Afgedankte SABC-baas wil president van Suid-Afrika word

  • 0

Die omstrede en gediskrediteerde voormalige SABC-baas, Hlaudi Motsoeneng, wat sy werk by die SABC verloor het, mik hoog en wil na volgende jaar se verkiesing Suid-Afrika se nuwe president wees.

Motsoeneng, wat daarvoor bekend is dat sy selfvertroue geen perke ken nie, is van plan om sy eie politieke party te stig. Selfs president Cyril Ramaphosa kan hom nie by die stembus verslaan nie, sê hy.

Hy het Woensdag ’n uitnodiging aan die media gestuur om hulle na ’n “historiese geleentheid” uit te nooi wat Donderdag by die Garden Court Milpark Hotel in Johannesburg plaasvind. Volgens die uitnodiging moet alle Suid-Afrikaners wat transformasie wil hê die geleentheid bywoon. Die Sowetan het Woensdag berig die stigting van ’n nuwe politieke party deur Motsoeneng is ’n gegewe. “Ek gaan die land skok,” het hy aan die koerant gesê.

Die slagspreuk op die uitnodiging wat Motsoeneng Woensdag aan die media gestuur het lees: “The future is in your hands,” wat daarop dui dat sy kop politiek toe staan en dat hy sy eie party wil begin.

Dit is nie die eerste keer dat Motsoeneng met sy talente spog nie. Hy het verlede week na sy verskyning in die Hooggeregshof in Johannesburg gesê hy sal hom as president van die land verkiesbaar stel want, “Suid-Afrika het ’n Hlaudi nodig om Suid-Afrika te verander.”

Tydens ’n byeenkoms wat die Incredible Happenings Ministries se leier profeet Paseka “Mboro” en die burgerregte organisasie  #NotInMyName gereël het, het die gewese SABC-baas gesê daar is baie foute in die land wat hy sal regstel as hy die top plek in die Uniegebou beklee.

Motsoeneng wat daarvan beskuldig word dat hy die SABC tot op die rand van bankrotskap bestuur het, glo skynbaar vas hy kan die land red van finansiële ondergang. Hy sê wanneer dit oor Suid-Afrika se eie mense gaan, kry hulle net die krummels en die buitestaanders kry al die geld. “Dit is tyd om ’n einde daaraan te maak. Mense sê daar is geen geld in Suid-Afrika nie, maar daar is geld in Suid-Afrika. Ek het dit by die SABC gesien toe ek gesê het 90 persent van die uitsaaier se programme moet plaaslike inhoud wees en nie aan buitestaanders gaan nie.”

Woensdag het hy aan News24 gesê “Jy weet, ek is die beste leier in Suid-Afrika,” en bygevoeg dat die mense dit nie kon raaksien toe hy by die SABC was nie, as gevolg van al die drama gedurende daardie tyd by die openbare uitsaaier. Hy reken sy onafhanklike denke is sy sterk punt.

Volgens Motsoeneng is die grootste uitdaging om die land se armoedevraagstuk op te los. Hy sê daar is ook witmense wat  in armoede leef en dat sy party albino’s, gays en ook mense met gestremdhede sal insluit. “Ek wil alle Suid-Afrikaners betrek ongeag hulle oortuigings. Die posisie van swartmense sal egter nie gekompromitteer word nie want hulle is in die meerderheid.”

Wanneer Motsoeneng in die politieke kryt klim, hoef die kleiner partye skynbaar nie bekommerd te wees nie. Hy het sy oog op die groot kanon naamlik die ANC. Hy het aan News24 gesê in sy oë bestaan die DA en die EFF nie eers nie en hy gaan op die ANC fokus.

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top