Afrikaans as akademiese taal durf nie verdwyn

  • 0

Die verdwyning van Afrikaans as akademiese taal sal ’n leemte laat wat nie weer gevul gaan word nie.

So waarsku die historikus Fransjohan Pretorius. Hy het die waarskuwing gerig tydens die ontvangs van die Jan H Maraisprys vir ’n uitstaande bydrae tot Afrikaans as wetenskapstaal.

Pretorius is een van Suid-Afrika se bekendste historici. Hy het oor die afgelope 45 jaar honderde publikasies geskryf, van wetenskaplike artikels tot bydraes in koerante.

Vir sy werk is hy deur die Nasionale Navorsingstigting as ’n B1-navorser gegradeer wat internasionale erkenning geniet.

Hy word beskou word as ’n vooraanstaande internasionale kenner van die gebied.

In 1998 het hy die Stalsprys vir Historiese Wetenskappe van die Suid-Afrikaans Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang en in 2001 ’n prestigeprys van die FAK.

Die jaarlikse Jan H Maraisprys is in 2015 geskep kragtens ’n besluit van Het Jan Marais Nationale Fonds, Naspers en die Universiteit Stellenbosch.

Al drie instellings het hulle ontstaan te danke aan die versiende steun van Johannes Henoch Marais (1860–1915) van Stellenbosch wat saam met sy broers in die 1870’s hulle fortuin op die Kimberleyse diamantveld gemaak het. Jannie Marais was ’n groot ondersteuner van Afrikaans as ’n akademiese en literêre taal.

Pretorius het tydens die prysoorhandiging gesê daar moet gewaak word dat Afrikaans se meesterverhaal nie word soos ’n klippie wat jy in ’n plaasdam gooi nie. “Dit maak vir ’n tyd lank rimpels maar mettertyd skuif die rimpels skuif uit en verdwyn.”

Volgens Pretorius is hy dankbaar oor die suksesvolle woordfeeste wat gehou word, maar dit is nie genoeg nie. As nagraadse Afrikaans aan universiteite verdwyn, sal dit ’n leemte skep wat nie weer gevul sal kan word nie. “Ons meesterverhaal mag nie verdwyn nie,” het hy gesê.

Pretorius is in 1949 in Johannesburg gebore. Hy is ’n oud-Tukkie wat nagraads verder aan die Rijksuniversiteit Leiden in Nederland studeer en sy doktorsgraad in 1989 aan Unisa behaal het. Hy het sy loopbaan as akademikus begin aan sy alma mater, waarheen hy in 2014 teruggekeer het na 12 jaar in die Departement Geskiedenis van Unisa. Aan die einde van Junie 2014 het hy met amptelike pensioen by die Universiteit van Pretoria uitgetree.

Hy tree ook gereeld in radioprogramme op. Sy werk oor kommandolewe tydens die Suid-Afrikaanse oorlog (voorheen genoem die Anglo-Boereoorlog) word internasionaal erken as een van die belangrikste ondersoeke na daardie pynlike tydperk van die land se geskiedenis.

Verskroeide aarde, die ryk-geïllustreerde boek wat daarop gebaseer is en ook in Engels verskyn het, het breë aandag getrek. Hy word wêreldwyd as ’n deskundige oor die laaste fase van Britse imperiale uitbreiding erken.

Die geleentheid is deur onder andere die rektor van die Universiteit Stellenbosch, Wim de Villiers, bygewoon.

Die prys vir ’n lewensbydrae tot akademiese Afrikaans word geadministreer deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.

Die keurkomitee van vooraanstaande akademici uit verskillende dissiplines het vanjaar bestaan uit Andreas van Wyk (Stellenbosch), Albert Grundlingh (Stellenbosch), Christof Heyns (Pretoria en Genève), Debra Meyer (Johannesburg), Piet Steyn (Stellenbosch) en Johan van Zyl (vroeër van Sanlam).

Die voorsitter van die keurkomitee, Andreas van Wyk, het tydens die prysoorhandiging gesê in ’n tyd soos dié wanneer Afrikaans op akademiese vlak deur enge en kortsigtige besluite deur verskillende owerhede en instellings bedreig word, moet Afrikaans se ongelooflike prestasies erken en gevier word.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top