Adjunkpresident Mashatile dalk by staatskaping betrek

  • 0

Suid-Afrika se adjunkpresident, Paul Mashatile, is in die spervuur oor sy beweerde rol by staatskaping.

Die nuutgestigte politieke party Rise Mzansi, sowel as die DA, wil Mashatile bykom na mediaberigte dat hy ’n beweerde aandeel in staatskaping gehad het.

Rise Mzansi se leier, Songezo Zibi, sê sy party het aan die waarnemende openbare beskermer, Kholeka Gcaleka, geskryf om te vra dat Mashatile se beweerde oortredings van die Wet op die Etiek van Lede van die Uitvoerende Gesag ondersoek word.

Die DA se nasionale woordvoerder, Solly Malatsi, het intussen gesê sy party sal vandag (Donderdag) ’n klag by die openbare beskermer teen Mashatile en die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, indien vir hulle “rol in wat die beste beskryf kan word as staatskaping”.

News24 het Maandagoggend onthul dat Mashatile na bewering ’n luukse lewe gelei het in duur huise wat besit word deur sakelui wat by staatskontrakte baat gevind het.

Een van Mashatile se grootste weldoeners is na bewering Edwin Sodi, die polities verbonde sakeman wat tans teregstaan ​​op aanklagte van korrupsie en bedrog wat verband hou met ’n Vrystaatse tender van R255 miljoen vir die uitwissing van asbes, saam met die voormalige Vrystaatse premier, Ace Magashule, wat onlangs uit die ANC geskors is.

Die DA sê in ’n verklaring terwyl Mashatile na bewering ’n luukse lewe lei in weelderige wonings wat besit word deur individue wat beweerde voordeel uit staatstenders getrek het, is R3 miljoen na bewering aan Mbalula geleen deur die hoof van die Nasionale Loterykommissie – ’n entiteit wat gestig is om benadeelde gemeenskappe by te staan.

“Dit is presies die soort voorvalle wat staatskaping gekenmerk het gedurende die Zuma-jare, waar korrupte tendervloei uitspattige leefstyle vir hooggeplaaste ANC-amptenare befonds het,” het Solly Malatsi gesê.

Rise Mzanzi sê in hulle verklaring op sigwaarde het Mashatile ernstige oortredings van ten minste die Grondwet, sy ampseed en die Wet op die Etiek van Lede van die Uitvoerende Gesag gepleeg.

“Adjunkpresident Mashatile mag dalk verkeerdelik en arrogant glo dat hy nie aan die media rekenskap hoef te gee nie, maar hy sal binnekort vind dat die Openbare Beskermer nie dieselfde verdraagsaamheid vir oortredings van die wet en basiese demokratiese beginsels deel nie.”

As daar bevind word dat Mashatile enige wet van die land oortree het, moet hy aanspreeklik gehou word op dieselfde manier as wat enige burger sonder die steun van ’n openbare amp sou wees, het Songezo Zibi gesê.

Hy sê geregtigheid en die oppergesag van die reg is hoekstene van die land se grondwetlike demokrasie en enige optrede wat nie met daardie waardes strook nie, moet met die uiterste erns behandel word.

Die DA sê dis hoogs kommerwekkend dat Mashatile na bewering ’n luukse lewe lei in weelderige huise wat besit word deur individue wat by staatstenders gebaat het.

Bykomend tot hierdie kommerwekkende bevindings het dit volgens die DA aan die lig gekom dat die vrou van die voormalige bedryfshoof van die Nasionale Loterykommissie (NLC) na  bewering R3 miljoen geleen het aan Fikile Mbalula, die huidige sekretaris-generaal van die ANC en voormalige minister van sport.

“Hierdie openbaarmaking vestig ’n direkte finansiële band tussen ANC-lede, regeringsministers en die NLC ... Om hierdie kommerwekkende verwikkelinge aan te spreek, doen die DA beslissende stappe teen Staatskaping 2.0. Ons lê ’n formele klag by die Openbare Beskermer, met verwysing na die tersaaklike inligting wat in die Saatskapingsverslag van 2016 onthul is. Hierdie aksie het ten doel om Mashatile en Mbalula aanspreeklik te hou ...”

Die DA sê hulle sal ook volgende week ’n belangrike aankondiging oor hierdie aangeleentheid maak. “Om die klag by die Openbare Beskermer te lê is ’n deurslaggewende stap in ons pogings, en ons doen ’n beroep op alle Suid-Afrikaners om saam met ons die integriteit van ons demokrasie te beskerm en die belange van die mense te beskerm.”

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top