Advertensie-owerheid verbied vingerleklekker-advertensie

  • 0

’n Advertensie wat verlede maand deur die hoenderkitskosgroep KFC uitgesaai is, is vroeër die maand deur die Advertensiestandaarde-owerheid (ASO) verbied.

Iemand het ’n klagte ingedien oor KFC se Streetwise 2-advertensie waarna die advertensie-owerheid dit verbied het.

Die advertensie wys onder andere ’n motor wat sy wiele in ’n stoorkamer tol terwyl ’n groep omstanders toekyk.

Volgens die klaer het die advertensie ’n gevaarlike situasie geskep. Dit is glo soortgelyk aan situasies waarin mense in die land dood is en het dit “genormaliseer”.

KFC het die bewering ontken. Hulle sê daar is behoorlik voorsorg getref om seker te maak die advertensie handhaaf en bevorder ten alle tye die hoogste standaarde wat van die media in Suid-Afrika verwag word.

Volgens ASO het KFC aangevoer dat hulle al die nodige veiligheidsmaatreëls getref het tydens die verfilming van die gewraakte advertensie waarin die tollende motor sy esse ten aanskoue van die omstanders gooi.

Die advertensie is in ’n afgesperde en gekontroleerde gebied verfilm. Tydens die verfilming was daar ook die nodige versperrings aangebring om te keer dat die motor tussen die omstanders inploeg.  

Motorbande is as versperrings gebruik om die voertuig af te sper van die mense in die toneel en daar is gebruik gemaak van ’n professionele bestuurder agter die voertuig se stuurwiel.

KFC sê die doel van die advertensie was om in te speel op die heersende moderne kultuur en met die gehoor te kommunikeer op ’n wyse waarmee hulle kan vereenselwig en wat hulle verstaan.

Hulle sê motortol (car spinning) is in 2014 as ’n motorsport erken. Dit word ook as sulks erken deur Motorsport Suid-Afrika, die Wêreld-motorsportkonfederasie en die Olimpiese Komitee.

Die advertensie het ook ’n vrywaring ingesluit wat dit duidelik gemaak het daar is ’n professionele bestuurder agter die wiel. KFC het ontken dat daar enige bedoeling was om onverantwoordelike en onwettige gedrag te bevorder en aan te moedig, of dat enige persoon se lewe in gevaar gestel is tydens die verfilming van die advertensie.

ASO sê egter hulle het al die relevante dokumentasie oorweeg wat deur die onderskeie partye ingedien is. Daar word onder meer van adverteerders verwag om nie sonder rede, wat op opvoedkundige of sosiale gronde berus, enige visuele inhoud te vertoon van gevaarlike praktyke of situasies wat ’n disrespek vir veiligheid inhou nie.

Die  gewraakte advertensie kan hier op YouTube gesien word en ASO se volledige bevinding kan hier gelees word.

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top