AfriForum en Solidariteit lê nie wakker oor klagtes van hoogverraad nie

  • 0

AfriForum sê hulle het geen slapelose nagte oor die klagtes van hoogverraad teen hulle wat deur die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke) ondersoek word nie. Die afvaardiging na Amerika het hul besoek en gesprekke met rolspelers in die VSA vandeesweek voortgesit.

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) moet nog besluit of daar wel ’n saak van hoogverraad teen AfriForum en Solidariteit is. Die DA en die Vryheidsfront Plus meen albei die kanse op suksesvolle vervolging is ’n ronde nul, terwyl gewone Suid-Afrikaners verdeeld is daaroor.

AfriForum sê die Valke het bevestig dat vier dossiere van hoogverraad oopgemaak is ná beskuldigings oor die verspreiding van misleidende inligting in die VSA oor Suid-Afrika se Onteieningswet.

AfriForum het in ’n verklaring gesê daar is géén regsgronde vir die klagtes van hoogverraad wat teen hulle aanhangig gemaak is nie. Daarom sê Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, dat hy geen slaap hieroor sal verloor nie.

Volgens Kriel is AfriForum gereed vir die Valke se ondersoek.

Kriel is deel van ’n afvaardiging van AfriForum, Solidariteit en die Solidariteit Beweging wat sedert verlede week met politici en ander rolspelers in die VSA vergader ter bevordering van die belange van Afrikaners en Suid-Afrika.

“Daar is eenvoudig géén regsgronde vir die klagtes nie, maar sou die staat besluit om voort te gaan met hul stappe teen AfriForum, sal dit ons punt versterk dat daar ANC-leiers is wat die staatsmasjinerie misbruik om teen ’n deel van die land se gemeenskap te regeer,” sê Kriel. Hy hou vol dat dié misbruik plaasvind terwyl ANC-leiers wat deur die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping in korrupsie geïmpliseer is, skotvry daarvan afkom.

Die DA en Vryheidsfront Plus stem saam met Kriel dat daar geen regsgronde is om hulle te vervolg nie.

Willie Aucamp, nasionale woordvoerder van die DA, het gesê die MKP se onlangse aanklagte van hoogverraad wat teen AfriForum ingedien is, het “geen vooruitsig op sukses nie” en sal slegs houdings teenoor Suid-Afrika in die VSA verhard.

Aucamp het aan die politieke webwerf Polity gesê die land kan nie MKP se hoogverraadaanklagte teen AfriForum in die veranderende globale omgewing bekostig nie. Hy het dit beskryf as “ligsinnige toertjies wat net verdeeldheid aanblaas”.

Die leier van die Vryheidsfront Plus, Corné Mulder, sê die klagte van hoogverraad wat die Valke teen AfriForum ondersoek weens die beweerde “verspreiding van misleidende inligting” druis in teen gesonde regsbeginsels. Ook is die groot skade wat aan die land berokken word, te wyte aan die gevolge van ANC-beleidsrigtings en staatskaping.

Mulder sê in ’n verklaring daar kan hoegenaamd nie toegelaat word dat die ANC homself die alleenreg toe-eien om sy eie, eensydige boodskap aan die wêreld te stuur oor die stand van sake in Suid-Afrika nie.

Op platforms soos X word die saak aktief bespreek. Sommige gebruikers beskryf dit as ’n poging deur die “kommunistiese ANC-regering” om AfriForum en Solidariteit-leiers stil te maak. Ander sien dit as ’n legitieme reaksie op AfriForum se omstrede optrede.

Groepe soos Professionals Unity of South Africa (Profsa) en Operation Dudula het AfriForum in ’n gesamentlike persverklaring veroordeel vir wat hulle “leuens” noem oor die marginalisering van Afrikaners. Hulle het nie eksplisiet die hoogverraadsaak genoem nie, maar hul kritiek ondersteun die narratief dat AfriForum se optrede skadelik is vir die land en verdien om aangespreek te word.

Die EFF, onder leiding van Julius Malema, het AfriForum se besoek aan die VSA ook as “verraderlik” bestempel, wat impliseer dat hulle die idee van ’n ondersoek of aanklag verwelkom.

Solidariteit se bestuurshoof, Dirk Hermann, het op X gesê die bewerings van hoogverraad is belaglik. Dit is teleurstellend dat die reg gebruik word om politieke punte te maak, het hy gesê.

Volgens Kriel sal enige potensiële hofverskyning van AfriForum aan hulle die platform bied om uit te wys hoe dislojaal ANC-leiers optree teenoor gewone mense van die land deur met die land se toekoms te dobbel. Dit word volgens Kriel gedoen deur middel van roekelose beleidsrigtings soos die Onteieningswet, die Wysigingswet op Wette op Basiese Onderwys (Bela), rassediskriminasie en ’n onverskillige buitelandse beleid.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top