’n Maatskappy wat gepantserde voertuie adverteer, sê die bedoeling was nie om aanstoot te gee toe hulle ’n advertensiebord met ’n vulgêre woord op die N3-snelweg in die ooste van Johannesburg in die rigting van die van OR Tambo-lughawe aangebring het nie.
Die Advertensiebeheeerraad (ARB) wou egter niks weet van ’n advertensiebord op die snelweg met die woorde “Fear Fokol” op nie. iCar Technologies is aangesê om die advertensie óf te verwyder óf dit te wysig nadat twee vroue die frase aanstootlik en kru gevind het en by die ARB daaroor gekla het. Dit is volgens hulle nie gepas dat die tweede woord op ’n advertensiebord verskyn waar kinders dit waarskynlik sal sien nie.
Die maatskappy, wat nou landswye gratis publisiteit kry as gevolg van die bohaai, spog heerlik oor hulle “vreeslose reklamebordveldtog”. Die advertensie het hulle selfs die Hero-titel op CapeTalk se The Money Show met Bruce Whitfield besorg.
Armoured Mobility' billboard campaigns have just earned us the Hero title on CapeTalk’s The Money Show with Bruce Whitfield!
Listen/Read here:https://t.co/6a6hpAZOyB#ArmouredMobilityHero #FearFokolCampaign #TalkOfTheTown #DrivingInnovation #capetalk @CapeTalk @Orestaki
— ArmouredMobility (@ArmouredM) October 4, 2023
Armoured Mobility sê in ’n verklaring dit is ’n advertensiebord wat “jou dalk laat snak het van skok, jou effens ongemaklik gemaak het, dalk ’n bietjie laat giggel het, of as die bui reg was terwyl jy saamry, het dit jou en die vriende dalk in ’n kollektiewe koor laat uitbars ... Of dit het dalk regtig ‘fokol’ aan jou gedoen.”
Hulle sê mense wat die nuus volg, sou agterkom dat die advertensiereguleerder beslis het dat die advertensiebord verander moet word, aangesien hulle dit as aanstootlik beskou het.
“Ons bedoeling was nie om aanstoot te gee nie en ons het hul versoek aanvaar om die bord te verander,” het die maatskappy op Facebook geskryf.
Die maatskappy bedank diegene wat die advertensie geniet het, en sê hulle entoesiasme verhoog net hulle kreatiwiteit verder.
Die ARB sê in hulle uitspraak sonder om die etimologie van die woord “fokol” na te vors, kan dit redelikerwys aanvaar word dat mense bewus is dat dit die Afrikaanse weergawe van “fok alles” is.
Hulle sê dit kan ook redelikerwys aanvaar word dat, net soos wat Engelssprekende ouers waarskynlik nie hulle jong kinders sal aanmoedig om woorde soos “fok alles” of “fok” te gebruik nie, sal Afrikaanse ouers waarskynlik ook nie hul kinders aanmoedig om sulke woorde te gebruik nie.
Hulle sê is dit ’n vulgêre woord wat algemeen beskou word as onaanvaarbaar vir kinders om te gebruik, of aan blootgestel te word.
Armoured Mobility sê egter hulle veldtogte vang nie net die oog nie, maar stimuleer ook gesprekke, waarvan die belangrikste is dat hulle ’n sterk boodskap aan Suid-Afrika oorgedra het dat hulle groter gemoedsrus in ’n gepantserde motor sal hê.
Our wonderful brand ambassador @RealKhosiTwala takes the reins in this video coverage of our latest marketing campaign that is capturing the attention of Johannesburg motorists.#armouredmobility #collab #KhosiTwala #bulletproofcars #bulletproof pic.twitter.com/C3os3z92QP
— ArmouredMobility (@ArmouredM) September 21, 2023
“Fokol” in Afrikaans impliseer volgens hulle in wese ’n gevoel van niks of niks wees nie. Hulle sê dit is ’n algemeen gebruikte Afrikaanse slengwoord. “Dit was ons invalshoek, naamlik om ’n sterk woord uit die algemene spreektaal te neem en dit te koppel aan ’n gewaagde boodskapstelling wat boekdele spreek.”
Die ARB sê hulle aanvaar dat die adverteerder dalk verkies het om eerder die uitdruklike “fokol” te gebruik as “niks” om die uiterste vertroue in hierdie voertuie te beklemtoon. Hulle meen dit kan moontlik by volwasse gehore aanklank vind, maar in die afwesigheid van bewyse tot die teendeel, is die direktoraat nie oortuig dat ouers, en veral Afrikaanse ouers, daarvoor te vinde sou wees dat hul kinders blootgestel word aan die woord, of die gebruik van hierdie woord in algemene gesprek sou goedkeur nie.
“Deur te fokus op die vetgedrukte frase, met feitlik geen ander teks nie behalwe die handelsmerk en maatskappywebwerf-URL in baie kleiner lettertipes, word die boodskap oorgedra dat die woord ‘fokol’ aanvaarbaar is en as ’n sinoniem vir ’niks’ tydens gewone gesprekke gebruik kan word,” sê die ARB.
Die motivering vir die gewraakte woorde was volgens Armoured Mobility se verklaring om hulle gehoor op dramatiese wyse te laat verstaan hoe om hulself veiliger op Suid-Afrikaanse paaie te hou wanneer die vlakke van daaglikse misdaad op ’n hoogtepunt is.
Hulle sê die advertensie was bedoel om mense op ’n dramatiese manier te wys dat hulle die opsie het om ’n vlak van gemoedsrus te verkry terwyl hulle in ’n beskermde voertuig op die pad is.
“Kan jy jou voorstel dat jy daagliks kan ry en niks vrees nie? Sal jy gelukkiger en minder gestres wees as jou gesin ongedeerd kan wegry van ’n klipgooi-aanval of poging tot kaping?
“Ons wil hê jy moet ‘fokol’ vrees in ’n gepantserde mobiliteitsbeskermde voertuig. Dit is wat ons dryf.
“As ons jou iewers langs die pad aanstoot gegee het, vra ons om verskoning, maar ons sal nie om verskoning vra vir die identifisering van ’n unieke manier om die boodskap oor te dra dat daar meer beskerming vir jou en jou gesin beskikbaar is terwyl jy op Suid-Afrikaanse paaie ry nie.”