Die burgerregteorganisasie AfriForum het die Hooggeregshof in Pretoria Dinsdag in ’n dringende hofaansoek gevra om die aandklokreël wat tydens die ramptoestand ingestel is, ter syde te stel.
Dit volg nadat AfriForum se regspan verlede maand ’n aanmaningsbrief aan Nkosazana Dlamini-Zuma, die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, gestuur het. Daarin voer hulle aan dat die voortdurende implementering van die aandklokreël as deel van die nasionale ramptoestand irrasioneel en ongeregverdig is. Suid-Afrika is sedert 15 Maart 2020 in ’n ramptoestand.
Volgens AfriForum is die voortdurende afdwing van aandklokreëls op die publiek onaanvaarbaar en nie gegrond in feitelike bewyse nie.
AfriForum het in sy betooghoofde gesê hy betwis nie die inperking, die Rampbestuurswet of die minister se reaksie op die pandemie nie. Dit daag bloot die aandklokreël uit.
“Die feestyd is van kardinale belang in die jaarlikse finansiële siklus van sake langs die kus. Die aandklokreël plaas ’n las op hulle deur hul handelsure te beperk. Dit is veral ernstig vir kroeë, tavernes en nagklubs wat gewoonlik na 23:00 handel dryf,” het die organisasie aangevoer.
In die brief aan die minister het AfriForum onder andere versoek dat redes skriftelik verskaf moet word oor waarom daar ’n nasionale aandklokreël ingestel is sowel as bewyse ter ondersteuning van die effektiwiteit van die aandklokreël as voorsorgmaatreël teen COVID-19.
Hulle wou ook hê dat die dokumente en ondersteuningsdokumente, deskundige verslae, bewyse en data wat die besluit om ’n aandklokreël in te stel ondersteun, beskikbaar gemaak moet word.
Daar is geëis dat die implementering van die nasionale aandklokreël summier beëindig moet word.
AfriForum het die minister versoek om op 19 November voor die einde van die werksdag op die brief te reageer. Nadat die minister geweier het om op hulle brief te reageer en aan hulle eise te voldoen, het hulle hul tot die hof gewend vir ’n beslissing.
“Die voortdurende afdwing van aandklokreëls op die publiek is onaanvaarbaar en nie gegrond in feitlike bewyse nie. Daarom tree AfriForum in om hierdie irrasionele besluit te stop. Indien AfriForum nie reaksie op die bogenoemde datum ontvang nie, sal die organisasie verplig wees om die Hooggeregshof te nader om die verdere implementering van ’n aandklokreël te verbied, hangende die departement en minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake se voorsiening van die aangevraagde data, ondersteunende bewyse en redes,” het Jacques Broodryk, bestuurder van veldtogte by AfriForum, verlede maand gewaarsku.
In teenstelling hiermee het die media in Oktober berig die regering se advieskomitee van wetenskaplikes, wat hom oor die COVID-19-pandemie adviseer, meen dit was ’n fout om die aandklokreël te verslap toe daar na vlak 1-inperking beweeg is.
Die advieskomitee wou hê die aandklokreël moes steeds van 23:00 geld en het geargumenteer dat verslapte regulasies ’n vierde vlaag kon vervroeg.
Die toerismesektor en gasvryheidsbedryf verloor egter miljoene rande as gevolg van die maatreëls wat ingestel is en die vroeër sluiting van restaurante en kroeë insluit.
Die jongste wetlike uitdaging vir die nasionale inperkingsregulasies kom terwyl die nasionale COVID-19-bevelsraad hierdie week vergader. Die land hou asem op vir die moontlikheid van verdere inperkings namate die vierde golf van die pandemie oor die land spoel.
Suid-Afrikaners is op hete kole om te sien of daar hierdie week strenger inperkings oor die feestyd ingestel gaan word. Adjunkpresident David Mabuza sou na verwagting Dinsdag die voorsitter wees van ’n vergadering van die nasionale bevelsraad waar die moontlikheid van strenger inperkings bespreek sou word.
Premiers en burgemeesters sou ook hul insette lewer voordat die nasie oor die uitkomste toegespreek word. Verskeie ondernemings het by die regering gepleit om nie hierdie feestyd strenger toesluitbeperkings in te stel nie.
Intussen het hospitale gesê dat hulle steeds nie die vlak van COVID-verwante opnames sien wat in vorige golwe ervaar is nie. Dit kan glo toegeskryf word aan meer mense wat hierdie keer ingeënt is.