Afgedankte openbare beskermer wil nie besgee nie

  • 0

Die afgedankte openbare beskermer, Busisiwe Mkhwebane, is nie van plan om haar lot te aanvaar nie.

Mkhwebane het op sosiale media uitgevaar teen haar afdanking nadat sy amptelik deur president Cyril Ramaphosa per brief ingelig is dat sy formeel van haar pos onthef is.

Sy het op X gesê dit is ’n onreg wat teen haar gepleeg is op Steve Biko-dag en dat sy dit gaan betwis.

Die proses om haar af te dank was die eerste sedert 1994 toe gepoog is om van die voorsitter van ’n hoofstuk 9-instelling ontslae te raak.

Sy beskuldig die DA en ANC per implikasie daarvan dat hulle kop in een mus was om haar uit haar amp te verwyder en sê die twee partye se taak is nou afgehandel.

“Ek wens ons kon sulke ‘gepaardgaande doeltreffendheid’ sien om beurtkrag te beëindig. Hierdie onreg, wat ongelukkig op Steve Biko-dag gepleeg is, sal wetlik in hersieningsverrigtinge betwis word,” het sy op X geskryf.

“Die steen wat die bouers verwerp het, het die hoeksteen geword. As ek vergaan, vergaan ek. Ngiyathokoza Mzansi en Afrika.”

Die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) was een van verskeie instansies wat haar ontslag verwelkom het.

Outa het reeds in Junie 2019 formeel aan die speaker van die parlement gevra om Mkhwebane se gedrag en bevoegdheid te ondersoek. Volgens Outa is haar verwydering uit haar amp ’n belangrike mylpaal in die stryd om aanspreeklikheid.

Outa het in ’n verklaring gesê hulle is verlig dat die parlement ten gunste van haar verwydering gestem het.

“Ons bly onwrikbaar in ons missie om openbare amptenare aanspreeklik te hou, om ’n beter toekoms vir Suid-Afrika te verseker.

“Dit was ’n lang, pynlike en duur proses, maar die moeite werd om aanspreeklikheid af te dwing en haar te keer om die mees onverdiende gratifikasiebetaling te ontvang.”

Sy is weg, maar haar nalatenskap word nie vergeet nie, sê Outa.

Volgens Outa het Mkhwebane nie die publiek verdedig nie, maar net haarself. “Haar rekord spreek vanself. Die reeks negatiewe hofuitsprake teen haar verslae het die reputasie van hierdie belangrike hoofstuk 9-instelling geskend.”

Outa het ’n beroep op die parlement gedoen om aanstellings by hoofstuk 9-instellings baie noukeurig te oorweeg. As die kortlys nie minstens een uitstekende kandidaat insluit nie, moet daar volgens hulle opnuut gekyk word na ander potensieel geskikte kandidate.

“Ons doen ook ’n beroep op die parlement om beleid en moontlik wetgewing te oorweeg om kwaaddoeners te keer om openbare fondse te gebruik om hulself teen onredelike koste vir die publiek te verdedig, en om te verseker dat fondse op hierdie manier herwin word.”

Outa en ander organisasies het hulle jare lank vir Mkhwebane se verwydering beywer. “Ons is hartseer dat dit so lank geneem het, in die lig van sulke blatante onbevoegdheid, aangesien die belangrikheid van die kantoor van die openbare beskermer vir die magteloses onmeetbaar is. Haar tyd in die amp was ’n groot onguns vir diegene wat haar hulp regtig nodig gehad het,” sê Outa.

Die DA het in hulle reaksie gesê die geskiedenis sal onthou hoe die ANC, EFF en ander partye die besluit teengestaan het om ’n ongeskikte Mkhwebane te laat aanstel in ’n pos waarvoor sy in die eerste plek nooit geskik was nie.

Corné Mulder van die Vryheidsfront Plus het in sy reaksie gesê Mkhwebane het die publiek in die steek gelaat en was meer oor haar eie belange besorg as oor die beskerming van die publiek.

Mulder sê in ’n verklaring die verskoning dat sy vervang moes word omdat sy besluite teen die regering geneem het, hou nie steek nie. Hy sê die vorige openbare beskermer het dit ook gedoen, maar sy was bevoeg en is daarom nie verwyder nie.

Volgens Mulder was daar geen ander keuse as om van Mkhwebane ontslae te raak nie.

Hy sê die Grondwet maak dit duidelik dat die OB slegs in die geval van wangedrag, ongeskiktheid of onbevoegdheid verwyder kan word, en van wangedrag en onbevoegdheid het die komitee vele voorbeelde uitgewys.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top