Afrikaanse en Engelse leerders betoog saam vir Afrikaans

  • 0

 

Foto: Joseph Chirume, GroundUp

Ontevrede ouers van minstens drie plattelandse dorpe in die Noord- en Oos-Kaap is woedend omdat hulle kinders nie meer in Afrikaans onderrig word nie. Sommige van die skole is oorwegend Afrikaans maar moet klaarkom sonder ’n Afrikaanse onderwyser.

In die jongste voorval dreig Afrikaanse ouers van ’n hoërskool in Paterson naby Port-Elizabeth in die Oos-Kaap om al die dorp se skole te beset totdat die LUR vir onderwys die dorp besoek.

Vroeër die maand het ontevrede ouers by die Hoërskool Phakamisani in Hanover in die Noord-Kaap met kettings by die skool opgedaag en die skool se hekke gesluit.

Ouers en leerlinge van die Sandisulwazi Secondary School in Paterson het Dinsdag vir ’n tweede dag die hoërskool se hekke probeer sluit uit protes teen die afwesigheid van ’n Afrikaanse onderwyser.

Dieselfde situasie het hom twee weke gelede by die Laerskool Kareefontein in Venterstad in die Oos-Kaap afgespeel waar ouers ook genoeg gehad het van vakante poste wat nie gevul is nie.

Al drie skole onderrig Xhosa en Afrikaanse kinders. Die Hoërskool Phakamisani in Hanover het twee taalstrome naamlik Engels wat hoofsaaklik deur Xhosasprekende kinders bygewoon word, en ’n Afrikaanse stroom wat bygewoon word deur bruin leerders. Daar is ongeveer  300  leerlinge in die skool waarvan tweederdes Afrikaanssprekend is. Daar is geen wit leerders in die skool nie.

Paterson se skool het in Mei verlede jaar laas ’n permanente Afrikaans-onderwyser gehad. Die hele graad 10-klas het die vak Afrikaans verlede jaar gedruip wat ’n groot invloed op die skool se slaagsyfer gehad het. Leerlinge speel glo tydens die Afrikaans-periode buite om die tyd om te kry.

In die klein karoodorpie Hanover het die Xhosa en Afrikaanse kinders saam voor die skool betoog teen die tekort aan Afrikaanse onderwysers. Die Xhosa kinders in die Engelse stroom sê hulle het uit simpatie saam met die Afrikaansstroom kinders voor die skool betoog. Die leerlinge het plakkate in Afrikaans en Engels rondgeswaai om hulle ongelukkigheid oor die situasie te kenne te gee

Volgens ’n ouer van die skool is hulle griewe as gevolg van ’n tekort aan onderwysers en spesifiek ’n Afrikaanse onderwyser.

Toe die skool in Januarie geopen het was daar nege permanente onderwysers vir die 100 kinders in die Engelse stroom, maar slegs twee onderwysers vir die 200 kinders in die Afrikaanse stoom. Op die oomblik is daar geen Afrikaanse onderwyser nie.

Volgens een van die ouers het die departement van onderwys aan hulle gesê daar is nie geld om onderwysers aan te stel nie. Hulle is glo aangesê om aan te gaan met wat hulle het.

Een van Hanover se inwoners het op Facebook geskryf die Engelse onderwysers moet nou ook die Afrikaanse kinders onderrig. Om die taalprobleem op te los is glo besluit die leerlinge moet in twee sessies per dag skoolgaan wat beteken die hoërskoolleerlinge moet tevrede wees met slegs drie uur skool per dag.

Daar is glo destyds belowe daar sal nie probleme met die saamsmelting wees wat Afrikaans betref nie. Die ouers sê egter hulle het nou alles probeer en genoeg is genoeg. Hulle wil die skool gesluit hou totdat die probleem opgelos is en ’n onderneming van onderwysdepartement het dat daar aandag gegee sal word aan hulle griewe.

Geoffrey van der Merwe, woordvoerder van die Noord-Kaap se onderwysdepartement, het volgens die koerant Volksblad gesê daar is nie geld om bykomende onderwysers aan te sel nie omdat hulle geen bykomende fondse van die nasionale tesourie ontvang nie. Die provinsiale tesourie is glo ook nie bereid om meer geld beskikbaar te stel  nie.

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top