Die burgerregteorganisasie AfriForum en die DA het albei bloutjies geloop in die hof met hulle pogings om die regering se sluiting van sekere strande as gevolg van COVID-19 ongrondwetlik te laat verklaar.
Vakansiegangers sal nou maar oor die feesseisoen vir lief moet neem dat alle strande in die Oos-Kaap, asook in die Tuinroete, tot 3 Januarie 2021 (vanaf 16 Desember 2020) gesluit sal bly. Dit beteken ook dat alle strande in KwaZulu-Natal steeds op 25, 26 en 31 Desember, asook 1 tot 3 Januarie gesluit sal wees.
Regter Hans Fabricius het Woensdag verskeie aansoeke om strande wat gesluit is, weer oop te stel, in die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria van die hand gewys. AfriForum en verskeie ander sake- en belangegroepe is hof toe oor die gevolge wat die sluiting van strande vir die ekonomie inhou. AfriForum sê in ’n verklaring hoewel die aansoek nie geslaag het nie, is dit belangrik om die kollig te plaas op die gevolge wat die regering se besluit vir sakeondernemings inhou.
Die aansoeke is gebring deur die Groot-Brakrivier-sakeforum, die gastehuiseienaar Louis Cook en AfriForum teen die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Nkosazana Dlamini-Zuma, die Kouga-munisipaliteit teen Dlamini-Zuma, en die Buffelsbaai Huiseienaarsvereniging en twee ander applikante teen Dlamini-Zuma en pres Cyril Ramaphosa.
’n Soortgelyke aansoek van die DA teen die sluiting van strande in die Tuinroete is Maandag deur die Hooggeregshof in Kaapstad ook van die hand gewys.
AfriForum sê alhoewel hulle teleurgesteld is met die uitspraak, wil die organisasie die publiek aanmoedig om steeds hul gunstelingvakansiebestemmings te besoek, asook om plaaslike sakeondernemings te ondersteun om dié kusdorpe se finansiële las te verlig.
AfriForum se hoof van veldtogte, Monique Taute, sê hierdie sakeondernemings gaan heel waarskynlik nou geweldige, en in baie gevalle onherstelbare, skade ly as gevolg daarvan dat vakansiegangers hul vakansieplanne kanselleer omdat die strande gesluit is.
https://twitter.com/monique_taute/status/1341665328699457536?s=20
“Volgens ’n wetenskaplike studie is die kans om COVID-19 in die opelug op te doen sowat 1%. AfriForum hou daarom vol dat om strande te besoek ’n vorm van vermaak is wat in die opelug plaasvind en mense blootstel aan die son wat bydra tot ’n gesonde immuunstelsel. Die alternatief is dat mense hulself tot plekke soos winkelsentrums en restaurante gaan wend wat ’n baie hoër risiko inhou vir die verspreiding van die virus,” het Taute gesê.
Die DA-leier, John Steenhuisen, het Dinsdag in sy reaksie gesê die party het die aansoek gebring omdat die sluiting van strande oor die feestyd in die Tuinroete die laaste spyker in die doodskis kan wees vir kusekonomieë wat reeds op die rand van ineenstorting is. Steenhuisen het egter die aangepaste ure waartydens strande in die provinsie oop mag wees, verwelkom.
https://twitter.com/Our_DA/status/1341396916110848000?s=20
Volgens ’n beslissing van die Wes-Kaapse Hooggeregshof kan lede van die publiek strande van 06h00 soggens tot 19h00 saans besoek. Die oorspronklike tye was 09h00 soggens tot 18h00 saans. Steenhuisen sê hy is egter teleurgesteld dat die hof die sluiting van strande in die Tuinroete gehandhaaf het. Hy sê die DA is baie bekommerd oor die vernietigende uitwerking wat die sluiting van strande langs die Tuinroete op dié streek se ekonomie het en beskou die hofuitspraak as ’n reuseterugslag vir sakeondernemings in die gebied.
Luister hier na Steenhuisen se reaksie.
AfriForum se regspan sê alhoewel die dringende aansoek nie geslaag het nie, was dit belangrik om die kollig te plaas op die rampspoedige gevolge wat die sluiting van strande vir sakeondernemings veroorsaak het. “Dit is ook belangrik om daarop te let dat die hof se uitspraak nie die regering se optrede kwytskeld nie, maar bloot bevind het dat die sluiting van strande wel ’n geldige besluit deur die regering was,” het Daniël Eloff, AfriForum se regsverteenwoordiger, gesê.