AfriForum eis Cele se afdanking

  • 0

Die burgerregteorganisasie AfriForum het met ’n veldtog begin om die publiek se steun te werf om van die minister van polisie, Bheki Cele, ontslae te raak.

AfriForum se regs- en risikobestuurder vir Gemeenskapsveiligheid, Marnus Kamfer, sê in ’n verklaring die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) verkrummel onder Cele se leiding. Hy sê president Ramaphosa behoort in te gryp. Die organisasie het ’n skrywe aan Ramaphosa gestuur waarin hulle eis dat Cele afgedank word.

AfriForum meen Cele het al herhaaldelik deur sy handelinge, beweerde nalatigheid en uitlatings bewys dat hy nie geskik is vir só ’n kardinale rol in ’n land wat lamgelê word deur misdaad nie. Hulle wil nou die publiek se steun aanlyn wen om druk uit te oefen op Ramaphosa om van Cele ontslae te raak. Die organisasie het ’n skakel op hulle webwerf geplaas om handtekeninge in te samel van mense wat ook van Cele wil ontslae raak.

Die onlangse onthulling dat die SAPD se interne stelsels waarop onder meer bewysstukke gestoor en geliasseer word, al maande lank buite werking is, is maar net een voorbeeld van Cele se nalatigheid, sê AfriForum in hulle verklaring.

Die stelsel is afgeskakel ná maande se beweerde wanbetaling deur die polisie. Boonop het die SAPD glo net eenvoudig nie gehoor gegee aan hofbevele en ander gesagstrukture oor die betaling van die stelsels nie. Die feit dat die stelsels vermoedelik nie na behore werk nie, is tot die nadeel van die hele strafregstelsel. Dit is dieselfde stelsel wat rekord hou van vuurwapens wat aan polisielede uitgereik word wat reeds maande lank buite werking is.

Die Minister word ook daarvan beskuldig dat hy ’n boeliehouding het. “Cele se boeliehouding wanneer hy by polisie-operasies betrokke raak, word deur baie van sy ondergeskiktes nagevolg, met die gevolg dat die SAPD gereeld gewelddadig raak met lede van die publiek om ongegronde redes,” voer AfriForum in hulle verklaring aan.

AfriForum sê hulle het al talle mense bygestaan met hulle klagtes teen die polisie en het ook gehelp om die SAPD vir skadevergoeding te dagvaar.

“Die minister het selfs onlangs tydens ’n televisieonderhoud erken dat hy nie weet wie die hoof van misdaadintelligensie is nie. Sy houding is traak-my-nieagtig en sy persoonlike sienings oorskadu sy oordeel om sy werk na behore te doen. Die SAPD verkrummel onder sy leiding,” sê Kamfer.

Afriforum se eis dat Cele afgedank word, geskied te midde van aanduidings deur Ramaphosa self dat ’n kabinetskommeling moontlik op hande is. Politieke waarnemers verwag nie grootskaalse skommeling nie, maar wel ’n paar sleutelskuiwe. Cele is een van die ministers wat veral gedurende die COVID-19-inperking uit verskeie oorde onder skoot was.

Dit is nie die eerste keer dat AfriForum hulle mes in het vir Cele nie. Die organisasie het al verskeie kere in die verlede swaarde met hom gekruis. Hy is onder meer daarvan beskuldig dat hy boere afjak en nie genoeg doen om plaasmoorde te bekamp nie.

Cele se optrede tydens die ramptoestand het hom verder ongewild gemaak by die publiek. Talle mense het onder andere woedend reageer op die polisie se hardhandige optrede by strande gedurende die inperkings. Cele het verskeie van die strande besoek onder begeleiding van swaargewapende polisiemanne en die indruk geskep van ’n minister in ’n polisiestaat wat sy mag misbruik.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top