Die burgerregteorganisasie AfriForum en die EFF-leier, Julius Malema, is al weer haaks nadat Malema na bewering opruiende taal gebruik het tydens ’n EFF-saamtrek in die Wes-Kaap.
AfriForum het klagtes teen Malema by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) ingedien vir aanhitsing van geweld en haatspraak.
Dit volg nadat Malema tydens ’n EFF-saamtrek in die Wes-Kaap glo gesê het dat “you [EFF supporters] must never be scared to kill” en dat “a revolution demands that at some point there must be killing, because the killing is part of a revolutionary act.”
AfriForum eis dat die SAMRK Malema se opmerkings ondersoek en ’n kompromislose standpunt inneem en optree teen wat AfriForum as gewelddadige retoriek bestempel.
AfriForum het in ’n verklaring ’n beroep op sy lede gedoen om te help om druk op die SAMRK toe te pas om Malema dringend vir hierdie uitlatings te ondersoek deur die webblad www.stopmalema.co.za te besoek, en sê dit is ’n maklike manier om ’n standaardklag in te dien.
KYK HIER!
Stuur jou klag aan die Menseregtekommissie hier: https://t.co/9ivU5AzpjAHelp ons om druk te plaas op die Menseregtekommissie om Julius Malema te ondersoek na aanleiding van die video waar hy sy volgelinge aanhits om geweld te pleeg. pic.twitter.com/hMWrZPbziA
— AfriForum (@afriforum) October 20, 2022
“Die politieke omgewing in Suid-Afrika hou aan radikaliseer. Elke keer as ’n politikus wegkom met ekstremistiese of gewelddadige retoriek, lei dit tot die eskalasie van sulke retoriek. Dit is jammer dat politieke elite tans dikwels ’n vrypas gegee word deur diegene wat die gesag het om in te gryp. Dit is hoekom dit so belangrik is vir AfriForum om in te tree en te verseker dat daar gevolge is vir die aanhitsing van geweld deur politici,” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.
Van Zyl sê in die lig van ’n politieke omgewing wat toenemend gekenmerk word deur politici wat straffeloos met geweld teen minderheidsgroepe dreig, sal AfriForum voortgaan om die opleiding en gereedheid van hulle gemeenskapsveiligheidstrukture te verskerp. “Ons moedig die publiek sterk aan om by sulke inisiatiewe betrokke te raak,” het Van Zyl gesê.
Vroeër vanjaar het AfriForum appèl aangeteken teen ’n hofuitspraak waartydens die gelykheidshof bevind het dat die dreunsang “Kill the boer” nie haatspraak is nie.
Ernst Roets, hoof van Beleid en Aksie by AfriForum, het gesê dat hierdie uitspraak ’n baie gevaarlike presedent skep. Hy het gesê “die steurende boodskap” wat met hierdie uitspraak gestuur word, is dat die aanmoediging van die gruwelike moord van ’n sekere groep gebaseer op hul identiteit aanvaarbaar is en geen gevolge dra nie.
“AfriForum werk konstant met die slagoffers van plaasaanvalle, asook die familie van vermoordes in hierdie grusame misdade. Ons begryp die pyn en trauma wat hierdie slagoffers en oorlewendes mee moet saamleef. Ons is dus diep teleurgesteld met die uitspraak. Daar is geen plek in die samelewing vir liedere wat die moord van mense gebaseer op hul identiteit aanmoedig nie,” het Roets na die uitspraak gesê.
Volgens hom het die uitspraak bewys hoe die politieke bestel in Suid-Afrika besig is om te radikaliseer, veral teen minderhede. Hy het gesê ’n politieke bestel waar die aanhitsing en verromantisering van geweld teen minderhede deur die regbank goedgekeur word, is nie ’n vrye, demokratiese bestel nie, maar ’n onderdrukkende bestel.
In 2019 het die MRK bevind dat sommige van Malema se uitsprake “klink” na haatspraak maar nie kwalifiseer as haatspraak nie.
Die MRK het bevind dat Malema se opmerkings oor ander rassegroepe aanstootlik is, maar nie regtens kwalifiseer as haatspraak nie.
Die EFF het destyds die MRK se uitspraak verwelkom en gesê diegene wat die klagtes teen Malema gelê het, wou billike kritiek onderdruk. Die party het toe in ’n verklaring gesê hulle maak geen verskoning om robuus te wees en dinge by die naam te noem nie.
Die Vryheidsfront Plus het die MRK destyds daarvan beskuldig dat hy sy geloofwaardigheid met die Malema-uitsprake verloor. Die DA het by daardie geleentheid ook Malema se retoriek teenoor sekere gemeenskappe betreur en gesê dit is ’n bewys van die EFF se populistiese aard wat op haat en uitsluiting teer.