Afrikaanse onderrig laat vonke weer spat

  • 0

Moedertaalonderrig en Afrikaans as medium van onderrig het weer eens in die kollig beland nadat die LUR vir onderwys in Gauteng, Panyaza Lesufi, op Twitter uitgevaar het teen die bou van ’n Afrikaanse universiteit.

Die DA en die VF+ het die afgelope week albei Lesufi se uitlating ten sterkste veroordeel. Beide die twee partye beskuldig hom daarvan dat hy besig is om ’n veldtog teen Afrikaans te voer.

Die jongste storm oor Afrikaans as onderrigtaal volg nadat Lesufi op Twitter gesê het die bou van nuwe persele vir Sol-Tech wat in Afrikaans tersiêre onderrig verskaf, is uit woede gebore nadat universiteite hulle taalbeleid verander het om meer inklusief te wees.

Foto: YouTube

In ’n onderhoud met CapeTalk het Lesufi gesê dit is belangrik om te verstaan waar ons vandaan kom en dat ’n sekere taal gebruik is om mense in die land te onderdruk.

Hy het ontken dat hy anti-Afrikaans is en gesê hy glo alle tale moet gelyk behandel word. “Ons sê dit nie omdat ons Afrikaans wil aanval nie maar omdat die boodskap dat net een taal nodig is, verkeerd is.”

Die DA se nasionale woordvoerder, Refiloe Nt’sekhe sê egter die publiek raak keelvol vir Lesufi se rassisme.

“Jy behoort te fokus op die verbetering van Gauteng se onderwysstelsel en die skep van broodnodige geleenthede vir almal om opgevoed te word in hulle moedertaal, en nie om verdeeldheid verder aan te moedig nie,” het Nt’sekhe teruggekap op Twitter.

Die DA sê moedertaalonderrig gaan nie oor kleur nie maar oor gehalte-onderwys. Nt’sekhe sê om dit te bevorder, is nie gelyk aan ’n rasgedrewe onderwysstelsel nie. Hy sê die DA glo baie sterk aan moedertaalonderrig, hetsy in Afrikaans of enige van die land se ander tien inheemse tale. Daar is geen plek vir ’n rassestryd in ons onderwysstelsel nie, sê die DA.

Lesufi is ook skerp gekritiseer deur die VF+ en Solidariteit.

Die VF+ sê hulle wil ’n ernstige waarskuwing aan Lesufi rig om sy gereelde tirade teen Afrikaans en sy teistering van Afrikaanstalige gemeenskappe te staak. “Dit veroorsaak onnodige polarisasie tussen gemeenskappe en kan eindelik ernstige gevolge hê.”

Die party sê sy optrede, alhoewel oënskynlik kinderagtig en tekenend van iemand met ’n ongesonde obsessie, kan soos in die geval van die Hoërskool Overvaal heeltemal handuit ruk en tot geweld lei wat kinders, onderwysers en ouers se lewens in gevaar kan stel.

“Die LUR maak ’n gewoonte daarvan om Afrikaans as onderrigtaal te assosieer met rassisme, veral op Twitter. Daar was talle boodskappe van Lesufi waar hy onder meer met ander persone saamstem dat Afrikaans ’n probleem op skole is en dat weggedoen moet word met die taal.”

Volgens die VF+ is dit duidelik Lesufi het ’n probleem teenoor Afrikaans en sê hy moet tot orde geroep word. Die VF+ beplan tans stappe teen hom en sê hulle sal weldra ’n verklaring in dié verband uitreik.

Die VF+ het vroeër ’n klag teen Lesufi by die integriteitskommissaris van die Gautengse wetgewer ingedien nadat hy in ’n toespraak na wit kinders verwys het as “klein basies”, ’n term wat die kinders outomaties as rassiste brandmerk. Daar word nog gewag vir die uitspraak van die kommissaris.

Lesufi ontken dat hy teen Afrikaans gekant is. Hy het op Twitter ’n foto van ’n Engels-Afrikaans woordeboek geplaas en sê hy het vir Afrikaanse lesse ingeskryf om sy Afrikaans te verbeter. “Ek voel ek moet my Afrikaans opknap sodat ons saam kan werk vir ’n werklik nierassige Suid-Afrika”.

Sommige mense het hom hiervoor geprys maar ander het hom skerp aangeval en gesê hy verkoop die struggle teen Afrikaans uit.

Die Solidariteit Netwerk het Maandag amptelik begin met bouwerk aan die nuwe Sol-Tech-kampus. Die bouprojek gaan sowat R300 miljoen kos en gaan volgens Solidariteit in die geheel deur die gemeenskap gefinansier word. Die ontwikkeling word gedoen deur Kanton, Solidariteit se nuwe eiendomsmaatskappy.

Die oprigting van die kampus is die eerste groot projek van die opleidings- en werkprojekte van R4,5 miljard wat die Solidariteit Netwerk in die volgende vyf jaar wil aanpak.

Die volgende groot projek is die bou van die Akademia-kampus waar wêreldklas universiteitsopleiding met Afrikaans as medium aangebied gaan word.

  • Kyk hier na die volledige video van die bouprojek.
Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top