Die burgerregteorganisasie AfriForum sê hulle het ’n klap in die gesig gekry toe hulle die afgelope week wou help om ’n reuse slaggat in Centurion te herstel en deur Tshwane se metropolisie weggejaag is.
Die betrokke slaggat, op die hoek van Kort- en Theodorestraat in Kloofsig, Centurion, is die afgelope ses maande glo reeds telkens by die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit aangemeld vir herstelwerk, maar niks is daaromtrent gedoen nie.
???????????????? ???????? ???????????? ???????????????????? ???????????? ???????????????????????????????????????????????? ???????????? ???????????????? ???????????? ????????????????????, ???????????????? ????????????????????????????????????????????????????????????????
Ungerer voeg by dat @AfriForum, waar moontlik, steeds met die Tshwane-metro wil en sal saamwerk. AfriForum sal egter sonder versuim… pic.twitter.com/LykcurFihQ— AfriForum (@afriforum) January 30, 2024
Moedelose inwoners van dié voorstad het AfriForum se Centurion-buurtspan na afloop van ’n suksesvolle gesamentlike skoonmaakprojek in die buurt op 20 Januarie om hulp met die herstel van dié reuse gat genader.
Die uitvoerende burgemeester van Tshwane, Cilliers Brink, se woordvoerder, Sipho Stuurman, het glo toegegee die slaggat is ’n kwessie waaraan aandag gegee moes word, maar sê AfriForum kan nie bloot uit hulle eie optree nie.
AfriForum sê in ’n verklaring terwyl ’n groep vrywilligers besig was om die slaggat te herstel, hulle werk kortgeknip is toe ’n groep werkers van die metro opdaag om die einste slaggat te herstel. Hulle het daarop aangedring dat AfriForum hul werk opskort.
“Terwyl Dewet Ungerer, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Suid, probeer het om die aangeleentheid uit te klaar, is die Tshwane-metropolisie (TMPD) ontbied en is die AfriForum-span gedwing om die toneel te verlaat.”
Ungerer sê die amptenare van die TMPD het gedreig om die vrywilligers in hegtenis te neem as hulle nie hul gereedskap oplaai en weggaan nie.
Ungerer sê dié optrede laat ernstige vrae ontstaan oor die metro se prioriteite. “AfriForum het begrip daarvoor dat die metro onder druk verkeer om die nodige dienste tydig en doeltreffend te lewer. Ons verstaan ook dat daar stelsels is waarvolgens hulle te werk gaan om hul werk gedoen te kry, maar vandag [Maandag] se optrede is ’n klap in die gesig van vrywilligers wat met die beste bedoelings vir dié stad as’t ware weggeboender is.”
Hy sê AfriForum is byna daagliks oor die hele land heen betrokke by die herstel van slaggate. “Daar word altyd toegesien dat die regte prosesse daarmee gevolg word en dat hoëgehalteprodukte vir die herstelwerk gebruik word. Daarbenewens word dié projekte met die nodige kundigheid aangepak.”
AfriForum sê die optrede van die metropolisie is vreemd, veral omdat die burgermeester en sy komitee ’n hand van samewerking na burgerlike organisasies uitgereik het. “Tog vind hierdie tipe insidente op grondvlak plaas, wat nie in die gees van samewerking is nie. AfriForum sal dié insidente bespreek met die burgemeesterskomiteelid Grandi Theunissen, en die burgemeester, Cilliers Brink,” het Ungerer gesê.
Volgens hom is AfriForum bewus van minstens 12 sinkgate in Centurion wat ook reeds ’n geruime tyd gelede by die metro aangemeld is, maar nog nie herstel is nie. “Daar is duidelik nie ’n tekort aan werk in dié metro nie, maar tog word gemeenskappe wat bereid is om self te mobiliseer en herstelwerk te verrig, afgejak. Die metro moet eerder hul benadering heroorweeg en hande vat met gemeenskapsorganisasies sodat daar saam aan ’n beter toekoms gebou kan word,” meen Ungerer.
Intussen het Brink op X gespog hoe daar in Hammanskraal slaggate en straatligte reggemaak word en die gras gesny word. Hy het ’n beroep op inwoners gedoen om hul munisipale rekeninge te betaal sodat die stadsraad meer basiese dienste kan lewer en ’n stad kan bou “wat vir almal werk”.
[IN PICTURES] Our teams on the ground in Hammanskraal delivering basic services such as patching of potholes, fixing streetlights & grass cutting. We call on residents to pay their municipal accounts so we can deliver more and build a city that works for all. @CityTshwane pic.twitter.com/IJE38BuhBU
— Mayor Cilliers Brink (@tshwane_mayor) January 30, 2024
“Ons spanne op die grond het vandag in Hammanskraal basiese dienste gelewer soos gras sny, slaggate lap en straatligte regmaak. Ek het ook die geleentheid gehad om met streekspersoneel en -bestuur in gesprek te tree wat uitdagings uitgelig het wat werknemers in die gesig staar, insluitend operasionele kwessies soos ’n oormatige afhanklikheid van kontrakteurs. Hierdie gesprekke is belangrik, veral as ons in die begrotingsbeplanningsiklus gaan,” het Brink Dinsdag in ’n verklaring gesê.
Ungerer sê dat AfriForum waar moontlik steeds met die Tshwane-metro wil en sal saamwerk. Hy sê AfriForum sal egter sonder versuim voortgaan om gemeenskapsprojekte aan te pak wat tot die voordeel van die gemeenskap strek.