en spesifiek Mpumalanga se ekonomie, aangerig is weens korrupte belange in grondrestitusie en die wildsektor in Badplaas in Mpumalanga
Die volledige klagte word in ’n beëdigde verklaring deur Outa se uitvoerende hoof, Wayne Duvenage, uiteengesit.
Die verklaring bevat ’n ingewikkelde web van bewerings wat terug strek tot 2002, twee jaar voordat die beweerde grondeisebedrogspul in die Suid-Afrikaanse pers aan die kaak gestel is.
Die saak handel oor die aantygings van beweerde korrupsie oor etlike jare wat deur die natuurbewaarder en fluitjieblaser Fred Daniel gemaak is.
Die getuienis in Outa se verwysing kom uit hofrekords in Daniel se siviele aksie teen die Mpumalanga Toerisme-en-Parke-agentskap en ander in die Pretoriase Hooggeregshof oor die verlies van sy 39 000 hektaar natuurreservaat.
Mabuza word nie as ’n verweerder in hierdie litigasie aangehaal nie, maar sy skadu hang volgens Outa oor hierdie saak, wat in 2010 aanhangig gemaak is en uiteindelik in Augustus 2021 verhoor is. Hofstukke sluit ’n 2005-ondersoekverslag deur Ernst & Young in. Baie van hierdie aangeleentheid is breedvoerig in die aanlyn koerant Daily Maverick gedek.
Ses polisiesaakdossiere het in die ondersoek vermis geraak, wat volgens Outa dui op ’n hoëvlaktoesmeer van bewyse van korrupsie.
Outa vra dat die beweerde skuldiges aangekla word onder die sambreelmisdryf van oortreding van artikel 2(1) van die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad (POCA), wat verwys na rampokkeryaktiwiteite wat regstreeks of onregstreeks met verskeie kriminele ondernemings verband hou.
Dit behels onder meer bogenoemde beweerde grondrestitusiebedrogspul, wat die verkryging van voordelige beheer van groot stukke grond behels (soms na bewering bedrieglik) en die verkoop van die grond teen hoë pryse aan die Grondeisekommissie.
Daar is ook bewerings van inkomste wat gegenereer is deur wild dood te maak.
Misdrywe wat gepleeg word ter bevordering van die kriminele onderneming sluit glo die volgende in: regsverydeling; diefstal; bedrog; meineed; minagting van die hof; intimidasie; afpersing; en sameswering, aanhitsing of poging om misdrywe te pleeg wat in POCA gelys word.
Strawwe vir skuldigbevindings aan misdrywe in POCA se artikel 2(1) is boetes van tot R1 miljard of tot lewenslange tronkstraf.
Daniel het in 1999 ’n multimiljardrandprojek vir bewaring en ekotoerisme, die Wieg van die Lewe-projek, gestig wat daarop gemik was om sosio-ekonomiese geleenthede vir verarmde landelike gemeenskappe te skep en biodiversiteit te herstel en te beskerm. Hierdie projek het na bewering die teiken geword van korrupte belange in grondrestitusie en die wildsektor.
In 2008 het Mabuza, destyds ’n Mpumalanga-LUR, die Groter Badplaas Grondeiskomitee op die been gebring. Dit is glo gebruik om Daniel te intimideer as deel van ’n grondgrypaksie. Plaaslike polisie is glo in die proses aangerand, asook Daniel se sakevennoot, terwyl Mabuza na bewering toegekyk het.
Die aanranding, merk Outa op, word in paragraaf 95 van ene Allen se getuieverklaring beskryf. “Mabuza het, volgens Allen, toegekyk met sy arms gevou en ’n glimlag op sy gesig.”
The assault, Outa notes, is described in paragraph 95 of Allen’s witness statement. “Mabuza, according to Allen, watched with his arms folded and a smirk on his face.” https://t.co/qzbXGpn3KH
— Pierre de Vos ⚖️ (@pierredevos) December 6, 2022