Gauteng se premier, Panyaza Lesufi, het uit onverwagte oord steun gekry vir sy planne om misdaad in die provinsie te probeer bekamp.
AfriForum se voorsitter, Kallie Kriel, sê Lesufi en Gauteng se nuwe misdaadvoorkomingseenheid is ’n positiewe stap wat genoodsaak is deur die mislukking van gesentraliseerde polisiëring in die land.
“Dit is ’n onbedoelde stap in die rigting van federalisme en die devolusie van polisiëringsmagte na provinsies en gemeenskappe,” het Kriel in ’n videoboodskap op Twitter gesê.
Hy sê dit is nie dikwels dat AfriForum met Lesufi saamstem nie, maar hierdie keer moet krediet gegee word waar krediet verskuldig is.
The formation of Panyaza @Lesufi and Gauteng's crime prevention warden unit is a positive step necessitated by the failure of centralised policing in the country. This is an unintended step towards federalism and the devolution of policing powers to provinces and communities.… pic.twitter.com/x2Ks39Wa0k
— Kallie Kriel (@kalliekriel) April 30, 2023
Altesaam 3 000 misdaadvoorkomingsbeamptes is van Maandag af in die strate van Gauteng ontplooi om misdaad in die provinsie te bekamp nadat hulle die naweek uitpasseer het.
From the 1st of May we will unleash a new force to protect our citizens especially in the townships, informal settlements and hostels. pic.twitter.com/UXStDzMMj6
— Panyaza Lesufi (@Lesufi) April 26, 2023
Lesufi het hom verlede jaar tydens sy eerste provinsiale rede daartoe verbind om misdaad, wetteloosheid en vandalisme in Gauteng te bekamp. Hy het gesê dit is ’n top prioriteit vir die provinsiale regering.
’n Aantal misdaadbekampingsmaatreëls is ingestel, insluitend die opleiding van 6 000 nuwe misdaadvoorkomingsbeamptes om wetstoepassing te versterk. Na drie maande se opleiding het die eerste groep Sondag amptelik uitpasseer tydens ’n uitpasserigparade by Giant Stadium in Soshanguve.
Lesufi sê in ’n verklaring hierdie beamptes sal daarvoor verantwoordelik wees om polisiesigbaarheid op wyksvlak te verseker. Hulle sal nóú saamwerk met gemeenskapspatrollies om die publiek op straatvlak teen misdaad te beskerm.
Hulle sal ook vennootskappe met skole regoor die provinsie vorm om kriminele elemente binne en buite die skole teen te werk en die nodige ondersteuning en tydige reaksie op misdaadvoorvalle te help verskaf.
Lesufi sê hulle sal verantwoordelik wees vir die uitwissing van wetteloosheid deur verskerpte wetstoepassingsoperasies. “Hulle sal voorvalle van onwettige grondbesetting voorkom, wat ook skade insluit wat aangerig word aan staatsinfrastruktuur. Grondbesettingsuitdagings sal in samewerking met die Gautengse Departement van Infrastruktuurontwikkeling en Menslike Nedersettings aangespreek word.
Die werwingsveldtog het 21 000 aansoeke vanoor vyf streke in Gauteng gelok. Na noukeurige evaluering is 10 650 aansoekers op die kortlys vir die volgende fase. Hierdie streng proses het volgens Lesufi 6 000 dinamiese en fisiek bedrewe jongmense opgelewer wat die afgelope drie maande intensiewe opleiding ondergaan het.
Die nuwe misdaadvoorkomingsbeamptes sal die bestaande wetstoepassingsbeamptes versterk in die bekamping van misdaad op wyksvlak. Hulle sal e-polisiëringsoplossings soos hommels en helikopters gebruik om kriminele elemente in die verskillende Gautengse gemeenskappe uit te skakel.
Taking our rightful place to reinforce those assigned the task to take out criminality in our communities. Proud moment pic.twitter.com/mS2xTpgY0K
— Panyaza Lesufi (@Lesufi) April 29, 2023
Hul ontplooiing in brandpuntgebiede vorm deel van geteikende gebiede vir misdaadvoorkomingsoperasies om kriminele aktiwiteite af te skrik en misdadigers op te spoor sodat daar teen hulle opgetree kan word, sê Lesufi.
Die misdaadbestryders sal aanvanklik op 361 wyke in die informele gebiede of townships fokus en later oor die hele Gauteng heen uitbrei.
Lesufi sê die bekamping van misdaad is ’n gesamentlike poging
“As ons misdaad in ons provinsie suksesvol wil bekamp, moet ons as regering dit saam met ander doen. Ons benodig ’n multisektorale benadering wat polisie, die private sektor sowel as lede van die gemeenskap insluit. Ons doen ’n beroep op lede van die gemeenskap om alle elemente van misdaad aan te meld. Deur saam te werk, kan ons veilige gemeenskappe help skep.”
Die premier sê van dié maand af sal Gauteng se voorstede, townships, besighede, skole en ander openbare plekke ook met hoëtegnologie-gesig- en -motorherkenningskringtelevisie verbind wees.
[In Pictures]: Pass Out Parade of Crime Prevention Wardens at the Giant Stadium in Soshanguve,Tshwane. #WarOnCrime #BootsOnTheGround pic.twitter.com/xVNT4FzoV2
— GP Department of Community Safety (@GP_CommSafety) April 30, 2023
“Ons sal ons inwoners bewapen met paniekknoppies wat aan ons wetstoepassingsagentskappe gekoppel sal word. Hierdie paniekknoppies sal ook gekoppel word aan ons CCTV’s en ons nuwe geïntegreerde hoëtegnologiebevelsentrum. Wanneer hulle ook al bedreig voel, sal elke inwoner die knoppie kan druk, en dit sal by die kantoor van ons wetstoepassingsagentskappe registreer.”