AfriForum, Solidariteit, EFF en ActionSA sing in een koor oor Roelf Meyer se aanstelling as ambassadeur in die VSA

  • 0

Die aanstelling van die veteraanpolitikus Roelf Meyer as Suid-Afrika se nuwe ambassadeur in die VSA het ’n golf van lof sowel as kritiek onder Suid-Afrikaners uitgelok.

Terwyl talle mense Ramaphosa se besluit verwelkom, het die linkse en regse pole in die Suid-Afrikaanse politieke toneel die aanstelling in ’n vreemde eensgesindheid veroordeel.

In ’n ongewone samesang het die EFF, Solidariteit en AfriForum in een koor saam gesing om die aanstelling te kritiseer. Hulle beskuldig Meyer almal daarvan dat hy die land uitverkoop het.   

“Die laaste ding wat die land nou nodig het, is dat nog ’n ANC-kader as Suid-Afrika se ambassadeur in die VSA ontplooi word. Roelf Meyer is ’n ANC-kader,” het AfriForum se uitvoerende hoof, Kallie Kriel, op X geskryf.

Die EFF-heethoof-parlementslid Carl Niehaus het op sy beurt gesê Meyer se lewenslange missie was om wit rykdom en bevoorregting te beskerm. Volgens hom het Ramaphosa hierdie apartheid-era-figuur gestuur om die land voor Donald Trump en sy MAGA-ondersteuners te verteenwoordig. Hy meen  Meyer sal nie die land se soewereiniteit verdedig nie, maar kompromieë aangaan “en ons uitverkoop, net soos hy nog altyd gedoen het”.

Kriel eggo Niehaus se sentimente vanuit die regterhoek en sê: “Sy geskiedenis toon dat hy iemand is wat bereid is om homself dramaties te herposisioneer om sy eie persoonlike belange te pas. Sy lidmaatskap van die ANC is ’n goeie voorbeeld. Sy verskuiwing tussen partye en sy uiteindelike belyning met die ANC weerspieël nie standvastigheid nie.”

Meyer (78) is ’n voormalige minister van verdediging en ’n sleutelonderhandelaar in Suid-Afrika se oorgang na demokrasie.

Sy aanstelling kom nadat die pos sedert 14 Maart 2025 vakant gelaat is ná die uitsetting van voormalige ambassadeur Ebrahim Rasool, wat tot persona non grata verklaar is nadat hy die administrasie van Donald Trump gekritiseer het.

Na Rasool se uitsetting het Ramaphosa die voormalige adjunkminister van finansies, Mcebisi Jonas, in April as ’n spesiale gesant na die VSA aangestel om bilaterale, handels- en diplomatieke prioriteite te bestuur, terwyl die permanente pos vakant gebly het. 

Die Amerikaanse regering het Jonas egter ’n diplomatieke visum geweier en sy geloofsbriewe verwerp, met verwysing na vorige kritiese opmerkings waarin hy Trump na bewering in 2020 ’n "rassis", "homofoob" en "narsistiese regsgesinde" genoem het.

Dirk Herman van Solidariteit het hom ook by die kritici geskaar. Hy sê Solidariteit en baie Afrikaners het ernstige voorbehoude oor Roelf Meyer en sy rol in die oorgangsproses. “Hy is ’n verdeeldheidsfiguur onder Afrikaners.”

Volgens Herman bestaan daar ’n persepsie dat Ramaphosa ’n Afrikaner-kader in sy binnekring ontplooi het om die Amerikaners te neutraliseer. “Dit gaan nie werk nie.”

Die leier van ActionSA, Herman Mashaba, het hom ook by die EFF en die AfriForum-span geskaar in sy kritiek.

Hy het op X gesê Ramaphosa het die land amptelik teruggegee aan die Nasionale Party en “ons vryheid en ons land se soewereiniteit heeltemal in die gedrang gebring”.

Die DA meen Meyer se aanstelling is ’n goeie keuse. Die DA se woordvoerder oor internasionale betrekkinge, Ryan Smith, sê Meyer het die nodige vaardighede om die handels- en diplomatieke verhouding met die VSA te herstel en dat hy ’n “konsekwente en betroubare handelsvennootskap” vir die Trump-administrasie moet verseker.

Business Leadership South Africa (BLSA) verwelkom die aanstelling in ’n verklaring. BLSA sê Meyer se ervaring met dialoog, versoening en nasiebou maak hom die regte persoon om bande met die VSA te versterk, veral gegewe die belangrike ekonomiese verhouding (handel, beleggings en Amerikaanse maatskappye in Suid-Afrika).

“Hy het die volwassenheid en politieke skerpsinnigheid getoon wat nodig is om die bande tussen Suid-Afrika en die Verenigde State te verbeter en te versterk.”

Die leier van die United Democratic Movement (UDM), Bantu Holomisa, het Meyer gelukgewens met sy aanstelling. “Baie geluk, Roelf. Jy het die ervaring. Werk daaraan om ’n Bi-Nasionale Kommissie op dieselfde skaal as dié van Al Gore / Thabo Mbeki te vestig,” het Holomisa op X geskryf.

Ramaphosa het die openbare kritiek teen Meyer se aanstelling verwerp. Hy het Woensdag tydens die Nasionale Plaaslike Ekonomiese Ontwikkelingsberaad gesê Meyer is ’n patriotiese Suid-Afrikaner wat homself onderskei het in die verskeie rolle waarin hy gedien het. “Hy is goed gekwalifiseerd om sy nuwe rol as Suid-Afrika se ambassadeur in die Verenigde State uit te voer.”

Volgens Ramaphosa lê hy nie klem op Meyer se politieke affiliasie nie, en as diplomaat moet hy natuurlik so neutraal as moontlik wees.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top