AfriForum in diplomatieke geskille betrokke

  • 0

Die burgerregteorganisasie AfriForum bevind hom midde-in ’n diplomatieke geskil tussen Suid-Afrika en Botswana. Dit gaan oor beweerde bedrog en geldwassery in Botswana waarin die sakevrou Bridgette Motsepe-Radebe, skoonsuster van president Cyril Ramaphosa en vrou van oudminister Jeff Radebe, geïmpliseer word.

AfriForum het in Junie vanjaar aangekondig dat die hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, Gerrie Nel, en Phyllis Vorster van die privaatvervolgingseenheid amptelik deur die Botswana-regering aangestel is om hulle in hierdie saak te verteenwoordig.

AfriForum sê in ’n verklaring wat Donderdag uitgereik is, sy mandaat is om die Botswana-regering se versoek om wedersydse regshulp te fasiliteer in die saak van die Bank van Botswana wat oor bedrog en geldwassery handel. Dít volg nadat Stephen Tiroyakgosi, Botswana se direkteur van openbare vervolging reeds in September verlede jaar ’n versoek vir wedersydse regshulp aan die Suid-Afrikaanse regering gerig het. Die versoek het na bewering verdwyn. ’n Nuwe versoek is glo voorberei, maar die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerkende Regering (DIRCO) weier glo om dit te aanvaar, aangesien hulle “in lyn met COVID-19-regulasies” geen dokumente aanvaar nie, sê AfriForum.

Die Suid-Afrikaanse Departement van Justisie en Korrektiewe Dienste se weiering of versuim om die regering van Botswana met wedersydse regshulp by te staan, kan volgens Nel moontlik op regsverydeling neerkom.

Nel het Donderdag aangekondig dat hulle ’n mandamus-aansoek teen onder andere Ronald Lamola, die minister van justisie en korrektiewe dienste, gebring het om dié departement te dwing om die wedersydse regshulp te fasiliteer.

Hy sê die eenheid het geen ander keuse as om hom tot die hof te wend om die departement te dwing om sy plig na te kom nie.

Nel sê hy het kennis geneem van die verslag van die Britse maatskappye Omnia Strategy en Alaco Limited wat in ’n onafhanklike forensiese ondersoek bevind het dat die beweringe teen Motsepe-Radebe en oudpresident Ian Khama van Botswana ’n versinsel is. Hulle word in die verslag deur die Britse regsfirma van alle blaam onthef oor bewerings van geldwassery wat glo politieke onrus in Botswana sou finansier. Volgens Nel is die verslag egter nie van toepassing op wat die land se regering ondersoek nie.

Hy sê dié verslag kan uiteindelik wel nuttig wees om die beskuldigdes se onskuld te bewys. “AfriForum se mandaat is egter nie om hom oor die meriete van die saak uit te spreek of dit te ondersoek nie, maar wel om die Departement van Justisie te dwing om met die regering van Botswana saam te werk,” het Nel Donderdag gesê. Hy sê die saak moet behoorlik deur die polisie ondersoek word voordat enige afleidings gemaak word.

Nel het ook terugvoer gegee oor twee ander internasionale sake waarin die direkteur-generaal van justisie se daadwerklike optrede versoek is, maar geen terugvoer nog ontvang is nie. Dié sake hou verband met die uitlewering van die moordenaars van Patrick Karegeya, voormalige intelligensiehoof van Rwanda, en die uitlewering van Grace Mugabe, voormalige presidentsvrou van Zimbabwe.

Nel het gesê dit lyk of die Departement van Justisie ’n “kop-in-die-sand-houding” het wat dié sake betref en nie bereid is om met die slagoffers van misdaad te praat nie.

In die geval van die Karegeya-saak het die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in September 2019 lasbriewe bekom vir die arrestasie van twee van die vier vermeende moordenaars van Karegeya. Die NVG het toe aangedui dat hulle in proses is om aansoek te doen vir die uitlewering van Ismael Gafaranga en Alex Sugira. Dít volg nadat Nel en AfriForum se privaatvervolgingseenheid die Karegeya-familie bygestaan het in die informele geregtelike ondersoek na die dood van Karegeya.

Die NVG het AfriForum in April 2019 ingelig dat hulle besluit het om aansoek te doen om Mugabe aan Suid-Afrika uit te lewer. Mugabe het Gabriella Engels, ’n Johannesburgse model, in 2017 met ’n elektriese verlengingskoord aangerand en ernstig beseer.

Die NVG het Nel op 2 Junie 2020 in kennis gestel dat die versoek vir die uitlewering vir Mugabe na die Departement van Justisie verwys is vir bevestiging en versending na die Zimbabwiese regering in Julie 2019. “Tot op hede is daar nog geen terugvoer nie. ’n Mens kan eenvoudig nie anders as om die afleiding te maak dat daar geen politieke wil bestaan om die saak deur te voer nie,” meen Nel.

  • Vlae: Pixabay.com
Buro: MvH
  • 0
Top