Foto: AfriForum-webwerf, https://www.afriforum.co.za/afriforum-youth-lays-charges-eff-two-campuses/
Die geveg oor Afrikaans aan Suid-Afrikaanse universiteite het opnuut opgevlam nadat AfriForum se jeugorganisasie klagtes teen die EFF ingedien het omdat die EFF volgens hulle teenstrydig met sekere universiteite se taalbeleid optree.
AfriForum en die EFF verteenwoordig twee uiteenlopende faksies in die Suid-Afrikaanse politiek en het al verskeie kere oor die taalkwessie gebots.
In die jongste voorval het AfriForum Jeug die afgelope week klagtes teen die EFF ingedien op sowel die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus (NWU-Pukke) as die Universiteit van die Vrystaat se Bloemfonteinkampus (UV-Kovsies).
Volgens ’n verklaring op AfriForum se webwerf handel die klagtes onderskeidelik oor die EFF se uitlatings oor Afrikaans op die Puk-kampus en die voorsitter van Kovsies se studenteraad (SR), Sonwabile Dwaba, se uitlating dat wit studente en hul erfenis nie meer by Kovsies welkom is nie en dat die EFF nou daardie kampus oorgeneem het.
Volgens AfriForum het die EFF ’n stalletjie by die Puk se onderwyskampus opgeslaan en plakkate met uitlatings soos “Fotsek (sic) Afrikaans” en “down with institutional racism” opgesit.
AfriForum Jeug se Pukke-tak het die EFF volgens die organisasie hieroor uitgevra, waarna hulle glo aangedui het dat die kampusstudenteraad (KSR) hul toestemming gegee het om dié plakkate op te sit.
Die betrokke KSR-lid het na bewering aan ’n lid van AfriForum Jeug gesê dat sy hou van wat die EFF doen en dat sy hulle toestemming vir die stalletjie gegee het. AfriForum Jeug se Pukke-tak het daarna ’n klagte by Dalena d’ Assoville, KSR-voorsitter, gelê en reeds terugvoer van haar ontvang.
“Die EFF se optrede is teenstrydig met die huidige taalbeleid van die universiteit en dit is kommerwekkend dat hierdie tipe uitlatings al hoe meer op kampus gemaak word. Die kampusbestuur moet hierdie situasie met die nodige omsigtigheid benader en toepaslik teen die betrokke politieke party optree,” sê JP Nel, voorsitter van AfriForum Jeug se Pukke-tak.
Volgens AfriForum toon die uitlatings wat Dwaba gemaak het duidelik dat hy ’n politieke agenda het. Hulle sê hierdie tipe uitlatings skep groot kommer onder wit studente op die betrokke kampus.
“Studente voel al hoe meer hoe die politieke druk op die Kovsies-kampus hulle verdryf en vervreem. Wit studente het ook ’n grondwetlike reg op tersiêre onderrig, asook die grondwetlike reg op die beskerming van hul erfenis. Dít word egter deur die SR-voorsitter geminag,” sê Chantelle du Preez, voorsitter van AfriForum Jeug se Kovsies-tak.
AfriForum Jeug sê hulle is teen hierdie tipe uitlatings gekant en gaan die nodige prosesse volg deur klagtes by die onderskeie SR-kantore in te dien en sal die proses deurlopend moniteer. Hulle het ook ’n beroep op studente gedoen om betrokke te raak op hulle onderskeie kampusse en sulke gedrag teen te staan en sodoende ’n wesenlike verskil te maak waar hulle studeer.
Op sosiale media het lede van die publiek uiteenlopend reageer op die jongste voorval.
Buro: NB