Afrikaanse kerke loop leeg

  • 0

Twee van die groot Afrikaanse kerkgenootskappe se lidmaatgetalle het verlede jaar weer skerp gedaal.

Die NG Kerk het in een jaar bykans 21 000 belydende lidmate verloor terwyl die Gereformeerde Kerke oor die laaste 10 jaar meer as 16% van sy lidmate verloor het.

Die NG Kerk se amptelike koerant, Kerkbode, berig dit bring die aantal belydende lidmate van die NG Kerk op 691 050 te staan. Ook dooplidmate (lidmate wat nog nie belydenis van geloof afgelê het nie) het gedaal met 1 966 en staan nou op 189 439.

In 2003 het die NG Kerk ondanks die dalende lidmaatgetalle nog meer as ’n miljoen gedoopte en belydende lidmate gehad.

Die getal gemeentes en veral kerkraadslede het die afgelope jare ook drasties afgeneem. Sedert 1985 het die NG Kerk meer as ’n halfmiljoen van sy lidmate verloor wat genoeg is om 900 gemeentes van 500 lidmate elk vol te maak.

“Dit is steeds ’n geval van minder en ouer lidmate,” berig Kerkbode na aanleiding van die jongste statistiek oor die getal lidmate in die NG Kerk.

Die kerk se leiers meen egter nie dit is iets om oor “kleinserig” te wees nie.  Die voortgesette afname in lidmate moet volgens dr Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk, gesien word “binne ’n raamwerk van redes”.

Hy sê emigrasie en ’n dalende geboortesyfer in tradisionele voedingsgemeenskappe van die NG Kerk dra daartoe by dat die aantal belydende lidmate verlede jaar met meer as 20 000 afgeneem het.

Claassen meen die fokus verskuif nou na die verskyning later vanjaar van Kerkspieël wat na die tendense agter die data kyk. Dié gemeente-opname word elke vier jaar gedoen en die doel is om ’n beeld van elke gemeente se huidige bedieningspatroon en situasie te kry.

Volgens ’n meningspeiling op Kerkbode se elektroniese koerant word emigrasie egter deur slegs vier persent van die lidmate wat tot dusver aan die peiling deelgeneem het as rede aangevoer vir die dalende getalle.

Die meeste van die mense wat aan die peiling deelneem sê die grootste rede is omdat mense nie meer dink in terme van lidmaatskap tot ’n spesifieke kerk nie.

Die twee ander groot redes waarom so baie mense die NG Kerk verlaat is volgens Kerkbode se peiling die feit dat mense nie meer die kerk as relevant beskou nie en die kerk se hantering van die gay-debat. Botsende standpunte oor geloofskwessies is nog een van die redes wat aangevoer word.

Ds Cassie Aucamp van die Gereformeerde Kerke het aan Netwerk24 gesê die aantal lidmate van dié kerkgroep neem ook geleidelik af. Die kerk se lidmate het van 101 698 in 2009 tot 85 155 in 2016 gedaal.

Hy het aan Netwerk24 gesê die kerk moenie getalle najaag nie en ook nie met allerlei bykomstighede die guns van mense probeer wen nie. “Tog moet die kerk hand in eie boesem steek as ons merk dat mense toenemend die kerk verlaat.”

Op Kerkbode se Facebook-blad het lidmate en predikante uiteenlopend reageer op die kerkleiers se redes waarom so baie lidmate die kerk elke jaar verlaat. ’n NG-predikant, Deon van Niekerk, sê nie in een van die kerkleiers se reaksies in Kerkbode verwys na sekularisasie, of die afkeur van fundamentalisties georiënteerde lidmate nie. “Asof emigrasie of verkleinde aanwas die hoofredes is. Asof verkleinde bediening van groepe die probleem gaan aanspreek. Mense kom nie meer kerk toe nie omdat hulle nie meer wil nie. Die relevansie van die kerk is in gedrang,” skryf Van Niekerk.

Nóg ’n NG dominee, Gerhard Pietersen, sê op Kerkbode se Facebook-blad dit is ’n oorwegend  wit Afrikaanse kerk wat ’n minderheidsgroep bly bedien en sukkel om aan te pas.

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top