AfriForum wil wêreldwyd kla oor Suid-Afrika

  • 0

Die burgerregtegroep AfriForum sê hulle gaan ’n internasionale veldtog begin vir die beskerming van burgerregte in Suid-Afrika. Die organisasie het ’n verslag vrygestel getiteld “World must know – The persecution of minority communities in South Africa” waarmee hulle deur die wêreld wil toer.

Die veldtog sal in Februarie met ’n besoek aan die VSA afskop. Dit sal voortgesit word met besoeke aan lande in Suid-Amerika, Europa, die res van Afrika, Asië en Australië. AfriForum is ook van voorneme om die Verenigde Nasies (VN) te betrek deur met forums en rolspelers binne daardie organisasie te skakel met wie daar nie in die verlede gekorrespondeer is nie.

AfriForum beskuldig die ANC daarvan dat hulle die 1994-ooreenkoms misken wat handel oor die beskerming van eiendom en taal van minderheidsgroepe. Die bestuurshoof van AfriForum, Kallie Kriel, sê die toer is die laaste uitweg om die wêreld bewus te maak van wat in Suid-Afrika gebeur.

Brandpunte waarop daar in die besonder gefokus sal word, is onder andere onteiening sonder vergoeding, plaasmoorde, haatspraak en die Suid-Afrikaanse regering se heldeverering van beweerde menseregteskenders.

Kriel het tydens ’n nuuskonferensie in Pretoria spesifiek na die toekomstige gevolge van onteiening sonder vergoeding verwys, asook die ooreenkoms wat in 1994 bereik is. Hy sê onteiening sonder vergoeding is nie in belang van enigiemand in die land nie. “Daar mag voorgehou word dat dit ’n pro-armes-beleid is, maar in werklikheid is dit tot nadeel van elke individu en die hele land.”

Hy het verwys na wat in lande soos Venezuela en Zimbabwe gebeur het, waar werkloosheid tot meer as 90% toegeneem het en die ekonomie in duie gestort het.

Kriel het hom tydens die perskonferensie vervies vir een van die joernaliste wat in vraetyd gesê het onteiening sonder vergoeding is ’n internasionale praktyk. Hy wou van die joernalis weet of hy ’n joernalis of ’n aktivis wil wees.

AfriForum sê hulle veldtog berus op drie bene, naamlik:

  • Bewusmaking oor die situasie in Suid-Afrika
  • Steunwerwing onder meningsvormers, regerings en ander besluitnemers
  • Mobilisering van die Suid-Afrikaanse diaspora en buitelanders wat ’n belang in Suid-Afrika het om tot sinvolle aksie oor te gaan.

Die verslag fokus op hoe minderhede se regte volgens AfriForum op verskeie terreine in die land geskend word. Dit bevat inligting oor en voorbeelde van die regering se persepsie van demokrasie, minderheidsregte en gelykheid, haatspraak, eiendomsreg en die uitfasering van Afrikaans en ander minderheidstale in die openbare sfeer.

Kriel het gesê AfriForum het probeer om probleme plaaslik deur gesprekvoering op te los en sal voortgaan om dit te doen, maar dit is duidelik dat die ANC nie minderhede respekteer nie, maar eerder ignoreer en vals beskuldig. “Die ANC stel nie daarin belang om die land vorentoe te neem nie en luister nie na enige voorstelle of argumente nie. Ons sal moet proaktief optree om te voorkom dat beleggers Suid-Afrika op groot skaal verlaat en die land ten gronde gaan.”

Ernst Roets, hoof van beleid en aksie by AfriForum, sê dit is belangrik om te verduidelik wat die ANC se siening rondom grondhervorming is. “Die ANC-beleid van herverdeling is rassisties en daarop gemik om grond van wit mense weg te neem en aan swart mense te gee.”

Volgens hom pas die ANC glad nie die beleid van restitusie toe waarmee AfriForum ook saamstem nie. Dit behels dat historiese ongeregtighede reggestel word en dat grond teruggegee word aan mense wat onregmatig daarvan ontneem is of dat hulle daarvoor vergoed moet word.

Buro: MvH
  • 0
Top