AfriForum sit veldtog teen boelies by skole voort

  • 0

Die burgerregteorganisasie AfriForum het ’n beroep op ouers en onderwysers gedoen om proaktief op te tree teen boeliegedrag by skole.

Die organisasie het hulle teenboelieveldtog die afgelope week voortgesit met ’n besoek aan die Laerskool Boerefort in Pretoria. Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders, onderwysers en ouers in. Sedert hierdie veldtog in 2017 afgeskop het, is daar by byna 100 skole besoek afgelê.

AfriForum sê in ’n verklaring dit is belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan. “Elke leerder wat die teenboeliepraatjie bywoon, word toegerus met die kennis om as leier in situasies op te tree waar afknouery plaasvind.”

Die doel van die praatjies is om leerders te bemagtig. “Leerders stap ook uit met die nodige kennis om die verskil tussen boeliegedrag en konflik te verstaan, asook die verskillende vorme wat boeliegedrag kan aanneem te leer ken en wat hulle kan doen om boeliebestand te wees,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.

“AfriForum se teenboelieveldtog fokus op die boeliedriehoek of die driehoek van teistering, naamlik die boelie, die slagoffer en die omstanders, en beoog om leerders in al drie hierdie kategorieë toe te rus met die nodige vaardighede en kennis om boeliegedrag te stop,” sê Bräsler.

Volgens AfriForum is dit is ouers se werk om na hulle kinders te luister. “Wees bewus! Dit is belangrik om na ons kinders se geestelike welstand om te sien. Hulle is immers die leiers van die toekoms.”

AfriForum se teenboelieveldtog skep sedert 2017 regoor die land bewustheid en bemagtig laerskoolleerders om teen boeliegedrag op te staan en sélf ’n verskil in hul skole te maak.

Die organisasie het ook ’n teenboeliegids en ’n selfdoodbewusmakingsveldtog aanlyn op die internet beskikbaar gestel vir ouers en onderwysers om afknouery by skole te help hokslaan.

AfriForum het in 2020 nog ’n been van die teenboelieveldtog bekendgestel. Dié been fokus meer op hoërskole en die tema van selfdood. Afknouery en selfdood loop volgens AfriForum in baie gevalle hand aan hand en dit is belangrik om bewustheid hieroor te skep. 

Die oorsake van afknouery in skole word behandel, asook die sewe vaardighede wat kinders moet aanleer om teen boelies op te staan. Daar word voorts aandag gegee aan gedeelde leierskap en waarom dit ’n moontlike oplossing vir afknouery in skole is. Bekendes deel ook hulle stories waarmee die kinders kan identifiseer.

Afknouery is ’n wêreldwye probleem en Suid-Afrika is volgens AfriForum geen uitsondering nie. Volgens ’n Unesco-verslag word bykans 250 miljoen kinders en jongmense jaarliks wêreldwyd afgeknou. Navorsing toon dat boelies daarop uit is om sekere kinders te treiter en af te knou weens verskeie faktore, soos verskille in etniese en kultuurgroepe, liggaamlike voorkoms, of seksuele of geslagsoriëntasie.

Volgens die gids is baie ouers nie bewus daarvan dat hul kind moontlik ’n slagoffer van afknouery in die skoolomgewing kan wees nie – totdat dit te laat is. “Kinders wil nie altyd hul ouers vertel dat hulle afgeknou word nie, uit vrees vir wat die boelie aan hulle sal doen as hulle uitpraat, of omdat hulle skaam of verleë is daaroor.”

AfriForum sê hulle wil saam met skole ’n pad stap om afknouery te beveg en wil die hele skool (leerders, onderwysers, ouers en voogde) by die teenboelieveldtog betrek sodat hulle mekaar kan bemagtig om ’n verskil in die samelewing te maak.

Vir meer inligting rondom AfriForum se teenboelie- en selfdoodbewusmakingsveldtog besoek www.teenboelie.co.za en laai die teenboeliegids gratis af vir meer inligting.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top